‘Bestuur van rioolwaterstelsels swak, tekens van ʼn groter krisis’

AfriForum-blou-en-groenwaterdruppelverslag-2017

Chris Boshoff (links) en Marcus Pawson van AfriForum besig met groendruppelwatertoetse in die Rustenburgomgewing. Foto: Verskaf.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag tydens die bekendstelling van sy jaarlikse blou-en-groendruppelverslag gesê die bestuur van Suid-Afrika se behandelde rioolafval is geweldig kommerwekkend.

AfriForum het in Mei en Junie die rioolwaterstelsels van 88 dorpe getoets en bevind dat 59 nie aan die gestelde gehaltestandaarde voldoen nie. In vergelyking hiermee het 26 uit die 72 rioolwaterstelsels in 2016 nie aan die standaarde voldoen nie.

Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, het gesê dit is duidelik dat die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke in Suid-Afrika drasties aan die verswak is.

“Ons het vanjaar daarin geslaag om verskeie munisipaliteite se afvalwater te toets nadat AfriForum in die verlede deur sommige munisipaliteite toegang tot sekere rioolwaterstelsels geweier is. Dit maak sin as die bedenklike stand van afvalwaterbestuur in die land in ag geneem word.

“ʼn Gemiddeld van 67% van die land se rioolwaterstelsels funksioneer nie binne die regulatoriese vereistes nie. ʼn Algehele afname in rioolwaterbestuur is vanjaar reg oor Suid-Afrika waargeneem,” het Pawson verduidelik.

Volgens Pawson is dit ook die eerste jaar wat daar nie een provinsie is wat verbeter het op hul uitslae vir watergehalte van verlede jaar nie. “Elke provinsie, veral met rioolwaterafvalbestuur, het verswak. Ek glo dit is aanduidend van ʼn groter krisis wat in ʼn stadium baie moeilik bestuurbaar gaan word as die regering versuim om op te tree.

“Die departement van water en sanitasie (DWS), asook die plaaslike munisipaliteite, is verantwoordelik vir die rioolkrisis waarbinne die land homself bevind en dit ten spyte van ʼn begroting van meer as R15 miljard vir die departement van waterwese en sanitasie.”

Volgens Pawson het dié departement in die 2015/2016 finansiële jaar R827 miljoen aan die departement van finansies teruggegee omdat die geld nie bestee is nie. “Dit bring die onbestede bedrag vir die afgelope paar jaar op meer as R2 miljard te staan terwyl ʼn geskatte 4 200 megaliter rou riool daagliks in ons rivierstelsels beland.”

AfriForum is in die proses om briewe te stuur aan die munisipaliteite wat nie aan die standaarde voldoen nie, om hulle in kennis te stel van die probleme met hul rioolwaterbestuur se gehalte. Die organisasie het onderneem om homself ook reg oor Suid-Afrika te posisioneer en jaarlikse evaluasies soos hierdie te behartig om sodoende die infrastruktuur deurlopend te monitor.

Volgens die departement se laaste beskikbare groendruppelverslag, wat in 2013 beskikbaar gestel is, het slegs 60 uit 824 afvalwaterstelsels groendruppelstatus ontvang.

“Die 59 afvalwaterbehandelingsaanlegte wat AfriForum vanjaar getoets het, wat nie aan die nasionale standaarde voldoen nie, kan ʼn bedreiging vir menslike gesondheid, voedselsekerheid en die omgewing inhou. Die standaard van rioolwaterstelsels behoort in 2017 as ʼn prioriteit beskou te word, gegewe die droogtetoestande in die land en die feit dat Suid-Afrika ʼn waterskaarsland is,” het Pawson gesê.

Suid-Afrika se nasionale watergehaltestandaarde maak voorsiening vir 1 000 eenhede e.coli per 100 ml water in behandelde rioolwater in algemene afvalwaterlimiete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna Botha ·

Die stank van die Hennoprevier in Centurion maak my SO naar dat dit al tot braking gelei het !

Johann Marx ·

Dit gebeur as ‘n land se populasie getalle ontplof soos oor die afgelope 20 jaar. Hoewel niemand weet wat die korrekte getalle is nie, loop die gerug rond dat SA tot ‘n 238% MEER onwettig immigrante het en dat die populasie met 15% gegroei het oor die afgelope 20 jaar, terwyl infrastruktuur nie uitgebrei of onderhou is nie. Ons gaan versuip…..en nie in water nie.

B-man ·

Watersuiweringsaanlegte word oorspoel met ‘n toename in rouriool, want almal “demand” spoeltoilette. Ons behoort hiervan af weg te beweeg en moet eerder weer kyk na buitekamers en/of skeidingstelsels (wat 1 en 2 skei). Maak sodoende ook sommer jou eie kompos (vir tuingebruik) van jou eie “produk”. Dalk sal erfbelasting ook sommer afneem…

Jaco Grobler ·

Hier is ons land se grootste probleem, nie die ekonomie, rassisme, die Gupta’s of selfs die Spur nie….Die potensiele impak is astronomies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.