Bespreking oor skuif na vlak 3 duur voort

(Foto: SA Polisie)

Die regering beoog om Suid-Afrika binnekort na vlak 3 van die afsonderingsvlakke af te wentel, maar sekere kwessies – soos of die skuif vir die hele land gaan geld – word nog bespreek, het die adjunkminister van handel en nywerheid, Fikile Majola, gesê.

“Die groot kwessie wat die regering en die land in die gesig staar, is hoe om die land na vlak 3 te skuif en die maatreëls om daar te kom,” het Majola Vrydag aan die parlementêre portefeuljekomitee gesê.

Majola sê die regering het reeds raad ingewin oor hoe die bepalings wat al in Maart ingestel is, verslap kan word. In sommige gevalle was daar teenstrydige raad oor die wysheid van die besluit om beslis na vlak 3 af te skuif.

Een van die groot kwessies was of die hele land op ʼn laer afsonderingsvlak geplaas moet word en of dié plekke met ʼn hoër infeksiekoers ook op ʼn strenger vlak moet bly. Daar word veral op die Wes-Kaap gekonsentreer waar meer as 60% van die land se bevestigde Covid-19-gevalle aangemeld is.

Majola sê hy verwag dat pres. Cyril Ramaphosa binnekort ʼn aankondiging daaroor gaan doen.

Die direkteur-generaal van handel en nywerheid, Lionel October, het aan die komitee gesê die departement se fokus is op die veilige heropening van die ekonomie, asook om die skade wat die afsondering aan die ekonomie aangerig het, te herstel.

“Die afsondering het sy doelwit bereik. Dit het die kurwe afgeplat en ons vyf of ses weke tyd gegee om voor te berei. Al die provinsies het aktiewe maatreëls ingestel om ʼn toename in die infeksiekoers te hanteer,” het October gesê.

“Dit het uiteraard ʼn verwoestende uitwerking op die ekonomie gehad en ons werk is nou om te verseker daar is ʼn behoorlike verslapping van die afsondering, ʼn skuif na vlak 3 en dan vlak 2 en om in dié tyd te verseker alle gesondheids- en veiligheidsmaatreëls geld steeds.”

Hy sê die departement is deeglik bewus van waarskuwings deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aan lande wat te haastig hul ekonomieë oopstel dat dit tot ʼn tweede vlaag infeksies kan lei.

October het ook benadruk hoewel die regering glo die afsondering was suksesvol om die oordragkoers te verlaag, gaan Suid-Afrika nie die volle trefslag van die virus – wat wêreldwyd al meer as 332 000 lewens geëis het – vryspring nie.

“Daar is geen manier dat ons die epidemie kan keer nie.”

October sê die Reserwebank se verlaging van die rentekoers is een van die maatreëls om die uitwerking op die ekonomie te verminder.

(Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Die Reserwebank het Donderdag die prima uitleenkoers met nog 50 basispunte tot 3,75% verminder.

October sê Suid-Afrika se herstel gaan in groot mate afhang van sy groot handelsvennote, waaronder Engeland en Duitsland, nadat hulle ook afsonderingsmaatreëls begin verslap het. Ander lande, soos Brasilië, gaan egter nou eers die kritieke stadiums van die pandemie binne.

“Ons is baie blootgestel aan internasionale handel,” het October gesê.

October het terugvoer aan die komitee gegee in die afwesigheid van min. Ebrahim Patel, wat siek is.

In reaksie op kritiek van opposisiepartye dat die regering bemagtigingskriteria gebruik om hulp aan ondernemings te verleen, het hy gesê dit stem ooreen met standaardregeringsbeleid.

“Ons sien geen teenstrydigheid tussen die twee nie, tussen die herstel van die ekonomie en transformasie nie omdat ons B-BEE in ons programme ingebou het.”

Daar word verstaan dat die debat oor die afskuif na vlak 3 ook ʼn dooiepunt tussen ministers insluit oor of die verkoop van drank en sigarette wel op dié vlak toegelaat moet word.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake hou glo vol dat die verbod tot op vlak 1 volgehou moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Hulle het hulle doel beteik, ja. Die land so ver in rommelstatus gedryf dat dit 100 jaar gaan vat om te herstel. En dan kom ‘n fosiel voorskryf dat mense nie mag rook nie. Want sien, dan verloor sy haar hoof inkomste te gou. Wat sy nie besef nie is dat deel van die belasting op drank en sigarette haar staatssalaris betaal. As daar nie meer geld is nie het het sy ook nie werk nie. Maar die ergste is dat sy eintlik VIR die land werk wat haar betaal. Sy is nie daar om vir ons te sê wat… Lees meer »

André

Hoe skryf Maroela Media so in die regering se hande? Hoekom publiseer julle nie die waarheid nie?…. Plaas alle toets syfers in vergelyking met positiewe gevalle PER PROVINSIE! Dis die media (wat Maroela insluit) wat die Weskaap laat sleg lyk, nie die ANC nie.

Pieter

Dit is tyd dat ons blankes moet standpunt in neem. Die regering en sy klomp narre dink hulle kan doen en maak soos hulle wil

Alleen Wolf

En nou is Patel skielik siek, goeie ding, nou kan hy immers nie nog bollie uitdink en dit proglameer nie, gelukkig klink dit vir my of sy sidekick darem 2 breinselle het, hy erken dat die afsondering sy doel gedien het en dat ons nie die impak van die virus gaan keer nie, iets wat ons al lankal vir die spul narre probeer vertel, al wat NDZ en haar trawante reggekry het was om die bietjie van die ekonomie wat oorgebly het na die eerste 3 weke ook totaal te vernietig Dan kom Cele en gebruik die verskoning dat alkohol… Lees meer »

Adam

CR het met die aanvang van die pandemie onverwagse en welkome besliste leierskap getoon en bykans almal het dit verwelkom. Die NCCC volg toe en sedertdien word die een na die ander belaglike regulasie, gewoonlik ook uiters vaag en verwarrend wat die strekking daarvan aanbetref, aangekondig. Die gevolgtrekking bly eenvoudig dat die regering nie in staat is om SA na behore te lei nie en ons sal nog dekades lank vir die ANC se tekortkominge betaal.