Bespiegeling neem toe oor Ramaphosa-kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa. Jiyane/GCIS

Bespiegeling is landswyd aan die toeneem oor hoe pres. Cyril Ramaphosa se nuwe nasionale kabinet gaan lyk noudat die ANC se volstrekte meerderheid in verlede week se nasionale verkiesing bevestig is.

Die 400 lede van die Nasionale Vergadering kom volgende Woensdag (22 Mei) byeen om die president vir die volgende ampstermyn te verkies. As die ANC-kandidaat behoort die verkiesing van Ramaphosa ʼn formaliteit te wees danksy die ANC se volstrekte meerderheid.

Ramaphosa sal na verwagting sy nuwe kabinet aankondig binne enkele dae nadat hy Saterdag oor ʼn week (dus op 25 Mei) volgens beplanning deur hoofregter Mogoeng Mogoeng ingehuldig sal word vir ʼn ampstermyn wat vyf jaar behoort te duur, tot in 2024.

Hoewel die samestelling van die kabinet luidens die Grondwet die volkome prerogatief van die president is – en hy dus nie verplig is om enigeen te raadpleeg oor wie as ministers gaan dien nie – sal die nuut saamgestelde kabinet in die praktyk die meerderheid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se steun moet geniet as Ramaphosa polities wil kan funksioneer en oorleef.

Hy en die ANC het reeds aangekondig dat die kabinet aansienlik verklein gaan word – waarskynlik ongeveer tot die 27 portefeuljes wat die land in 1994 onder oudpres. Nelson Mandela gehad het.

Ramaphosa sal die kabinet moet saamstel uit die 400 lede van die Nasionale Vergadering, en veral uit die aansienlik kleiner getal ANC-LPs (daar is nou 230 vergeleke met 249 voor die verkiesing).

Ramaphosa kan kragtens die Grondwet ʼn maksimum van twee kabinetslede uit die algemene samelewing (wat nie parlementslede is nie) aanstel, en sedert die dae van oudpres. Thabo Mbeki is ANC-presidente nogal geneig om dit te doen, want dit maak in die praktyk (as die ministers van buite die parlement ANC-lede is) twee meer gewone ANC-LP’s los om kiesafdelingwerk en stemwerwing vir die party te doen. Sulke ministers van buite die parlement kry dan sitting in die Nasionale Vergadering, maar mag nie stemme vir of teen kwessies, wetgewing, begrotings, mosies van wantroue of trouens enigiets anders in die Nasionale Vergadering uitbring nie.

Ramaphosa kan ook ʼn uitnodiging aan kundiges van buite die politiek rig om in die kabinet te dien, soos Mandela destyds in sy ampstermyn gemaak het met die bankier Chris Liebenberg as minister van finansies.

Die president kan ook lede van opposisiepartye vra om as ministers of adjunkministers te dien, en dit word dan aan daardie opposisieleiers en hul partye oorgelaat om te besluit of hulle die aanbod wil aanvaar. In die Suid-Afrikaanse demokrasie het lede van die NP, IVP, UDM, VF Plus, Azapo en die NFP al by verskeie geleenthede in ANC-kabinette gedien, wat gewoonlik saamgeval het met daaropvolgende afname in steun of gebrek aan groei vir die tersaaklike opposisieparty.

Veral met die ANC wat ʼn meerderheid van slegs een setel in die Gautengse wetgewer het, kan Ramaphosa dit oorweeg om vir een van die opposisiepartye in daardie wetgewer ʼn nasionale kabinetspos of adjunkministerskap aan te bied in ruil vir samewerking in Gauteng met die doel om die ANC-meerderheid in daardie wetgewer ʼn bietjie gemakliker te maak.

Die IVP, wat ʼn setel in die Gautengse wetgewer het, was in die verlede inskiklik, maar die ander gevestigde partye (met die uitsondering van die VF Plus in 2009-2014) was nie.

