Besonderse sterrestelsel met MeerKAT-teleskoop ontdek

Die MeerKAT-teleskoop (Foto: SARAO)

Die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag (SARAO) het Dinsdag aangekondig dat sterrekundiges ʼn groep van 20 nuwe sterrestelsels deur middel van die MeerKAT-teleskoop in Carnarvon, Noord-Kaap, ontdek het.

Dié ontdekking is in ʼn artikel in die Monthly Notice of the Royal Astronomical Society bekendgemaak. Die projek is gelei deur Shilpa Ranchod, ʼn meesterstudent in wetenskap aan die Universiteit van Pretoria (UP). Prof. Roger Deane aan die UP het oor die projek toesig gehou.

Wat dié ontdekking besonders maak, is die feit dat die teleskoop die sterrestelselgroep in die vroeë stadiums van sy vorming opgespoor het. Navorsers kon dié feit vasstel deur die groot hoeveelheid neutrale waterstofgas wat saam met die sterrestelselgroep waargeneem is. Deur waterstofgas rondom sterrestelsels waar te neem, kan sterrekundiges die evolusieprosesse wat in sterrestelsels plaasvind, verstaan.

“Die meeste sterrestelsels word omhul deur ʼn wolk van koue neutrale waterstofgas, wat dien as die rou brandstof waaruit sterre uiteindelik vorm. Hierdie gas is uiters flou en kan slegs deur middel van radiogolflengtes waargeneem word. Dit is wydverspreid en strek verder as die sigbare deel van die sterrestelsel,” sê Khulu Phasiwe, woordvoerder van SARAO.

Volgens Phasiwe word die meeste sterrestelsels in die heelal in groepe geïdentifiseer, maar dit gebeur egter selde dat ʼn groep met só ʼn groot aantal stelsels en soveel neutrale waterstof opgemerk word. Dit dui daarop dat die groep nog nie sy evolusionêre prosesse voltooi het nie.

Dr. Anastasia Ponomareva, navorser aan die Universiteit van Oxford in Engeland en medeskrywer van die artikel, sê dit is ongewoon dat ʼn stelsel in só ʼn vroeë stadium van ontwikkeling vasgevang word.

“Dié ontdekking kan ons opnuut help verstaan hoe sterrestelsels in groepe saamgestel word en deur hul omgewing getransformeer word. Ons verwag voortaan nog baie wonderlike bevindings danksy die voortdurende MeerKAT-opnames,” sê Ponomareva.

Die MeerKAT-teleskoop word gebruik om belangrike vrae rakende die vorming en ontwikkeling van sterrestelsels te beantwoord.

Dr. Natasha Maddox, navorsingswetenskaplike aan die Ludwig Maximilians Universität in München, Duitsland, sê die lugruim waar die nuutontdekte sterrestelselgroep opgemerk is, word deur baie ander teleskope bestudeer, maar die MeerKAT-teleskoop het nou vir die eerste keer die groepstruktuur in soveel detail geopenbaar.

Dr. Bradley Frank, mededirekteur van astronomie-operasies by SARAO, meen dié ontdekking beklemtoon weer eens dat die MeerKAT-teleskoop ʼn wonderlike instrument is.

“MeerKAT se groot gesigsveld, wye bandwydte, tesame met uitstekende sensitiwiteit en oplossingskrag, maak dit ʼn uitstekende instrument vir opname. Dit stel ons in staat om ʼn opname van sterrestelsels in verskillende omgewings te doen,” het Frank gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Keith

“Evolution” is not doing so well, ‘cos mankind seems to be going backwards.

JM

Die onbegryplike wonder van God se skepping.