Betalings gemaak aan stakende busdienswerkers

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Staking deur munisipale busdienswerkers van Durban sal na verwagting binnekort opgeskort word, nadat die eThekwini-munisipaliteit begin het om hulle te betaal.

Die munisipaliteit het Dinsdag in ʼn verklaring gesê 238 werknemers van die munisipale busdiens, wat deur die maatskappy Transnat bedryf word, is betaal.

Transnat het in Desember versuim om salarisse of bonusse aan sy werknemers te betaal.

Die munisipaliteit het ʼn ooreenkoms aangegaan waarvolgens die salarisse direk aan die werknemers betaal sal word om ʼn staking te voorkom, maar busbestuurders het Maandag die N3 versper, uit frustrasie omdat hulle nog nie betaal is nie.

Volgens die verklaring sal die munisipaliteit die res van die bestuurders betaal sodra hul bankbesonderhede bevestig is.

Die busdiens is in 2003 vir R70 miljoen aan Remant Alton Land Transport verkoop.

Die munisipaliteit het in 2008 R405 miljoen spandeer om die busse van die sukkelende Remant Alton terug te koop. Die maatskappy het nog vir ʼn jaar lank steeds die busdiens bedryf met die busse wat aan die munisipaliteit behoort.

Transnat BK is in 2009 aangestel om die diens te bedryf, maar dit was ook nie suksesvol nie, en die munisipaliteit moes ekstra finansiering verskaf.

Transnat, wat aan die taxibaas Mandla Gcaba behoort, sukkel om die diens aan die gang te hou en die munisipaliteit het hom al gedagvaar.

Die munisipaliteit het in Augustus verlede jaar aangekondig dat hy ʼn munisipale entiteit gaan oprig om die diens te bedryf. Daar was tot dusver nog geen verdere aankondiging nie en dit is nie bekend wanneer die diens weer deur die munisipaliteit besit of bedryf gaan word nie.

Bestuurders en personeel was van die begin af gekant teen privatisering van die diens en het al op verskeie geleenthede die afgelope tien jaar betogings gehou teen vermindering van salarisse en voordele.

Die munisipaliteit het Dinsdag in sy verklaring gesê hy is van voorneme om die salarisse van Transnat te verhaal.

Die munisipaliteit maan pendelaars om intussen alternatiewe reëlings te tref terwyl die betalingskwessie opgelos word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Griki ·

En toe val BEE weer eens uit die bus en kos die belastingbetalers miljoene. Waarom moes die werkers eers staak om hulle geld te kry? Dis heeltemal onaanvaarbaar en verregaande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.