Bestuur só jou skool se geld selfstandig

geld spaar spaarvarkie pensioen

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Die Solidariteit Beweging het gisteraand ’n fondsbestuurgids bekendgestel wat deur skole en ouers gebruik kan word om meer selfstandig te wees wat die bestuur van geld in skole betref.

Dit volg nadat die Solidariteit Beweging in Augustus vanjaar ’n toekomsberaad oor onderwys gehou het waar die insette van talle belanghebbers, waaronder skoolhoofde, ouers en beheerliggame, verkry is.

Hierdie insette is verwerk en word saam met navorsingsbevindinge in die gids vervat om ’n praktiese raamwerk daar te stel om skole en ouers te bemagtig om die fondsbestuur van skole in hul gemeenskappe so te beheer dat selfstandigheid daardeur verseker kan word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, word skole al hoe meer uit die hande van die gemeenskap geneem en gesentraliseer. Gevolglik word daar van openbare skole staatskole gemaak. “Sedert 1997 het onderwys in Suid-Afrika toenemend verander – van samewerkende bestuur met rigtinggewing deur die staat na staatsbeheer en voorskriftelike bestuur. ʼn Duidelike voorbeeld hiervan is die konstitusionele hof se uitspraak in Mei 2016 oor toelatingsregulasies in Gautengse skole,” het Hermann gesê.

“Dit is belangrik dat ouers binne gemeenskappe hul regte sowel as hul ruimtes opneem om meer selfstandig te raak en minder afhanklik van die staat te wees. Afrikaanse skole en ouers moet hul regte ken en op die hoogte bly van presedente wat deur hofsake geskep is wat beheerliggame se posisie versterk en as riglyn kan dien vir die hantering van uitdagings,” het Hermann verduidelik.

Volgens Hermann word internasionale neigings ook in die gids vervat en fokus die gids ook op die belangrikheid en suksesse van moedertaalonderrig.

Klik hier om die fondsbestuurgids te bekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.