Die bestuurder van ‘n bakkie wat Maandagoggend 30 skoolkinders vervoer het toe dit in ‘n dam in KwaZulu-Natal se Midlands-gebied beland het, is in hegtenis geneem.
Minstens vier kinders is dood. Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media bevestig die vier kinders was almal tussen sewe en 15 jaar oud. Die polisie is nog steeds op soek na ʼn vermiste kind.
Die res van die 25 kinders wat op die bakkie vervoer is, is na die Greytown-hospitaal geneem vir mediese behandeling.
“Die Rietvlei-polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk. Die bestuurder is in hegtenis geneem en word aangekla van strafbare manslag,” het Zwane gesê. “Hy moet binnekort in die hof verskyn.”
Intussen het Dipuo Peters, die minister van vervoer, versoek dat strenger maatreëls toegepas moet word op die manier hoe kinders na skole vervoer word. “Strenger beheer moet veral by die lisensiëring vir die vervoer van skoolkinders toegepas word, asook die inspeksie daarvan,” het sy in ʼn verklaring gesê.
Peters het ook gesê die ongeluk sal steeds ondersoek word en daar sal streng opgetree word indien enigiemand skuldig bevind word aan ʼn misdryf.
Willies Mchunu, die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid, het sy kommer uitgespreek oor die gebruik van bakkies om passasiers en skoolkinders te vervoer. Hy het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om meer paraat te wees en te verseker dat ongelukke, veral waar bakkies betrokke is, verhoed word.
Lees ook:
Skoolkinders dood, een vermis, ná bakkie in dam beland