Die ANC het kort voor die verkiesing allerlei flikkers na die EFF gegooi met sprake van kabinetsposte vir die EFF-leier, Julius Malema, en sy adjunk, Floyd Shivambu. Die vooraanstaande juris adv. Dali Mpofu, wat die EFF se nasionale voorsitter is en tot LP verkies is, se naam is ook al genoem as ʼn moontlike minister van justisie.

In die verlede het die EFF alle aanbiedinge van samewerkende regerings of koalisies met die ANC afgewys in die geloof dat dit die EFF se tande as groeiende opposisieparty sal trek, maar as Ramaphosa ʼn aanbod maak – veral as dit byvoorbeeld nie Malema of Shivambu is nie sodat hulle hul opposisierol voluit kan speel – kan dit vir ʼn interessante gesprek in die EFF sorg. In so ʼn geval sal die besluit oor ʼn regeringsaanbod deur ʼn meerderheidstem van die EFF se krygsraad – grootliks soortgelyk in samestelling aan die ANC se NUK, of die DA se federale raad – geneem word.

Daar word nie verwag dat die DA – wat ná sy verkiesingsterugslae baie skerper teen die ANC sal wees – of die VF Plus, wat onder leiding van dr. Pieter Groenewald aansienlik aggressiewer is, maklik tot deelname aan ʼn ANC-regering sal instem nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die 2019-begrotingsrede [20 Februarie 2019]. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die grootste vraag oor die nuwe kabinet is wie die minister van finansies gaan wees. Verlede jaar het Ramaphosa die ervare politikus Tito Mboweni met die hand uitgesoek. Mboweni se uitgesproke voorkeur vir fiskale dissipline en markkragte, en sy streng uitkyk oor die regruk van staatsbeheerde ondernemings het van hom ʼn omstrede figuur gemaak wat nie deur almal in die ANC of die regerende party se vakbondvennote gesteun word nie.

As Ramaphosa besluit om Mboweni –  ʼn oudminister van arbeid en gewese goewerneur van die Reserwebank – in sy uitdagende pos te hou, sal die president heelwat politieke kapitaal binne die ANC daarvoor opgebruik.

Dit lyk nie asof hy vreeslik baie ander keuses in die nuwe ANC-koukus het as minister van finansies nie. Die huidige adjunk, Mondli Gungubele, word nie wyd hoog aangeslaan nie. Die minister van ekonomiese ontwikkeling, die bekwame Ebrahim Patel, se portefeulje kan met die verwagte verkleining van die kabinet in die slag bly, en sy vakbondagtergrond sal hom aanvanklik help.

Daar is egter politieke druk op Ramaphosa om ʼn swart eerder as ʼn bruin, wit of Indiërpersoon as minister van finansies aan te stel, wat Patel, asook Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, se kanse verklein. Die verwagting is dus dat Mboweni weer aangestel sal word, of anders iemand van buite die parlement – maar enigiets is binne Ramaphosa se volkome prerogatief moontlik.

Verdere spekulasie wat ANC-lede van die nuwe kabinet betref, is wie uitgelaat gaan word. Sommige veterane, soos die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het uitgetree en verskeie adjunkministers sal moet hoop op een van die twee plekke van buite die parlement of dat ʼn klomp ANC-LP’s sal bedank sodat meer plek op die lyste oopgaan, want soos sake staan gaan hulle dit nie maak tot in die parlement nie.

Daar is ʼn gerug dat Ramaphosa nie die ANC-onderleier, David Mabuza, as adjunkpresident wil behou nie, maar eerder wil vervang met iemand soos dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie en nominale leier van die faksie in die ANC wat Ramaphosa nie goedgesind is nie.

So ʼn stap sal egter só ʼn groot afwyking van die ANC-gebruike wees, dat baie mense die gerug nie baie ernstig opneem nie. 

