Bestuurder glo 4 keer oor die alkoholperk

Argieffoto

ʼn Bestuurder wat 21 leerders na verskillende skole in Kaapstad vervoer het, is Maandag op die N2-snelweg vasgetrek terwyl hy vier keer oor die wettige bloedalkoholvlak was.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het gesê ʼn beampte was besig met patrollie langs Borcherds Quarry-weg toe hy ʼn wit Toyota Quantum-minibus opgemerk het wat roekeloos bestuur word. Hy het die voertuig voorgekeer en die bestuurder se bloedalkoholvlak getoets.

“Die bestuurder was vier keer oor die wettige perk. Hy was besig om 21 leerders na verskillende skole in die sakesentrum te vervoer. Hy is na die Nyanga-polisiestasie geneem en aangekla van dronkbestuur asook roekelose en nalatige bestuur,” het Smith gesê. Die kinders in die minibustaxi is veilig na hul onderskeie skole geneem.

Die bestuurder is een van 155 verdagtes wat die afgelope week deur Kaapstadse verkeersbeamptes in hegtenis geneem is. Donderdagaand is nog ʼn motoris op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem ná sy onsuksesvolle poging om van verkeersbeamptes te vlug.

Volgens Smith het ʼn verkeersbeampte omstreeks 21:00 gesien hoe ʼn motor onverskillig in Somersetweg bestuur word. Die verkeersbeampte het probeer om die voertuig voor te keer, maar dit het weggejaag toe die beampte die blou ligte van die verkeersvoertuig aangeskakel het.

Die verkeersbeampte het versterking ontbied en die motor is in ʼn stadium naby The Twelve Apostles Hotel and Spa vasgekeer, maar die bestuurder het geweier om die enjin af te skakel of die ruit oop te maak. Hy het sy weg deur die verkeersvoertuie wat hom vasgekeer het, oopgedwing en wéér op die vlug geslaan.

“Die jaagtog het uiteindelik tot ʼn einde gekom by ʼn doodloopstraat by die Houtbaai-brandweerstasie. Die bestuurder is in hegtenis geneem en na ʼn plaaslike polisiestasie geneem,” het Smith gesê.

Smith het gesê afgesien van die meer as 150 inhegtenisnemings verlede week, is daar ook op 77 voertuie beslag gelê en meer as 5 000 boetes vir verskeie verkeersoortredings uitgereik.

“Hierdie soort voorvalle word heeltemal te algemeen. Dit dui op ʼn algehele verontagsaming van wet en orde en geen agting vir die lewe van ander nie. Ongelukkig glo ek nie ons sal ʼn verandering in dié soort gedrag sien alvorens die strawwe wat deur die howe opgelê word in ooreenstemming is met die arrogansie wat ons wetstoepassingsbeamptes daagliks op die paaie sien nie,” het Smith gesê.

Hy het gesê daar word tans met die Wes-Kaapse regering beraadslaag om voorsiening te maak vir strenger wette en swaarder strawwe in die nuwe provinsiale verkeerswet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Hy het lekker gedryf, normale werksdag gewees na die naweek, doen dit al jare, geen probleem

Statistiek ·

Statistiek noem dat 60% van padongelukke veroorsaak word deur dronkbestuur. Ek noem dit ‘gesuip agter die stuur’.

alida ·

Hy behoort aangekla te word vir poging tot moord. Wat as al daardie kinders dood was? Ek hoop hy kry BAIE lank tronkstraf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.