Beste uit die parlement: 2018

Uit die parlement is daar altyd genoeg vir die publiek om op kritiek te lewer, maar dalk is dit in hierdie dae spesifiek van pas om te erken dat iets goeds soms ook uit Nasaret kom – selfs die parlement het sy uitblinkers en hoogtepunte opgelewer.

Hier is ’n keur uit die jaar se hoogtepunte:

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle, GCIS

Toespraak van die jaar:

Wenner: Pres. Cyril Ramaphosa (ANC) – staatsrede. Die sogenaamde “Thula Mina” (Stuur my)-toespraak het die verwonde ANC ʼn slagspreuk gegee vir die jaar, en het die regerende party staande gehou te midde van die terugroep van oudpres. Jacob Zuma en al die onthullings oor staatskaping.

Die toespraak het selfs vir ʼn ruk gelei tot sogenaamde Ramaforie (euforie oor Ramaphosa) by ʼn deel van die bevolking, waarvan sommige politieke kommentators nou nog nie herstel het nie.

Naaswenner: John Steenhuisen (DA) – debat oor die Wysigingswetsontwerp aan die Nasionale Kwalifikasieraamwerk: In ʼn vegterstoespraak het Steenhuisen die aanslag teen hom vanuit sy eie party en die EFF omdat hy slegs matriek het, die nek ingeslaan en omgedop tot sy eie voordeel.

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

Minister van die jaar:

Wenner: Parvin Gordhan (openbare ondernemings): Gordhan het dapper en sonder skroom – dikwels op sy eie – die mantel van voorvegter teen korrupsie op sy skouers geneem, en ʼn reuseverskil begin maak om wanbestuur, korrupsie en staatskaping by staatsbestuurde ondernemings hok te slaan.

Op die ouderdom van 69 jaar is Gordhan klaar met die dinge van ʼn politieke kind. Sy doelwitte blyk eerder in ideale as selfgeldende eiebelang gesetel te wees. Die EFF maak tans belangrike bewerings oor belangebotsings rakende sy dogter, en dit moet ondersoek word – Gordhan is ʼn politikus, nie ʼn heilige nie. Desnieteenstaande kan Suid-Afrikaners net hoop dat iemand van Gordhan se kaliber nog lank vir die land uitgespaar sal wees.

Naaswenner: Jeff Radebe (energie): Radebe het ʼn siek, stollende departement met disfunksionele entiteite by sy voorgangers oorgeneem. As langsdienende minister (reeds 24 jaar kabinetslid) het hy sowel die gravitas as die wil om die Russe met hul kernkragdrome te beveel om te gaan doppies blaas. Hy het ook reeds begin om sake by die Kernkragkorporasie reg te ruk – maar daar lê nog baie werk voor.

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Beste woordvoerder:

Wenner: Adrian Lackay (openbare ondernemings): Lackay het teen groot persoonlike koste opgestaan teen staatskaping by die SA Inkomstediens onder Tom Moyane deur dit by die parlement aan te meld. Dit het hom sy betrekking en sy inkomste gekos. Nou is hy terug as Gordhan se woordvoerder. Hy ken sy vakgebied en weet hoe om met die media te werk. Lackay is beleefd, beskikbaar en hou by sy woord. Beter kan dit nie.

Naaswenner: Nonceba Mhlauli (ANC-koukus): Skielik is dit moontlik om betroubare inligting amptelik en op die rekord uit die ANC se parlementêre koukus te kry. ʼn Blink toevoeging tot die land se politieke woordvoerders.

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen. Foto: Twitter

Parlementslid van die jaar:

Wenner: John Steenhuisen (DA): Hy is gevat, goed voorbereid, ken die reëls van die parlement op die punte van sy vingers. Terwyl hy ʼn goeie sin vir humor openbaar, gaan jy op jou baadjie kry as jy met hom swaarde kruis. ʼn Parlementariër in murg en been.

Naaswenner: Jackson Mthembu (ANC): Definitief die beste hoofsweep wat die ANC al ooit gehad het. Hy is lief vir die parlement, hoogs intelligent en lief genoeg vir ʼn goeie debat om ook soms toe te gee as hy of sy party verkeerd is. ʼn Aanwins vir enige parlement.

ANC-hoofsweep Jackson Mthembu (Foto: GCIS)

Voorsitter van die jaar:

Wenner: Daphne Rantho (ad hoc-komitee oor staatskaping by Eskom): Ten spyte van doodsdreigemente het sy voortgegaan om nie net doelgerig toe te sien dat staatskaping by Eskom aan die kaak gestel word nie, maar spesifiek dat haar eie partylede van die ANC aan die pen ry. In 24 jaar van demokrasie het ons nog nie haar gelyke as voorsitter gesien nie.

Naaswenner 1: Thoko Didiza (Nasionale Vergadering): Wanneer Didiza in die stoel is, is daar orde in die Nasionale Vergadering. Wanneer sy nie in die stoel is nie, kan geen soortgelyke waarborg gegee word nie. Indien die ANC volgende jaar se verkiesing wen, kan mens net hoop sy word oplaas speaker.

Naaswenner 2: Lewis Nzimande (grondwetlike hersieningskomitee): Hy het ten alle tye orde gehandhaaf in ʼn komitee waar verdelingslyne diep geloop en emosies dikwels die oorhand gekry het. Op sy kalm wyse het hy gesorg dat alle stemme gehoor word, al was standpunte ook hoe ongewild.

Parlementêre komitee van die jaar:

Wenner: Ad hoc-komitee oor staatskaping by Eskom: Hierdie komitee het oor partygrense saamgewerk om staatskaping aan die kaak te stel. Eer hiervoor moet veral gaan aan ANC-lede wat nie geskroom het om hul eie partylede aan die pen te laat ry nie. Was alle komitees maar so!

Naaswenner: Portefeuljekomitee oor polisie: Hierdie komitee werk altyd hard en is die een wat die meeste vergader. Gegewe die laksheid van sommige ander komitees bly hulle ʼn voorbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.