Bestuur grondonteiening só, sê navorser

grondhervorming

(Argieffoto)

“Die proses van grondhervorming kan meer suksesvol wees indien aandag spesifiek geskenk word aan die voorsiening van plase aan opkomende boere wat ʼn voldoende en hanteerbare grootte is. Dit beteken dat huidige wetgewing wat die onderverdeling van landbougrond in ekonomiese eenhede betref, hersien moet word.”

So sê dr. Siphe Zantsi wat vanjaar sy doktorsgraad in landbou-ekonomie oor dié onderwerp by die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het. Sy studie was deel van ʼn gesamentlike projek tussen die US se Departement Landbou-ekonomie en die Sosio-ekonomiese Navorsingsgroep van Agroscope, die Switserse Konfederasie se sentrum vir uitnemendheid in landbounavorsing.

As deel van sy projek het Zantsi ʼn nuwe metode ontwikkel wat agent-gebaseerde modellering (ABM) genoem word. Hy het dit gebruik om beter oplossings vir die implementering van grondhervorming te vind.

Zantsi het vyf hoofredes geïdentifiseer hoekom grondhervorming in Suid-Afrika in die verlede misluk het. Eerstens is onvoldoende ondersteuning aan nuwe toetreders tot boerdery gebied, verder was kommersiële plase wat oorhandig is te groot vir nuwe toetreders om te bestuur, en ʼn swak keuringstelsel is gebruik. Hiermee saam was ʼn gebrek aan die nodige boerderyvaardighede onder begunstigdes en die onwilligheid van die staat om aan begunstigdes eienaarskap van grond oor te dra ook ʼn groot faktor hoekom grondhervorming tot dusver misluk het.

Volgens Zantsi is huidige kommersiële plase te groot vir nuwe en onervare opkomende boere om doeltreffend te bestuur. Die Wet op Onderverdeling van Landbougrond van 1970, wat tans steeds van toepassing is, verbied egter die onderverdeling van landbougrond in groottes wat nie as lewensvatbare ekonomiese eenhede beskou word nie.

As deel van sy navorsing het hy bereken wat ʼn lewensvatbare plaasgrootte sou wees vir opkomende boere wat baat by grondhervorming. Hy het ook maatstawwe vir die inkomste-verwagtinge van opkomende plaashuishoudings bereken. Lae, gemiddelde en hoë verwagtinge van opkomende plaashuishoudings is by sy studie ingesluit.

Hy het gevind dat plase wat kleiner is as huidige kommersiële boerderye beter sou werk as dit kom by hoëwaarde-ondernemings soos vrugteplase. Plaasgroottes sal groter moet wees vir veldgewasse en uitgebreide veeplase, maar steeds kleiner as huidige kommersiële plase. Dit geld egter nie in gevalle waar begunstigdes aspirasies tot hoë inkomstes het nie. In sulke gevalle sal kommersiële plase van bestaande grootte aan hul behoeftes voldoen.

Volgens Zantsi sal dit daarvolgens moontlik wees om plase wat geoormerk is vir grondhervorming te onderverdeel op ʼn wyse wat die aspirasies van opkomende boere bevredig volgens lewensvatbare plaasgroottes en boerdery-ondernemings.

Zantsi het ook ʼn templaat ontwikkel waarmee beskikbare plase adverteer kan word. Volgens Zantsi behoort hierdie adverteringsproses deel van die standaardbedryfsprosedures vir grondhervorming te wees. Dit sal die kanse verminder dat elite-kaping van grond plaasvind, of dat onvanpaste begunstigdes gekies word.

“Indien die advertensie-templaat geïmplementeer word, sal dit deursigtigheid en verantwoordbaarheid bevorder en ook begunstigdes se strewes oor die besit van grond akkommodeer,” sê hy.

“Dit sal ook die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se gebrek aan kapasiteit ondervang en die werk van grondhervormingskomitees, wat voorgestel word in die Nasionale Ontwikkelingsplan, vergemaklik” sê prof. Nick Vink, landbou-ekonoom en Zantsi se studieleier.

“Hierdie bevindings verskaf praktiese hulp in die ontwikkeling van beleide oor plaas-onderverdelings, soos aanbeveel deur die advieskomitee oor grondhervorming en landbou wat in 2019 deur die presidensie aangewys is,” sê Zantsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sias

Aan die einde van die dag wil die staat net meer besit sonder enige bestuurs vernuf.

Joggie

Diefstal bly diefstal!

Dup

Waarom plase GEE aan persone wie nie wil of kan boer nie? resep vir mislukking soos wat statistieke bewys.
Gee eerder teoretiese opleiding gevolg deur praktiese opleiding op vooraf geidentifiseerde plase.(Net vir persone wie WIL BOER).

Herpiet

Maak nie saak watse slim modelle en idees voorgelê word nie – aan die einde van die dag gaan die staat volle beheer oor ALLE eiendom wil uitoefen..

Vernon

Als maar soos in Zim. ANC wil maar net vir die our people wys hulle vat grond by wittes en dan ontaard dit maar net weer in korrupsie,die hoe gepeupel kry grond!