Bestuurder in hof ná vyf kinders in ongeluk sterf

(Foto: Pixabay)

Die 56-jarige voertuigbestuurder wat in hegtenis geneem is ná die dood van vyf skoolkinders in ʼn motorongeluk in Mitchells Plain bly agter tralies.

Mninikhaya Mvuli (56) het Donderdagoggend in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn op vyf aanklagte van strafbare manslag, asook ʼn aanklag van roekelose bestuur.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn botsing tussen drie voertuie in AZ Berman-rylaan in Kaapstad die lewe van vyf kinders geëis het. Die kinders was na hul onderskeie skole in die omgewing op pad.

Volgens die polisie se voorlopige ondersoek het die bakkie waarin die leerders gery het eers ʼn verkeerslig getref, waarna die kinders van die voertuig afgeslinger is.

Die leerders is van Laerskool Wespoort, Laerskool Harvester, Laerskool Ridgeville, Laerskool Highlands en Laerskool Duneside.

Twee leerders van onderskeidelik Laerskool Ridgeville en Hoërskool Lentegeur ontvang steeds mediese behandeling.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Mvuli het aangedui dat hy gaan aansoek doen om borgtog. Die staat beoog om hierdie aansoek teen te staan.

Die saak is tot Maandag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Faraway ·

Hoe stap so iemand ongeskonde uit so n verskriklike tragiese ongeluk???

MJLS ·

Uit op borgtog is mos die in-ding hier in SA. Die regstelsel het nie empatie met die benadeeldes nie.

Danie ·

Tragies.Wat het ongeluk veroorsaak n verkeerslig buite werking of bloot wanorde in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.