Beste vriend een dag later óók in botsing beseer

Graham McLeod se motorfiets ná die botsing. Foto: Verskaf

Graham McLeod se motorfiets ná die botsing. Foto: Verskaf

Twee beste vriende van Centurion in Gauteng is binne een dag ná mekaar in afsonderlike motorfietsongelukke beseer.

Driaan Nel (31) het Woensdagaand om 22:00 sy vriend, Graham McLeod (42), by ʼn ongelukstoneel in Panoramaweg bygestaan, en was Donderdagoggend self in ʼn soortgelyke botsing in Johannesburg betrokke.

Driaan Nel. Foto: Verskaf

Driaan Nel. Foto: Verskaf

Albei botsings is vermoedelik veroorsaak deur onpadwaardige voertuie wat by kruisings voor die motorfietsryers ingedraai het.

McLeod se vriendin, Desirée Harmse, het Donderdag uit die Unitas-hospitaal se hoësorgeenheid aan Maroela Media gesê hy is in ʼn stabiele toestand. “Hy het darem geen lewensgevaarlike beserings opgedoen nie, en geen bene gebreek nie,” het sy gesê. McLeod het meestal kneusplekke en gesigbeserings weens die inpak opgedoen.  Die bestuurder van die ander voertuig is nie ernstig beseer nie. Maroela Media is in besit van bewyse dat die voertuig se lisensie reeds in 2012 verval het.

Nel se botsing het Donderdagoggend by ʼn kruising in die suide van Johannesburg plaasgevind. Sy vrou, Riëtte, het aan Maroela Media gesê Nel was op pad werk toe, toe ʼn voertuig ook voor hom ingedraai het. “Hy kon darem betyds reageer en ʼn ernstige botsing vermy,” het sy gesê. Nel het voor oor sy motorfiets geval, waarna die motorfiets se voorband die voertuig getref het. Die bestuurder van die ander voertuig is ongedeerd. Nel het geringe beserings opgedoen, en het by sy werkplek mediese behandeling ontvang.

Inwoners het intussen op sosiale media hul misnoeë uitgespreek oor die hoeveelheid ongelukke wat in Panoramaweg plaasvind, en het ʼn beroep op die Tshwane-metro gedoen om spoedbedaringstegnieke op dié besige pad te implementeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trippie ·

Motorfietsryers kry altyd die skuld as jaagduiwels, ens. en hier is die bewys – onpadwaardige voertuie en bestuurders wat padreels verontagsaam.

Dink aan julle twee manne. Sterk gou aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.