Bestuurder van bekende restaurant doodgeskiet

Die Sakhumzi-restaurant. Foto: Facebook

Die Sakhumzi-restaurant. Foto: Facebook

Die bestuurder van ʼn bekende restaurant in Soweto is Sondagoggend vroeg tydens ʼn rooftog doodgeskiet.

Die Sakhumzi-restaurant in Vilakazistraat het Saterdagaand laat toegemaak en Sondag teen 01:00 het twee mans by die restaurant ingestorm en glo geld geëis. Die bestuurder, wie se naam nog nie bekend is nie, het hulle probeer keer. Die verdagtes het op hom losgebrand en hy is noodlottig gewond.

Die eienaar van die restaurant, Sakhumi Maqubela, het gesê hy en sy personeel is geskok deur die voorval wat voor hulle oë afgespeel het. Maqubela het sy meelewing met die familie van die oorledene betuig. “Ons wil die gemeenskap graag bedank vir hul ondersteuning en ons kliënte laat weet dat hul veiligheid vir ons ʼn prioriteit is.”

Die verdagtes het onmiddellik ná die rooftog gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Dit is nog nie duidelik wat presies tydens die voorval gebuit is nie.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn saak van moord en roof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.