Beswaar teen staat se poging om Airbnb te reguleer

airbnb-slaapkamer-gastekamer

Foto: Jose Soriano/Unsplash.com

Die sakeorganisasie Sakeliga se regspan gaan beswaar aanteken teen ʼn nuwe wetsontwerp wat nadelig kan wees vir die kleinskaalse korttermyn-huisverhuringsbedryf in Suid-Afrika wat deur aanlyn platforms soos Airbnb moontlik gemaak word.

Dit volg ná die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op Toerisme in die Staatskoerant en uitlatings deur Blessing Manale, hoofdirekteur van kommunikasie in die departement van toerisme.

Manale het erken sy departement het die oog op huiseienaars wat hulle eiendom op ʼn klein skaal vir kort tydperke verhuur met die hulp van dienste soos Airbnb.

Die wetsontwerp sal die minister van toerisme toelaat om sekere drempels vir die korttermynverhuring van huise te bepaal. Dit kan insluit ʼn beperking op die getal nagte wat gaste in sulke verblyf kan bly, asook op die getal gaste weens die moontlikheid dat dit waterverbruik in ʼn sekere gebied kan vergroot. Die wetgewing raak ook kwessies soos prys per nag, sonering en veiligheid.

Manale het luidens berigte herhaaldelik gesê sy departement wil nie die Airbnb-bedryf “doodmaak” nie. Die wetsontwerp is eerder glo ʼn poging van die toerismedepartement om ʼn beter uitkoms vir die plaaslike toerismebedryf te skep.

Die wetsontwerp is nou vir die volgende 60 dae oop vir openbare oorlegpleging. Manale sê die departement wil juis hoor van die bedryf en plaaslike regering, asook belastingkenners se insette kry oor hoe om kwessies soos inkomste uit dié bedryf te hanteer.

Die departement beplan om werksessies en seminare aan te bied waar kwessies soos sonering en of Airbnb net in sekere gebiede bedryf mag word met die provinsiale regering en munisipaliteite bespreek sal word.

Manale het ook gesê sy departement wil hoor van die mense wat self dié soort verblyf bedryf en die partye wat voel dit belemmer die tradisionele toerismebedryf.

Sakeliga skop vas teen inmenging van die staat

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, sê die wetsontwerp gaan oor die ingryping in die bedryf van kleinskaalse verhuring en die soort dienste wat deur maatskappye soos Airbnb gelewer word.

“Die minister gaan nie die toerismebedryf bevorder nie, hy gaan pryse kunsmatig opjaag en inmeng in ’n bedryf wat homself baie beter reguleer as wat die regering kan.

“’n Groter voorraad korttermyn-huureenhede lei tot gesonde mededinging. Innoverende markprosesse raak van swak diensverskaffers ontslae. Ten beste is die regering besig om die wiel te herontwerp – en ten slegste blaas hy die toerismebedryf se bande af.

“In die eerste plek is dit nie heeltemal duidelik dat sodanige regulering in hierdie sektor nodig is nie. Markinnovering bring self oplossings voort vir kwellings oor substandaard-korttermynhuurakkommodasie. Innovering in onderlinge gradering verskaf aan huurverbruikers oorgenoeg inligting oor aanbiedinge. Verder word korttermynhuurverskaffers en kliënte ook gegradeer, wat tot groter vertroue in die mark lei,” het Van Onselen gesê.

Sakeliga se regsontleder, Daniel du Plessis, verduidelik: “Die wetsontwerp beoog om artikel 7 van die Wet op Toerisme te wysig ten einde die minister se reguleringsbevoegdhede uit te brei om ook ’n aantal beperkings en drempels in te sluit wat op korttermynverhuurders geplaas word. Afgesien van die potensiële inbreuk wat hierdie drempels op eiendomsreg maak, is dit heeltemal oorbodig.”

Volgens Sakeliga kan hierdie regulasies se gevolge uitkring na die res van die Suid-Afrikaanse toerismebedryf. Die regering moet die impak daarvan deeglik oorweeg voordat hy dit in werking stel.

“Dit is belangrik om te onthou dat akkommodasie net een deel van toerisme in Suid-Afrika is. As die regering per abuis die mark vir akkommodasie belemmer of vertraag, kan dit lei tot hoër koste vir ander instellings, wat ’n afname in kliënte en besoekers kan meebring. Die onlangse teenproduktiewe visumvereistes was ’n duur les vir die regering – en die toerismebedryf moes vir die gelag betaal. Laat ons nie die bedryf weer kortwiek nie,” het Du Plessis gesê.

