Die departement van toerisme het glo miljoene rande verloor deur foutiewe betalings wat uit sy toerismehulpfonds en die hulpfonds vir toergidse uitbetaal is.
Volgens die DA het Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, in antwoord op parlementêre vrae deur die party onthul dat dié bloutjie die departement R13 miljoen gekos het.
“Groot tekortkominge” en ’n “gebrek aan kontrole” by die uitbetaling van geld aan begunstigdes van dié fondse tydens die inperking is onder meer as redes vir die flater aangevoer.
“Betalings is uit albei fondse gemaak sonder behoorlike maatreëls om te verseker dat geld slegs aan regmatige begunstigdes betaal word.
“Verdere parlementêre antwoorde dui daarop dat een begunstigde van die toerismehulpfonds en 26 begunstigdes van die hulpfonds vir toergidse boonop twee keer betaal is,” sê Manny de Freitas, die DA se skaduminister van toerisme.
De Freitas sê foutiewe betalings van R4 500 is aan 17 oorlede begunstigdes uit die departement se hulpfonds vir toergidse betaal.
Daar is glo ook 273 verkeerde betalings uit dieselfde fonds aan begunstigdes van maatskaplike toelaes gemaak, asook 1 350 betalings aan begunstigdes van die werkloosheidsversekeringsfonds.
Nóg 58 betalings is glo aan mense in diens van die staat gemaak, terwyl 1 172 betalings aan mense met ongeldige of verkeerde identiteitsnommers gemaak is.
“Dit is skokkend dat die toerismedepartement nie tydens die aansoek- en betalingsproses ’n eenvoudige identiteitsnommer én of ’n persoon nog lewe kon bevestig nie.”
De Freitas sê dit is verder onaanvaarbaar aangesien daar honderde toergidse is wat onder erge finansiële druk gebuk gaan.
“Dit is nog ’n voorbeeld van miljoene rande wat verlore gegaan het weens onbevoegde ANC-kader-ontplooiers wat belastingbetalers se geld administreer.”
Sisulu het glo aangedui dat die saak ondersoek word en teen April vanjaar afgehandel sal wees.
Die DA sê hy sal die saak monitor om onder meer te verseker dat die geld terugbetaal word en die verantwoordelike partye aan die pen ry.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
is dit wat julle dit noem “betaalflaters”? Dis diefstal, “plain and simple”.
en sy wil wat?? staan vir prez??
Dit is suiwer bedrog en diefstal. Daar kan nie so baie flaters wees nie.
Die verwoestende trein van ANC gierigheid en absolute onbevoegdheid stop net nie!Hul het GEEN emosie oor geld as skaars hulpbron. Hul moet weerhou word van uitbetaling of beheer oor ENIGE geld!!!Luister ASB Mnr Ramaphosa> DOEN jou werk!
Wie het die betalings gedoen en wie het dit goedgekeur?