Beste munisipaliteite in Wes-Kaap, Gauteng

Betogers in Mothutlung naby Brits tydens 'n diensleweringsbetoging. Foto: @bemol79/Twitter

Betogers in Mothutlung naby Brits tydens ‘n diensleweringsbetoging. Foto: @bemol79/Twitter

Suid-Afrika se munisipaliteite wat die beste bestuur word, is in Gauteng en die Wes-Kaap, volgens ʼn verslag wat Woensdag vrygestel is.

“Die bestuur van munisipaliteite in hierdie twee provinsies bly die beste en mees kompeterende in ʼn jaar wat gebuk gegaan het onder betogings,” het Municipal IQ in ʼn verklaring gesê. Die organisasie meet die Munisipale Produktiwiteitsindeks (MPI) en Nakoming- en Regeringsindeks (CGI). Die MPI kombineer finansiële en ander data om te bepaal tot watter mate ʼn individu betrokke kan raak by die plaaslike ekonomie en CGI bepaal hoe goed munisipaliteite voldoen aan basiese beplanning, verslagdoening, finansiële bestuur en kapasiteitsvereistes.

Die stad Kaapstad het die beste gevaar op die MPI, gevolg deur Tshwane en dan Johannesburg.

Agt van die 10 beste plaaslike munisipaliteite is in die Wes-Kaap geleë. Overstrand- en Stellenbosch-munisipaliteite, albei in die Wes-Kaap, was die beste. Steve Tshwete-munisipaliteit in Mpumalanga was in die derde plek en Saldanhabaai, ook in die Wes-Kaap, in die vierde plek.

Meeste diensleweringsbetogings het in Gauteng plaasgevind. “Gauteng is ʼn kortkop voor die Oos-Kaap met die meeste betogings vir die eerste 11 maande van 2014.” KwaZulu-Natal is in die derde plek.

Kevin Allan, besturende direkteur van Municipal IQ, het gesê munisipaliteite in onderontwikkelde gebiede soos die voormalige tuislande sukkel om die mas op te kom. Alhoewel daar ʼn verbetering in die nakoming- en kapasiteitsvlakke is, is dit nog steeds nie op die vereiste standaard nie.

Volgens sy webwerf is Municipal IQ ʼn webgebaseerde data- en intelligensiediens wat 278 munisipaliteite in Suid-Afrika monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.