Beste polisiestasie in die land aangewys

Brig. Ellen Emmanuel (Foto: SAPD)

Brig. Ellen Emmanuel (Foto: SAPD)

Die land se beste polisiestasie is een van die toekennings wat Vrydag tydens ʼn glansryke seremonie in Sun City tydens die vierde nasionale uitnemendheidstoekennings oorhandig is.

Die Brits-polisiestasie in Noordwes het met dié gesogte titel weggestap. “Dit was spanwerk. Ek is baie trots op my span,” het stasiebevelvoerder brig. Ellen Emmanuel gesê.

Die sukses van die stasie is gewortel in die beamptes se houding wanneer hulle voor probleme te staan kom. “Dit is hoe jy na ʼn probleem kyk. Dit is of die glas half vol of half leeg is. Ons beleef verskeie uitdagings, maar ons kan talle hindernisse oorkom,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg sy moedig polisiebeamptes aan om met idees vorendag te kom wat misdaad kan bestry en dit lei tot groter motivering onder beamptes by die stasie. Die stasie kon kontakmisdaad met 11% laat daal en ernstige misdaad het met 10% gedaal.

Die stasie is vroeër as die beste in Noordwes aangewys met 92,86% en het ʼn vyfstergradering ontvang. Polisiebeamptes by die stasie is baie gemotiveerd en gedissiplineerd. In die 2015/16 finansiële jaar is altesaam 3 304 persone deur Brits-polisiebeamptes in hegtenis geneem.

Speurderkonstabel Julius Nkgoeng (Foto: SAPD)

Speurderkonstabel Julius Nkgoeng (Foto: SAPD)

Speurderkonstabel Julius Nkgoeng van die Letlhabile-polisiestasie naby Brits in Noordwes het op sy beurt met twee toekennings weggestap. Hy is as die beste speurder van die jaar aangewys in die vlak 5-7-kategorie vir sy toewyding tot sy werk, wat verseker dat misdadigers suksesvol vervolg word en lang vonnisse ontvang.

“Ek is baie bly ek het gewen. Daar is geen geheim nie, dis alles net harde werk en om aandag te skenk aan die klein besonderhede. Soms gaan noodsaaklike besonderhede verlore as mens nie daaraan aandag skenk nie. Maak nie saak hoe klein dit is nie. Mens moet ook geduldig wees,” het hy gesê.

Hy het gesê wanneer ʼn misdaad ondersoek word, moet ʼn speurder al die prosedures volg wat hulle geleer het tydens hul opleiding. “Dis om al die basiese dinge reg te doen,” het hy bygevoeg.

Hy het sewe skuldigbevindings vir sewe verskillende sake in die 2015/16 finansiële jaar verseker. Die sake wat hy ondersoek het sluit moord, verkragting, roof, gewapende roof, ontvoering en opsetlike saakbeskadiging in. Hy het 34 ernstige misdade ondersoek en kon 32 daarvan oplos.

Hy is ook die ondersoekbeampte in die saak van ʼn skoolmeisie wat in Letlhabile ontvoer is en verkool is ná ʼn beweerde liefdesgeskil. Twee vroue wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, se saak duur voort in die Pretoriase hooggeregshof. Die saak hervat op 29 Mei. Cynthia Mosupi en Sharon Twala word beskuldig van die ontvoering van Boitumelo Dlamini uit haar skool op 18 Junie 2015. Mosupi het Dlamini daarvan beskuldig dat sy in ʼn verhouding is met haar ekskêrel. Daar is petrol oor Dlamini uitgegooi en sy is aan die brand gesteek.

Nkgoeng het ook ʼn gehoortoekenning ontvang nadat mense, wat die geleentheid bygewoon het, vir hom gestem het as die algehele wenner in die individuele kategorie.

Lt.kol. MI van Aardt Foto: SAPD

Lt.kol. MI van Aardt Foto: SAPD

Lt.kol. MI van Aardt, gebaseer by die polisie se nasionale kantoor, het die toekenning ontvang as die beste speurder in die vlak 8-12-kategorie. Hy is die bevelvoerder van ʼn span wat moord- en geregtelike doodsondersoeke by die nasionale ondersoek-eenheid ondersoek.

Hy het onder andere ʼn saak afgehandel van ʼn vrou wat in Orange Farm, Johannesburg, vermoor is. Dit het byna ʼn jaar lank geduur voor die vrou uitgeken is, as gevolg van haar beserings. Haar ouderdom is deur antropologie en ʼn tandheelkundige ondersoek bepaal.

