Bestuurder in hof wat glo munisipaliteit bedrieg

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

ʼn Voormalige bestuurder van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in Gqeberha (Port Elizabeth) en ʼn sakevrou het Maandag op aanklagte van korrupsie en bedrog in die hof verskyn.

Mvuleni Norman Mapu, die bestuurder, het in 2014 glo bedrieglik ʼn behuisingskontrak aan Bulelwa Eunice Ntanga-Mkwakwi, die sakevrou, se onderneming toegeken. Hulle is in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem.

Volgens Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het Mapu na bewering omkoopgeld van R900 000 van Ntanga-Mkwakwi aanvaar in ruil daarvoor dat hy ʼn R12,8 miljoen-kontrak aan haar onderneming, Jeke and Qabi Trading Close Corporation, toeken.

Mapu was in 2014 die direkteur van die munisipaliteit se behuisingsdepartement.

“Die Oos-Kaapse departement van menslike nedersettings het in daardie tyd verskeie HOP-behuisingsprojekte in Gqeberha gefinansier. Die munisipaliteit het as ontwikkelaar vir hierdie projekte opgetree en potensiële kontrakteurs moes deur die munisipaliteit op sy databasis geregistreer word. Ntanga-Mkwakwi het haar onderneming gedurende 2012 geregistreer,” bevestig Ngcakani.

“ʼn Komitee, onder voorsitterskap van Mapu, was verantwoordelik vir die toewysing van werk aan kontrakteurs wat op die databasis geregistreer is. Komiteelede het gedurende Februarie 2014 byeengekom waartydens toewysing van kontrakte aan verskeie kontrakteurs, wat Jeke and Qabi Trading insluit, plaasgevind het. Gevolglik is ʼn kontrak van R12,8 miljoen gedurende Maart 2014 aan Ntanga-Mkwakwi se onderneming vir die HOP-bouprojek in Gqeberha toegeken.”

Volgens Ngcakani beweer die staat dat Ntanga-Mkwakwi gedurende Januarie 2014, voor die toekenning van hierdie kontrak, R900 000 van haar bankrekening oorgeplaas het na ʼn Allan Gray-platformrekening wat ʼn rekeningverwysing ten gunste van Mapu bevat het. Mapu het na bewering nooit die ontvangs van die betaling aan die munisipaliteit verklaar nie.

“Mapu en Ntanga-Mkwakwi staan tereg op aanklagte van korrupsie omdat Mapu as munisipale beampte na bewering ʼn omkoopbedrag van R900 000 van Ntanga-Mkwakwi aanvaar het in ruil daarvoor dat hy sy gesagsposisie misbruik het om te verseker dat die kontrak aan Jeke and Qabi Trading toegeken word. Ntanga-Mkwakwi word van dieselfde klagte aangekla omdat sy na bewering ʼn openbare amptenaar omgekoop het.

“Die twee staan ook tereg op aanklagte van bedrog omdat hulle die munisipaliteit se wet op die voorsiening van kettingbestuur oortree het. Mapu het in sy hoedanigheid as voorsitter van die toewysingskomitee nie die finansiële belange en voordele bekend gemaak wat hy na bewering van Jeke and Qabi Trading ontvang het nie. Ntanga-Mkwakwi word ook van bedrog beskuldig omdat sy glo nie onthul het dat haar onderneming aan Mapu die beloning van R900 000 toegestaan het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AW ·

Glo dat in die hof, hy n groot verskoning sal opper, oor waarom hy gedoen het wat hy gedoen het….

Hennie J ·

Al loop die leun hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel. Die NVG en wetstoepassings agentskappe moet geloof word vir die feit dat dit slegs 7 jaar geneem het om die mense in n hof te kry;voorwaar n prestasie in piesangland.

Jackie ·

Die tipe bedrog en skelmstreke wil amper veroosaak dat ek nie meer nuus wil lees nie,, maar kop innie grond soos n volstruis kan ek ook nie. Ek is van mening dat as gelowiges 1 Tim 2:1-2 daadwerklik daagliks begin toepas sal die belofte van ‘n ‘stile en rustige lewe’ begin waar word.

Swerwer ·

G’n nuwe nuus nie, dit is mos aan die orde van die dag.

Di ·

Dis nie eers meer snaaks nie. Elke dag is daar nuus oor net NOG ‘n korrupsie onders die ANC kaders. Skandelik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.