Betaal Eskom-bonusse terug, vra DA

EskomDie DA het Dinsdag ʼn beroep gedoen op top-amptenare van Eskom om die R10,8 miljoen se aansporingsbonusse wat hulle verlede jaar ontvang het, terug te betaal.

Die DA het Lynn Brown, minister van openbare ondernemings, ook versoek om te verduidelik hoekom Eskom se top-amptenare bonusse gekry het terwyl die maatskappy “in mekaar val”.

Natasha Mazzone, DA-LP, het gesê sy het ʼn brief aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings geskryf en haar versoek om die minister te ontbied om voor die komitee te verskyn.

Brown het Maandag in antwoord op ʼn parlementêre vraag bekend gemaak dat Eskom se tien top-amptenare in 2014 ʼn totaal van R10,759 miljoen in aansporingsbonusse verdien het. Eskom het in 2014 ʼn wins van R5,4 miljard ná belasting gemaak.

Brown se antwoord kom minder as ʼn week nadat vier van Eskom se senior beamptes, onder wie die kragvoorsiener se uitvoerende hoof, geskors is terwyl ʼn ondersoek gedoen word.

Mazzone het intussen gesê sy gaan opvolgvrae indien en die minister vra watter kriteria gebruik is in die toekenning van die aansporingsbonusse. “Die DA het vroeër geëis dat Eskom-bestuurders die geskatte R63 miljoen waarmee hul beloon is sedert beurtkrag in 2008 ingestel is, moet terugbetaal.”

Mazzone het gesê indien Brown ernstig is om die huidige krisis by Eskom op te los, sy onmiddellik ʼn verbod op bonusse vir bestuurslede moet plaas tot die maatskappy stabiel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AP van Schalkwyk ·

Hoekom moet Rhodes se standbeeld verwyder word? Hy het n belangrike rol gespeel en sy politieke inmenging was een van die redes vir die Anglo boereoorlog. Die mense wast nou protester is besig om teen donderweer te sing. Hy was deel van SA se geskiedenis en niemand kan dit verander of wegwens nie…..wat gebeur het, het gebeur

Andre ·

Ek stem saam dat die bonus gelde wat ontvang is terug betaal moet word.

Maar wat word met die R 5.4 Miljard na belasting spaar bussie gedoen?
Hoekom word nie van die fondse gebruik om daadwerklik n verskil te maak in die onderhoud wat vir so lang afgeskeep is nie? Hoekom vergroot ons nie die steenkool reserwes by van die kragstasies nie… daar is soveel hoekom’s! Of is die fondse vir “iemand” se koffertjie?

J.Z ·

Zuma betaal nie, so en as iemand dink Eskom se mense gaan terug betaal, is wens denkery.Die nuwe SA betaal nie terug nie ,neem net!!!!.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.