Sakeliga se standpunt is dat die regering eers moet kyk hoe tegnologie nou die rol speel wat statutêre reëls en sentrale graderingstelsels tipies in die verlede gespeel het. ’n Bietjie vertroue in nuwe markinnovering sal waarskynlik groot dividende vir die sektor oplewer.

“In die lig van die kommerwekkende stand van Suid-Afrika se fiskus en staatsbeheerde instellings is dit baie duidelik dat die publiek dit nie kan bekostig om belastinggeld op die bou van onnodige burokrasieë en funksies van die staat te vermors nie. As die regering hierdie regulasies wil hê, moet hy eers ’n tasbare behoefte daaraan en die waarskynlike voordele daarvan toon, vergeleke met die koste,” het Van Onselen bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Judge Dredd ·

Nee – julle soek na maniere om die bedryf te melk vir nog geldjies.

Karl ·

Jip nes jy daar sê @JudgeDredd, hulle wil net nog n bedryf melk en geld daaruit vat sonder om enige, enige werk te doen of om te help. Want in SA is die ministers en 80% van die land se houding “give me, give me, give me”

Boerboel ·

Stem saam Judge Dredd, die soustrein is mos lekker, melk die koei!

Deloris ·

En so gaan ons hou vir hou grond toe… maar daar is baie ander maniere o te adverteer…

koos ·

Reguleer taxis, reguleer misdaad, reguleer die ekonomie, Maar hoekom iets wat werk wil reguleer?

Andreas ·

So smoor hulle die inisiatiewe van enige entrepreneur, dis deels rede waarom die ekonomie nie aan die gang kan kom nie, ons is al oorreguleer, maar nee, ek sien geen ore aan hul koppe nie.

BlinkStephaans ·

Dit is mos maar hoe die regering van ons dag tewerk gaan… hulle sit en slaap en dan op n dag skrik een wakker en sê…. wat is hierdie ding… dit werk goed en mooi en word bedryf reg oor die wêreld… ook hier by ons. Hoekom het niemand ons gesê nie… ons sou graag met ons reëls en regulasies wou help dat dit nog beter werk. Ja nee regtig hoor julle ou spulletjie is n pragtige voorbeeld van hoe alles waarin julle n hand het net beter werk ne. Julle soek nog geld… dit het sweet blue foxtrot te doen met die bedryf help.

David ·

Hier is my klip in die bos:

Is dit moontlik dat die minister dalk nie hou daarvan dat witmense moontlik ‘n alternatiewe bron van inkomste het, wat nie hulle deur BEE kan ondermyn nie?

Nou maak hulle alternatiewe wette !

Jack Sadie ·

Jammer, ek het vergeet. Net soos met beurtkrag en talle ander rompslomp,sal die regulasies ook nie ( tenvolle) geld vir plekke soos Soweto nie.

Jax ·

Se voet! Die regering mors net ons baie swaar verdiende geld!
Dan doen ons maar weer alles onder die tafel. Ek maak soos ek wil – die regering se voet!

Willie Van der Schyf ·

Hierdie is ń manier om verder entrepreneurskap in te perk. Die toerisme bedryf ( AirBnb ), is meer as bevoeg om hulself te reguleer. Ek as besoeker wil bly waar ek gemaklik, veilig en tuis voel…….en dit my sak pas.

Pieta ·

Daar is niks waaroor die regering beheer wil hê wat hul nie ‘n duur gemors van maak nie.

Willie ·

Vir myself is daar ‘n vraagstuk oor belasting. Ons volkie is mos nie misdadigers nie. Dus, jy begin ‘n Air BnB, huisves so nou en dan ‘n gas, maak ‘n paar geldjies daaruit, verklaar elke pennie daarvan, en trek dan meer “uitgawes” af as inkomstes. Dink maar aan al die rente op jou verband, jou water en ligte, huishulp, om net ‘n paar voorbeelde te noem van uitgawes wat meteens aftrekbaar is. Alternatiewelik verklaar jy eenvoudig nie jou Air BnB-inkomste nie. So staan meeste van ons BnB-bedrywers net so skuldig aan selfverryking te koste van die staat (ook bekend as misdaad) as die ouens oor wie ons so knaend kerm. (Kyk nou hoe ongemaklik skree ons ou volkie oor hierdie ongewilde onthulling). Myns insiens behoort die staat eers hierdie belastingverwante skuiwergat toe te stop voordat daar verder gepraat word oor die meriete aldan nie van Air BnB’s.

Penellope Jones ·

Die staat tree op soos ‘n jaloerse skoolkind wat alles vir homself wil he.
Word groot asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.