‘Bestiering’ dat man leef ná buffel hom gaffel

Leon Jacobsz se aankoms by die hospitaal in Johannesburg (Foto: Michiel Jacobsz, Facebook)

Leon Jacobsz, die 32-jarige man wat Saterdag op ʼn wildsplaas in die Wakkerstroom-omgewing in Mpumalanga deur ʼn buffel gegaffel is, moet dié week weer ʼn operasie ondergaan.

Danie Jacobsz, Leon se broer, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê sy broer het Saterdag ʼn operasie ondergaan om sy lewer na die normale plek terug te skuif aangesien dit tydens die voorval deur sy diafragma gedruk is.

Die wond word intussen oopgehou om sepsis te voorkom. Die operasie vandeesweek sal wees om die wond skoon te maak en moontlik te heg.

Jacobsz word in die hoësorgeenheid van die Alberton Unie- hospitaal behandel.

Die buffel het Jacobsz in sy sy gegaffel toe Jacobsz , ʼn beroepsjagter wat in die wildbedryf werk, die dier wou verdoof. Volgens Danie was daar werkers by wat die voorval sien gebeur het en daarin kon slaag om alarm te maak.

Leon Jacobsz (Foto: Facebook)

Jacobsz word tans nog onder verdowing gehou, deels as gevolg van die erge pyn wat hy ervaar, en die familie kon nog nie regtig met hom kommunikeer nie. “Sodra hy wakker is en ons met hom kan gesels sal ons presies kan weet wat gebeur het.”

Jacobsz word besoek deur sy vrou en twee jong kinders asook sy ouers en broers. “Dit is eintlik ʼn wonderwerk en ʼn bestiering van die Here; hy het nie een gebreekte been is sy liggaam nie,” het Danie gesê.

Hy sê die familie vra in dié stadium net dat mense vir Jacobsz sal bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Baie dankbaar dat Jy veilig in die hospitaal is ! Vertrou die wond raak gou gesond – sterkte Leon ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.