Bester en kie vasgetrek toe hulle na Kenia wou vlug

Thabo Bester en sy vriendin Nandipha Magudumana

Die sogenaamde Facebook-verkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester, sy vriendin en ʼn Mosambiekse burger is in Tanzanië vasgetrek.

Bheki Cele, minister van polisie, en Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Saterdag tydens ʼn mediakonferensie bevestig dat Bester, sy vriendin Nandipha Magudumana en ʼn ongeïdentifiseerde Mosambiekse burger Vrydagaand vasgetrek is.

Bester, Magudumana en die Mosambiekse burger is volgens Cele deur lede van wetstoepassingsagentskappe gewaar toe hulle ʼn hotel in ʼn swart sportnutsvoertuig verlaat het. Hulle is agtervolg en in die stad Arusha in hegtenis geneem. Interpol en ander rolspelers was by die inhegtenisnemings betrokke.

Volgens Cele was hulle glo van plan om Tanzanië te verlaat en die grens na Kenia oor te steek. Daar is verskeie paspoorte in elk van die beskuldigdes se besit gevind tydens die inhegtenisneming. Dit is bevestig dat hulle Tanzanië onwettig binnegegaan het.

Volgens Masemola het hy met sy eweknie in Tanzanië gepraat en het laasgenoemde bevestig dat die land sy volle samewerking sal gee om Bester en sy medebeskuldigdes terug na Suid-Afrika te bring sodat hulle hier op aanklagte tereg kan staan.

ʼn Afvaardiging bestaande uit lede van Cele en Lamola se departemente sal Sondag na Tanzanië vertrek om die proses te help fasiliteer.

Bester was sedert Mei verlede jaar op vrye voet nadat hy sy dood vervals en uit die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap het.

Dit het egter eers verlede maand aan die lig gekom dat dit nie Bester was wat oorlede is nie, maar dat die liggaam van ʼn onbekende persoon glo in die gevangenis ingesmokkel en in Bester se sel aan die brand gesteek is. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord in dié verband.

Die Gautengse polisie het vroeër die week op die herehuis in ʼn luukse Johannesburgse woonbuurt toegeslaan waar Bester vermoedelik weke gelede nog geskuil het.

Bester het glo saam met Magudumana, ʼn mediese dokter, by die vierslaapkamerhuis tuisgegaan voordat hulle weer op die vlug geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.