Besoekers van hoërisikolande die deur gewys

(Foto: Andre Tan/Unsplash.)

Talle internasionale vlugte wat van gister af in Suid-Afrika van hoërisikolande af aangekom het, se passasiers word nie toegelaat om die land te betree nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het gesê die hoërisikolande is Suid-Korea, Italië, Spanje, Iran, Duitsland, die VSA, die Verenigde Koninkryk, China en Frankryk.

“Indien ʼn vliegtuig van een van hierdie lande af in Suid-Afrika aankom, sal die Lugverkeer- en navigasiedienste (ATNS) tesame met die Lughawensmaatskappy (Acsa) prosesse volg waarvolgens die vliegtuig na ʼn afgeleë parkeerterrein herlei sal word en die nodige owerhede in kennis gestel sal word.”

Volgens Mbalula sal passasiers wat van die hoërisikolande afkomstig is, nie toegelaat word om van die vliegtuig af te klim nie en teruggestuur word na hul lande van oorsprong.

Bemanningslede van dié vlugte sal wel toegelaat word om van die vliegtuie af te klim waarna hulle onmiddellik onder kwarantyn geplaas sal word.

Suid-Afrikaners wat van dié lande af terugkeer, sal deur beamptes van die departement van binnelandse sake en die gesondheidsdienste bygestaan word. Hulle sal ondersoek en dan in kwarantyn geplaas word.

Talle vlugte van die hoërisikolande af het gister by die OR Tambo‑ Internasionale, Kaapstad‑ Internasionale en King Shaka‑ Internasionale Lughawens geland, waaronder ʼn Air China-vlug van Shenzhen af. Daar was 80 Suid-Afrikaners op die vlug en hulle is na kwarantyngeriewe geneem nadat hulle ondersoek is.

Volgens Mbalula is alle personeel wat hierby betrokke is, toegerus met die nodige beskermende toerusting soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie vereis.

Die minister het benadruk dat die land se lughawens nie gesluit word nie. “Nie een van ons lughawens sluit nie en alle bedrywighede gaan soos gewoonweg voort.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sean ·

Baie dankie mnr die minister Dis hoe jy n land se burgers bewaar van gevaar van buite

Marius ·

Die stap moes lankal geneem gewees het voor enige gevalle hier was

Elmarie ·

Ek dink dis swak dat vlugte enigsins toegelaat word om van hierdie lande af te VERTREK. Hulle weet mos nou die mense sal nie teogelaat word om af te klim so al daardie geld (vliegtuigbrandstof ens)is gemors! Daaar moes aan alle lande kennis gegee word dat geen vlugte en/of passasiers in SA toegelaat sal word nie. Hulle moet maar planmaak met S Afrikaners dan wat wil terugkom maaar moenie dat ‘n hele vlug met passasiers onnodiglik hierheen vlieg nie. Dis swak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.