Beste en swakste parlementêre komitees aangewys

Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die Dullah Omar-instituut aan die Universiteit van Wes-Kaapland het die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie as die bes funksionerende portefeuljekomitee in die parlement aangewys, en die portefeuljekomitee oor maatskaplike dienste as die swakste een.

Die instituut, wat sy navorsing reeds die afgelope drie jaar doen, meen daar is ‘n klein verbetering wat die toerekenbaarheid van parlementêre portefeuljekomitees betref, maar die komitees toon steeds te min onafhanklikheid in die uitvoer van hul take – hulle is die regering en die kabinet te veel ter wille.

Hoewel die instituut se algemene bevinding is dat ANC-LP’s steeds die regering en die kabinet te veel ter wille en te terughoudend is wat kritiek betref, is die bevinding darem dat daar toenemend streng opgetree is teen staatskaping.

Wat die toegang tot komitees, en spesifiek die manier waarop die publiek uitgesluit word deurdat tersaaklike dokumente nie versprei word nie, het die instituut harde woorde gehad daarvoor dat mens regtig 25 jaar in die demokrasie in ‘n bietjie meer openlikheid en beter beplanning sou verwag.

Die model en metodiek waarvolgens die portefeuljekomitees beoordeel is, was op ‘n skaal van vyf, met 1 uit 5 die swakste en 5 uit 5 die beste, en wel in vier onderafdelings: Toegang, Reaksie, Onafhanklikheid en Effektiwiteit.

In soverre dit die portefeuljekomitee oor kommunikasie – spesifiek betreffende verlede jaar se ingryping oor die nie-funksionerende SAUK-raad – het die navorsing bevind dat die toegang vir die publiek tot sittings en dokumentasie goed was (3 uit 5) in die sin dat geen sittings agter geslote deure plaasgevind het nie en geen dokumente van die publiek weerhou is nie, ten spyte van die politieke sensitiwiteit van die kwessie voor hande.

Die komitee het ‘n gradering van Redelik (2 uit 5) gekry vir die reaksie-afdeling, omdat hulle wel oor ‘n nypende kwessie opgetree het, hoewel nou nie juis spoedeisend nie. Wat onafhanklikheid betref het hulle ook 2 uit 5 gekry, met ‘n 3 uit 5 vir effektiwiteit, want hulle het die wanfunksionerende raad vervang.

Die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling het byvoorbeeld betreffend die Sassa-debakel met die uitbetaling van maatskaplike toelaes baie swakker gevaar, het die instituut bevind.

Hul punt vir toegang was swak (1 uit 5), wat geen verrassing sou wees vir enige van die lede van die publiek van wie inligting en dokumentasie willens en wetens weerhou is nie.

Vir reaksie het die tydsame komitee ‘n punt van 2 uit 5 behaal, vir onafhanklikheid 1 uit 5 (die voorsitter het haar bes gedoen om Sassa te beskerm en nie een die pen te laat ry nie – om nie eens van Bathabile Dlamini, die destydse minister en ‘n ringkop in die ANC-vroueliga, te praat nie).

Wat effektiwiteit betref, het die instituut ‘n gulhartige 3 uit 5 aan die komitee toegeken – gulhartig as mens in ag neem dat die komitee niemand skuldig bevind of eintlik onder druk geplaas het nie (ten spyte van die beste posings van die IVP, DA en EFF), en die konstitusionele hof uiteindelik die kastaiings uit die vuur moes krap en Dlamini se kierangs moes laat braai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Kommunikasie komitee kry 10 uit 20 en dit is die BESTE in die Parlement! Miskien moet die outjies se helse salarisse gehalveer word om reg te laat geskied aan die prestasievlakke!

Dries du Toit ·

Dit klink soos een vir jou en een vir my. Ek twyfel sterk dat enigiets beter geword het

Awie Opperman ·

Ek vier nie gemiddelde prestasie nie. Dit seker ‘n moeilike taak om die beste en swakste aan te wys, maar vir verskillende redes. Hulle moes raap en skraap om punte bymejaar te maak vir die een en van die ander was daar vele keuses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.