Besoekers beseer in ontploffing by Pta-steengroef

Paramedici op die toneel by die steengroef. Foto: Emer-G-Med

Paramedici op die toneel by die steengroef. Foto: Emer-G-Med

Altesaam 17 mense, waaronder skoolkinders, is Donderdag beseer toe ʼn beheerde ontploffing by ʼn oop steengroef in Pretoria skeefgeloop het.

Paramedici van Netcare 911 en Emer-G-Med is omstreeks 15:00 na die sementvervaardiger AfriSam se Ferro-aanleg in Derdepoort ontbied toe toeskouers wat die steengroef besoek het, deur vlieënde klippe getref is.

“Ons hou al jare lank gereeld opedae wat dien as loopbaanleiding vir kinders en om die gemeenskap van ons bedrywighede bewus te maak,” het Maxine Nel, AfriSam se hoof van korporatiewe kommunikasie, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê deel van die opedae sluit ʼn toer van die aanleg in, wat ook ʼn demonstrasie van ʼn ontploffing behels. “Ons neem toergroepe na ʼn veilige gebied waar hulle op ʼn afstand na die beheerde ontploffing kan kyk. Iets het egter met die ontploffing foutgeloop wat veroorsaak het dat die klippe verder as beplan opgeskiet is.”

Nel het gesê ʼn behoorlike ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal wat foutgeloop het. “Ons het die afgelope jare verskeie suksesvolle opedae gehou sonder enige voorvalle. Die maatskappy is baie veiligheidsbewus en dié fratsongeluk word ernstig geneem.”

Volgens Nel is die maatskappy se noodplan dadelik ná die ongeluk in werking gestel en hulp is ontbied.

Die 17 mense is deur paramedici op die toneel behandel en na twee hospitale in die omgewing geneem vir verdere behandeling. “Vyftien van die mense is reeds teen Donderdagaand ontslaan. Twee is nog in die hospitaal vir behandeling en waarneming. Hulle is in ʼn stabiele toestand,” het sy gesê.

Stephan Olivier, AfriSam se uitvoerende hoof, en afgevaardigdes vergader Vrydag met leiers in die gemeenskap om die voorval te bespreek.

“Veiligheid is vir ons by AfriSam ʼn hoë prioriteit en ons neem die veiligheid van ons personeel, kontrakteurs en die publiek baie ernstig,” het hy gesê. “Dié was ʼn rampspoedige ongeluk en ons eerste prioriteit in dié stadium is om seker te maak dat die beseerdes die beste moontlike mediese behandeling ontvang. AfriSam se bestuurspan gee ernstig hieraan aandig. Ons gedagtes en gebede is met die beseerdes en hul families.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wern ·

Dankie Afrisam dat julle kinders die geleentheid gee om dit te sien en dat julle betrokke is by loopbaanontwikkeling. Moet asseblief nie hierdeur afgeskrik word en dit stop nie, julle het voorsorg getref, en die was seker net n freak ongeluk waaruit julle nou kan leer en voortgaan hiermee op n selfs nog veiliger manier. Spoedige herstel aan die beseerdes.

Buitestander ·

Die ladings is seker deur ‘n regstelende aksie aanstelling geplaas.
Almal moet som nou opgelei word.

Stephanie ·

Hierdie voorval is regtig jammer.
Ons firma werk (kontrakteur) soms by Afrisam en hulle is regtig streng oor veiligheid.
n Vinnige en voorspoedige herstel vir almal wat seer gekry het. Baie dankbaar dat dit klink of niemand te ernstig beseer is nie. Ek hoop die twee in die hospitaal is ook nie ernstig beseer nie. Sterkte

KarooKlong ·

Soos hulle sê: dit was ‘n frats ongeluk.
Nie genoeg rede om op te hou met die opedae nie.

Cherokee ·

Die ‘beheerde’ ontploffing was dus buite beheer en dit blyk asof niemand poog om te verduidelik nie. Die ‘default’ afleiding is dat te veel plofstof gebruik is deur ‘n onkundige.

Oom Walker ·

Daar bestaan nie iets soos ‘n fratsongeluk nie – iemand het iewers iets verkeerd gedoen!

Strepies ·

Oom Walker, jy heeltemal reg. My pa het n sê-ding wat lui: “Daar bestaan nie so ‘n ding soos n ongeluk nie. Daar is altyd n vorm van nalatigheid betrokke.”

Jos ·

Hierdie was geen fratsongeluk nie want daar is geen onvoorsiene faktor hier betrokke nie. Dit was ‘n menslike fout want dit was ‘n beheerde ontploffing wat deur mense opgestel is en êrens het hulle fouteer.

Chris W ·

Oom Walker en Jos,ek stem saam.Plofstof is nie speelklei nie .Doen jy iets kleins verkeerd is daar probleme en klaar!Ek is bly daar is niemand dood nie.

Johan ·

Wag maar vir die dept van mineraal en energie sake (maw die myninspekteurs) om hulle ondersoek af te handel.
Daar sal streng opgetree word teen alle betrokkenes wat wette oortree het.
Die is nie grappies nie.

Johan ·

As jy plofstof ken, behoorlik ken, weet jy dat Russel se wet hier geld nl. Murphy is ‘n optimis. Ou gesegde “plofstof is veilig totdat jy vergeet dit is gevaarlik”. Het baie persoonlike ondervinding met hierdie materiale en ek is seker dit was ‘n ongeluk (in hierdie bedryf word reëls streng gevolg). Sterkte aan die maatskappy met die ondersoek wat kom.

Chris Ws ·

Lance dis moontlik maar Ek vermoed iets anders is verkeerd gedoen hier.Ons sal maar moet wag vir die ondersoek om afgehandel te word.Dat iemand se kop gaan rol is gewis.

Wat ek verstaan ·

Dis groot moontlikheid dat hulle te veel springstof in die gate geplaas het, op te min stemming in gesit nie. Moontlik ook los klippe op die area gewees. Moontlik was hulle veilige sone te klein, en nog nooit agter gekom tot nou toe nie. Die burden en spacing kon te klein gewees het, dus is dit moontlik dat hulle wiskundige somme verkeerd was, en dis so aangejaag het. Die timing of die initiation point kon wel ook verkeerd gewees, dalk nie volgens prosedure nie. Maar dis korrek, die DMR behoort al reeds ‘n voorlopige ondersoek te gedoen het, en moontlik is hulle blasting gestop, tot hulle die nogide regstellende aksies implementeer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.