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

‘Misdryf’-ministers dalk trekpas gegee

Betreffende watter dienende kabinetslede uitgelaat kan word, is die bewering dat Ramaphosa die kabinet wil “reinig” van ministers wat skuldig is aan misdrywe. Die vraag is egter in watter mate hy homself ingeperk gaan voel deur omstrede ministers se populariteit en mag in die ANC, en wat sy definisie is van wanneer ʼn minister onbekwaam is of skuldig is aan ʼn misdryf.

Twee ministers wie se voortgesette plekke in die kabinet onder groot druk is, is Bathabile Dlamini, minister in die presidensie belas met vrouesake, en Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake.

Dlamini is in effek deur die konstitusionele hof skuldig bevind aan meineed en die skending van haar ampseed, maar het as leier van die ANC-vroueliga baie politieke mag en is ʼn politieke straatvegter wat Ramaphosa se lewe erg kan versuur as sy ontevrede is.

Mokonyane is nie in hierdie stadium deur enige hof skuldig bevind aan enigiets nie, maar haar rampspoedige termyne as kabinetslid – eers as minister van water en sanitasie en later as minister van kommunikasie, sowel as die gedetailleerde bewerings oor staatskaping wat teen haar gemaak is voor die Zondo-kommissie, laat ernstige vrae ontstaan oor of sy ministersmateriaal is.

ʼn Minister wat in ʼn kort tydjie baie mense verkeerd opgevryf het, is Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie. Haar pogings tot nuussensuur, teenstrydige stellings oor die SAUK en die verval tydens haar ampstermyn van inligtingsessies sodat die media openlik vrae kan stel oor wat op kabinetsvergaderings besluit en bespreek is, het haar baie ongewild gemaak.

Een van Ramaphosa se sterkste vennote in die ANC-magspolitiek is die party se nasionale voorsitter en minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe. Hy het egter verskeie gunste en gawes ontvang van die maatskappy Bossasa, wat ten nouste by staatskaping betrek word, so waarnemers sal fyn dophou wat Ramaphosa se verbintenis tot onbesproke skoon regering vir Mantashe se toekoms inhou.

Malusi Gigaba. Foto: ANA

Die voormalige minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, is tot die parlement verkies nadat hy te midde van ʼn hofbevinding dat hy die Grondwet oortree het, verlede jaar uit die kabinet en die parlement bedank het.

Nog ʼn omstrede ANC-lid wat hoog genoeg op die lys is om as LP te dien is die voormalige adjunkminister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, wat op video opgeneem is toe hy ‘n vrou aangerand het. Dit het indertyd tot sy bedanking gelei – maar nou is hy opnuut op pad parlement toe.

Selfs voor die nuwe president verkies word, sal die Nasionale Vergadering ʼn speaker aanwys, en daar is sterk sprake van ernstige teenstand binne en buite die ANC teen die huidige speaker, Baleka Mbete.

Daar is dus tans baie onderhandelings in die verdeelde ANC aan die gang oor ʼn verskeidenheid aanstellings, en die volgende tien dae sal bepalend wees vir die onmiddellike toekoms van verskeie bekendes se politieke loopbane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cathy's clown ·

Same old same old. Hy sal voortploeter soos nou. Wang-koop met ons streef sake soos bring onteiening en blanke vervolging want dit, meer as enige iets, sal hom president hou.

Nick ·

Julle weet wat ? Ek lag elke dag vir jul comments,hoekom? Want Suid Afrikaners is groter lafhaards as die hele ANC saam. Julle tjank elke dag oor wat aangaan maar met die verkiesing het julle nie almal vir die DA gestem nie,ook nie vir die VF+ nie. Die ANC is ons baas en erken dit tog net….. Dis nie FW. OF PW. of wie se skuld nie. Did net ons skuld.
Wag maar,julle sal nog sien,sodra jou kind nie meer n warm bed het en n bordjie warm kos nie sal ons wakker word. Ons leef nog te lekker,een van die dae,wag net tot Eskom heeltemal vou,dan gesels ons weer . Geniet jul royal lewe!!!!Wat daarvan oorbly1

Anda ·

Sies nick, jy is n buffel. En wat maak jou so anders dat dieselfde rampe jou nie sal tref nie. Was jy gelukkig genoeg om uit te kom? Nie almal van ons kan vlug nie, al wil ons. Wat anders moet ons nou maak, as vasbyt en hooo vir die beste.

chrisjan ·

Niek jy leef in ‘n droom wereld dis duidelik!Waar was JY toe FW de Klerk en sy “cronies” die land op ‘n skinkbord weggee het?Dalk nog in doeke?

