Bestuurder gevonnis vir R1 miljoen se bedrog

Die bedrieër het by Barko Financial Services op Lydenburg gewerk.

ʼn Man is in die streekshof op Lydenburg in Mpumalanga agt jaar tronkstraf opgelê nadat hy meer as R1 miljoen gesteel het by die kontantleningsfirma waar hy as bestuurder gewerk het.

Marcus Mnisi (31), van die woongebied Mashishing, het sy werknemer altesaam 269 keer besteel terwyl hy op Lydenburg as takbestuurder by Barko Financial Services gewerk het, sê Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder.

Volgens getuienis in die hof het die voorvalle tussen 2015 en 2016 plaasgevind toe Mnisi fiktiewe lenings op kliënte se name geskep het deur hul vingerafdrukke te gebruik om hul profiele te aktiveer, verduidelik Nyuswa.

Daarna sou hy dieselfde dag nog terugbetalings maak vir die fiktiewe lenings met behulp van die Naedo-stelsel, asof die kliënt die lening ten volle terugbetaal het en die rekening dan afgehandel is, sê sy. Mnisi sou dan die ooreenstemmende kontantbedrag vir homself uit die kleinkas neem.

“Die eienaar van die maatskappy het ʼn reuseverlies gely,” sê Nyuswa.

Nadat die polisie die voorvalle ondersoek het, is Mnisi in hegtenis geneem. Hy het getuig dat hy die geld gebruik het vir vermaak, om saam met sy meisie te toer en ook sy ouerhuis opgeknap het.

Tydens sy verhoor is getuig Mnisi se optrede het daartoe gelei dat een van die twee kollegas wie se besonderhede hy gebruik het om fiktiewe rekenings te skep, ontslaan is.

Nyuswa sê die NVG verwelkom die vonnis en hoop dit sal as afskrikmiddel dien in die stryd teen misdaad in die finansiële sektor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.