Bestuurder ontken hy vlug ná botsing wat onnies eis

Zelmarie Fourie. Foto: Facebook

Die bestuurder van die bakkie wat betrokke was in die tragiese ongeluk waarin twee onderwysers van ʼn skool in Carolina, Mpumalanga, Woensdagmiddag gesterf het, sê hy het nie van die toneel gevlug soos vroeër beweer is nie.

Maroela Media het vroeër berig Zelmarie Fourie (25) en Francois Grundelingh (25), albei onderwysers aan die Carolina Akademiese Skool, is dood toe ʼn bakkie Woensdagmiddag op die N4 naby die Van Dyksdrift-afrit met hul VW Polo gebots het. Fourie het op die toneel gesterf, terwyl Grundelingh na ʼn hospitaal gehaas is waar hy later breindood verklaar is.

Joubert Groenewald, ʼn vriend van die bakkiebestuurder – wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan Maroela Media gesê hy was minute nadat die botsing gebeur het op die toneel. “Ek en my vriend het agter mekaar gery, hy in sy bakkie en ek in my voertuig. Ek het nie die ongeluk sien gebeur nie, maar ek was seker vyf minute nadat dit gebeur het op die toneel,” het Groenewald gesê.

Hy het gesê hy en sy vriend het vanaf Witbank in Middelburg se rigting gery, terwyl Fourie en Grundelingh aan die teenoorgestelde kant van die snelweg in die rigting vanaf Middelburg na Witbank op pad was. Volgens Groenewald het sy vriend glo gesien hoe die VW Polo aan die teenoorgestelde kant van die pad van die pad af gaan, aan sy kant van die pad beland en draai voordat die bakkie die Polo van agter getref het.

“Dit het gereën, so ek weet nie of die bestuurder van die Polo beheer oor die voertuig verloor en of die motor dalk op die nat pad gegly het nie,” het hy gesê. Hy het gesê sy vriend in die bakkie was nie beseer nie, maar wel erg geskok.

Volgens Groenewald was daar vinnig paramedici op die toneel wat Grundelingh behandel het en hom na ʼn hospitaal vervoer het. Verkeersbeamptes was ook op die toneel en het ʼn verklaring by die bakkiebestuurder afgeneem. Groenewald sê hy en sy vriend het al hulle besonderhede vir die verkeersbeamptes gegee en was meer as ʼn uur ná die ongeluk nog op die toneel.

Francois Grundelingh. Foto: Faccebook

“Ek wou graag my vriend hospitaal toe neem sodat hy net ondersoek kon word om seker te maak hy het geen beserings opgedoen nie. Naderhand het ons die verkeerskonstabel gevra of ons nog moet wag en of ons maar hospitaal toe kan gaan. Hulle het gesê ons kan gaan aangesien hulle al ons besonderhede het,” het Groenewald gesê. Hulle is toe weg van die ongelukstoneel af.

Donderdag het Groenewald se vriend by die plaaslike polisiestasie aangemeld om ʼn saaknommer te kry. Kapt. Khanyisile Zwane, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê dat die bestuurder van diebakkie by die polisie se aankoms op die ongelukstoneel nie op die toneel was nie.

“Ons wil net graag hê mense moet weet wat die situasie is omdat die indruk nou geskep word dat dit ʼn tref-en-trap-ongeluk was, terwyl dit glad nie die geval was nie,” het Groenewald gesê.

“Dit is ongelooflik tragies wat gebeur het en ons het gevoel ter wille van die oorledenes se familie en vriende wat berusting moet vind, is dit belangrik dat hulle weet dit was werklik ʼn ongeluk en nie iets wat deur iemand se nalatigheid of so iets veroorsaak is nie,” het hy gesê.

Die polisie ondersoek die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Carien ·

Ons weet dit was net n ongeluk en nie die bakkiebestuurder se skuld nie. Haar kar het voor hom ingetol en die ongeluk was onvermydelik.

Dankie ·

Dankie,dit maak dit vir almal duidelik dat sy vriend die waarheid praat en sterkte aan julle almal en veral aan die bestuurder, Vat mekaar se hande, dit is regtig belangrik vir elkeen van julle.

Andrea ·

So jammer oor die twee pragtige jongmense se dood. Dis tragies. Baie, baie sterkte aan die families. Ook aan die bestuurder van die bakkie.

JG ·

Die polisie werk mos nie op horlosies nie maar wel op KALENDERS…geen wonder hulle maak se snert op dat die bakkie-bestuurder nie op die toneel was toe HULLE daar aankom nie…hoe lank was HULLE na die tyd daar ? Onbevoegde klomp…

Gordon Horn ·

Dis uiters swak dat die SAPS nog nie na n uur daar was nie die optrede veroorsaak sekondere botsings

Pen ·

Weereens ‘n bewys dat mens jou pen in toom moet hou wat kommentaar aangaan. Ek sien hier geen verskoning aangebied oor die negatiewe skrywes op ‘n vorige berig. Wat ons hoor, wat ons sien in berigte en selfs wat ons fisies hoor EN SIEN kan vêr verwyder wees van wat werklik aangaan of gebeur. Hou dus jou pen/tong in toom.
Aan diegene betrokke by hierdie hartseer verhaal: Mag julle sterkte vind en beleef in die Heer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.