Bestuurder vasgekeer ná bakkie teen trok bots

Een van die bestuurders moes met lewenskake bevry word. (Foto: Verskaf)

Nooddienste was Donderdagaand genoop om ʼn man met lewenskake uit sy voertuig te bevry nadat hy in ʼn ernstige ongeluk op die R114 naby die Mnandi-omgewing in Centurion betrokke was.

Die private ambulansdiens Emer-G-Med sê ʼn ligte afleweringsvoertuig, oftewel bakkie, en ʼn vragmotor het teen mekaar gebots. Dit het veroorsaak dat die bestuurder van die bakkie in die wrak vasgekeer is.

Die vragmotor was op sy dak gekeer en die bakkie was amper onder die vragmotor ingewig.

“Lewenskake was nodig om hom uit die wrak te bevry, waarna paramedici hard gewerk het om hom te stabiliseer,” sê die ambulansdiens.

“Nadat hy gestabiliseer is, is hy per ambulans na ʼn naburige hospitaal vir behandeling geneem.”

ʼn Motoris wat een van die eerste mense op die toneel was, sê egter daar was ook ʼn ander motor in die ongeluk betrokke. ʼn Gesin, onder wie ʼn baba, was glo die insittendes van dié motor.

“Die pa het beserings aan sy kop en gesig opgedoen. Hy was baie deurmekaar,” sê die ooggetuie.

“Die ma was op die oog af nie beseer nie en die baba het klein snymerke en stampe op sy gesiggie weg.”

Die ooggetuie sê sy het probeer om die gesin te help, aangesien die man nog in die afleweringsvoertuig vasgekeer was.

“Die motor [waarin die gesin was] het die trefslag van voor af gekry. Ek kon nie glo dat daardie gesin lewend daar uitgekom het nie. Dit was ʼn wrak.”

Die bakkie en die vragmotor was glo ʼn ent weg van die gesin se beskadigde motor.

Volgens die ooggetuie was dit ʼn ernstige ongeluk waarin die bakkie byna onder die vragmotor ingewig was. Een van die voertuie was op sy dak, terwyl die ander een op sy sy gelê het.

Dit is nog nie duidelik wat van die gesin geword het of in watter toestand die bestuurder van die vragmotor is nie.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter J

Sommige van die groot vragmotors ry baie roekeloos op die pad. Ek moes 2 weke terug op die N1 naby Worcester in die Wes-Kaap baie vinnig rem toe ń baie groot vragmotor ń u-draai voor my maak.

Kerneels

Een woord: Spoed.