Dries du Toit ·

Nick nou wat se jy nou eintlik. Vertel ons man. Dit help nie jy skel ons omdat ons skel nie.wat moet ons doen wyse man

John ·

Dit is ‘n ace-like bord vol kool wat Jan-Jan opgeskep het… en ons is nog so effe versadig na gister se baie van dieselfde… Is daar nie dalk van die ou muwwe brood oor nie… selfs dit sal beter doen…

Genieve ·

Malusi is weer tot die parlement verkies nou ja dis ons eie mense se skuld dat die leunaars en die skelms weer in die parlement gaan wees die bed is opgemaak nou slaap daarin.

Oom Koos ·

Jip dit sal weer dieselfde patetiese spul aan die stuur van sake wees. Ek is helaas te oud om groener weivelde te gaan soek en moet seker maar hulpeloos toekyk hoe daar voortgeploeter word.

Gert van Wierdapark ·

Indien die leier van die regerende party enige Verandering in die huidige Kakistokrasie in SA wil maak, sal hy moet snoei en snoei en snoei! Sy tyd van wegkruip agter dit dat sy handjies vas is weens die 2 kampe in die topstruktuur ens van die party, is ook nou verby. Dis NOU of NOOIT, met nooit as voortstrompel op JZ se wee tot nadeel van die land, insluit ende die “stemvee”. CR moet die buffels by die horings pak, grond toe stoei en laat “skut”.

Landi ·

Ai, joernaliste behoort regtig hul van die feite vergewis. Nomvula Mokonyana is die Minister van Omgewingsake en nié Toerisme nie.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Landi

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

jaco ·

Dit was maar dieselfde in die ou SA na elke verkiesing: dan het die destydse Nasionale Party ook met allerhande truuks en Broederbond-aanstellings gekom.

Magda van der Walt ·

Ons wat nou alles kan onthou van die Nasionale Party Regering….. Snaakse goed het daar ook gebeur, grense van kiesafdelings is voortdurend verskuif as hulle sien daar is te veel KP’s of Progs in ‘n kiesafdeling. Ons oë was ook maar toe….!!

JohanL ·

Al verskil was dat daardie Broederbond aanstellings gewoonlik gepaard gegaan het met BEVOEGDHEID. Groot verskil teenoor die huidige aanstellings.

Rissiepit ·

Dit sal so coolgewees het as die president nuwe jong bloed kan he wat saam hom sal dien, uit ons verskillende kultuurgroeppe en rasse in die land. En ek sal regtig bly wees as die kabinet net 28 lede kan he soos in Mandela se tyd, al die ministers en dp’s mors net onodige staatgeld, want hulle betekn nix.

AMMIE HERBST ·

Ek het ‘n dag voor die verkiesing op Netnuus gelees dat President Cyril Ramaphosa sê dat hy die e-tol stelsel gaan skrap in Gauteng. Nou hoor ons niks van die beloftes nie!! Kom ons hou eerder die ANC verantwoordbaar vir die beloftes wat hulle gemaak het voor die verkiesing. Al die e-tol gebruikers wat nooit betaal het nie se e-tol skuld is afgeskryf!! Nou wat van ons Law abiding citizens? Ons almal weet dat niks gaan kom van enige beloftes wat gemaak was voor die verkiesing nie.

Dries du Toit ·

AMMIE Hulle sal jou refund. Glo hom net. Hy lieg nooit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.