‘Besope’ man ure lank in boom vasgekeer

Met die reddingspan se aankoms op die toneel, kon hulle nie die man sien nie (Foto: Reaction Unit South Africa, Facebook)

ʼn 58-jarige man is Dinsdagoggend van ʼn krans in Ezindlovini, KwaZulu-Natal, gered nadat hy langer as 12 uur lank in ʼn bos halfpad teen die krans af vasgekeer was. Die man was glo besope toe hy van die krans afgegly en in die bos beland het.

Die Reaksie-eenheid van Suid-Afrika (Rusa) is Dinsdagoggend deur ʼn lid van die gemeenskap gekontak oor dié vasgekeerde man. Reaksiebeamptes en paramedici het hulle na die toneel gehaas en die polisie se honde-eenheid het ook later op die toneel opgedaag.

Prem Balram, woordvoerder van Rusa, sê by die reddingspan se aankoms op die toneel kon hulle nie die man sien nie. Hulle het hom slegs vanuit ʼn bos teen die krans hoor praat.

“Die man het verduidelik dat hy beseer is en in ʼn bos teen die hang van die krans vasgekeer is,” sê Balram. “Terwyl reaksiebeamptes op pad was om die man te red, het hy daarin geslaag om homself uit die bos te bevry en teen die krans af te gly. Gemeenskapslede het hom aan die voet van die krans bygestaan.”

Balram sê daar is vasgestel dat die man Maandagaand onder die invloed van alkohol gaan stap het en toe by die krans afgeval het.

“Die man het nie ernstige beserings opgedoen nie, maar is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suzette ·

Sulke goed gebeur as jy besope is – kan bly wees hy het nie die boom gemis nie….

Debby ·

Daar is nie pille vir stewpidgeit nie, moes hom net daar gelos het

Misky ·

Wat kos die hele besigheid almal ter sprake? Stuur maar vir hom die rekening en laat hy betaal vir sy simpelgeit

Tokkel ·

Letterlik en figuurlik “Hoog in die takke!”
of het hy daar hoog in die takke mars se klein mannetjies gesien!!
Ai tog, wat nog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.