Van Aardt het ʼn bladsy op sosiale media geskep vir bystand om haar uit te ken. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte in verband met haar moord.

Hy het ook bystand gelewer in die appèlsaak tussen die staat en Oscar Pistorius.

Sien al die toekennings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Hasie ·

Baie geluk SAPD van Britz met jul groot prestasie, dit kan alleenlik bereik word deur volgehoue toewyding, harde werk en streng dissipline. Brig. Emmanuel, met so ‘n eerste plek in die land verdien julle regtig ‘n klop op die skouer. Dankie uit KZN

Scalla ·

Geluk met die toekenning, die glansryke geleentheid Hoort op n parade grond, nie n geëet en gedrinkery by Sun city nie, dis hoekom dit so gaan in die wettelose land, een groot partytjie

Elsabé ·

Jy is seker nie ernstig nie! Dit is ‘n feestelike en spesiale geleentheid. Ek stem nie saam met jou idee v ‘n paradegrond nie. Gelukkig is almal geregtig op hul eie opinie al is dit hoe verkramp

Koos ·

Ek dink nie Scalla se idee is sogenaamd verkramp in ‘n land waar die regering nie eens geld het om eksamen nasieners te betaal nie.

Anoniem ·

Ek stem saam met Scalla. Sulke “glansgeleenthede” kos baie geld en veral by ‘n plek soos Sun City. Daardie geld kan baie beter aangewend word om lede beter toe te rus vir hulle daaglikse werk of vir beter salarisse. As almal beter salaris se kry sal almal se diens beter wees.

Wat het van die SAPD geword? Dat mense nou “beloon” moet word vir goeie werk? 20/30 terug het jy jou beste gegee (en meer) omdat dit jou trots was, nie omdat jy moontlik beloon kon word nie.

Elsabé ·

Baie geluk aan die wenners. Fantasties om erkenning te kry vir ‘n werk waar mense jou soms nie waardeer nie. Net jammer dat daar so min wenners uit die Wes Kaap is.

Jan ·

Baie geluk aan my eie huis, by verre beter as die een wat die toekenning gekry het.

Verward ·

Baie geluk aan Brits se ondersoekbeamptes maar ek kan ongelukkig nie dieselfde se van die diens voor by die aanklagkantoor nie. Die diens is uiters swak! Verward

Johannes van Staden ·

Brits ? ? In SA ?? Duidelik as dit die beste is wil ek nie weet wat die swakste is nie

PMB ·

Baie geluk SAPD Brits. Hou so aan, wel gedaan! Hoop die res kom by?

Percy ·

Fantasties…geluk!
Hoop die res van ons land leer by hulle hoe word dit gedoen!!

Daan Erasmus ·

Ek sou BulgeRiver genomineer het. Suid van Ellisras. Vriendelike mense. Puik diens. En effektief.

Veritas ·

Ek sou graag wou sien dat vriendelike diens die barometer moet wees. Crystal Park in Benoni sou so’n toekenning loshande gewen het.

Johann Marx ·

Daar gaan nog baie sulke toekennings wees. Hulle trek nou eer by “B” vir “Brits”!! Wie doen die beoordeling? Die Polisie? Met ander woorde die Polisie beoordeel die Polisie…en deel dan pryse uit by ‘n “spog geleentheid”? Wat is daar om oor te “spog”? As daar nou al ooit ‘n April Fool’s Joke op die verkeerde datum gepubliseer is….is dit DIE een!!

Elizabeth de Beer ·

Welgedaan dit is hoe dit gedoen word baie geluk hoop dit bly so dankie jul almal goeie werk.

Piet ·

Ek stem saam, die manier wat Sinoville SAPD sy gemeenskap ondersteun is fantasties. Wens die Moot se SAPD wil so saam werk

Marie Wilson ·

Grootste grap van die jaar. Hulle het seker n paar jaar terug se rating gebruik

Jollie ·

JA hoor, in die land van die blindes is die EEN-OOG koning. Standaarde het al so gedaal dat hierdie toekenning niks meer werd is nie, so ook nie die misdaadsyfers wat deurgegee word nie. Geniet die party.

Belbe ·

As Brits die beste is dan wil ek liewer nie weet wie is die swakste nie.

My ondervinding van die polisiestasie is uiters swak, die houding van die beamptes is juis die grootste probleem.

Victorious ·

Wel gedaan julle!! ek vertrou dan die toekennings ander polisielede sal aanspoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.