Betalings aan 300 Aurora-werkers verwelkom

Foto: Reint Dykema

Die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne het Woensdag berigte verwelkom dat 300 voormalige werknemers van Aurora Empowerment Systems betalings sal ontvang, maar het benadruk dat die meerderheid nie enigiets sal ontvang nie.

“Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne, Sahlulele Luzipo, het gemengde gevoelens uitgespreek oor die jongste verwikkelings wat betref die voormalige werknemers van Aurora,” het die komitee in ʼn verklaring gesê.

“Hy het gesê alhoewel dit die moeite werd is om te vier dat 300 werknemers uiteindelik hul agterstallige salarisse sal ontvang, is dit net so betreurenswaardig dat die meerderheid werkers nie betaal sal word nie, omdat hul eise onsuksesvol was.”

Aurora het ongeveer 5 300 myners in diens gehad voor rampspoedige wanbestuur tot likwidasie in Oktober 2010 gelei het.

Lupizo het bygevoeg dit is “selfs nog meer betreurenswaardig” dat talle voormalige Aurora-werkers gesterf het toe hulle tevergeefs vir betaling gewag het.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het ʼn soortgelyke mening uitgespreek toe die vakbond aangekondig het dat die 300 werknemers ʼn gedeeltelike uitbetaling sal ontvang van agterstallige salarisse ná hul eise goedgekeur is.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê daar sal ʼn tweede geleentheid wees vir voormalige Aurora-werknemers om tot einde September 2018 hul uitstaande eise te voltooi en in te dien. ʼn Hofaansoek sal gedurende September 2018 gebring word om al die direkteure te sekwestreer, omdat al die voormalige Aurora-direkteure steeds in gebreke bly om aan die hersiene terugbetalingsooreenkomste te voldoen.

“Ná agt jaar van swaarkry, is die eerste betalings en die sekwestrasie van die Aurora-direkteure ʼn oorwinning vir geregtigheid vir elke werknemer, maar die pyn en lyding was so groot dat dit ʼn hol oorwinning is,” het Du Plessis gesê.

Volgens hom het die Aurora-direkteure wat Khulubuse Zuma, oudpresident Jacob Zuma se kleinneef, Zondwa Mandela, oudpresident Nelson Mandela se kleinkind, Thulani Ngubani, Solly Bhana en Fazel Bhana insluit, daarin geslaag om vir etlike jare alle regsprosesse wat teen hul aanhangig gemaak is, te vertraag. “Gelukkig, na ʼn jarelange regstryd het die eerste deurbraak uiteindelik op 25 Junie 2015 in die Pretoriase hooggeregshof gekom, toe regter Eberhard Bertelsmann die Aurora-direkteure in hul persoonlike hoedanigheid aan bedrog skuldig bevind het,” het Du Plessis bygevoeg.

Hy het die Aurora-direkteure se strooptog soos volg in perspektief gestel. “Tussen 2009 en 2010 is R1,7 miljard se skade aan die mynbates aangerig, en R122 miljoen se goud is deur Aurora verkoop waarvan geen opbrengs getoon is nie. ʼn Enorme bedrag van R35 miljoen is aan familielede van die Aurora-direkteure oorbetaal en as terugbetaling van lenings omskryf. Daar is geen bewyse dat die geld inderdaad geleen is nie.”

Du Plessis sê voorts dat miljoene rande se pensioenfonds-, werknemerbelasting- en werkloosheidversekeringsfonds-aftrekkings van werknemers se salarisse verhaal is, maar dat dié geld ook verdwyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kalahari ·

Swak bestuur en skelm optredes van plunderingen diefstal.

Henk ·

My vraag bly – waarom is geen strafregtelike klagtes van bedrog en korrupsie teen die direkteure ingestel nie? Omdat daar n xuma en mandela betrokke is?

marous ·

Waar is die gillery en eise dat die bedrieers in die tronk gegooi moet word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.