Hoe goed spel en skryf jy Afrikaans?

Skermskoot van Beter Afrikaans op 'n slimfoon

Skermskoot van Beter Afrikaans op ‘n slimfoon

Beter Afrikaans is ʼn gratis webdiens waar Afrikaanssprekendes, jonk en oud, in ʼn japtrap meer kan leer oor kwellende taalvrae. Die doel van hierdie diens is om op ʼn interaktiewe manier die spel- en skryfreëls van Afrikaans aan gebruikers te bied.

“Die digitale era vereis dat ons op nuwe maniere moet dink oor Afrikaans,” het Gerhard van Huyssteen, ontwikkelaar van Beter Afrikaans, gesê. “Ons lewe in ʼn tyd van 140-karaktertekste, inligting moet bondig aangebied word. Aksies moet naatloos op ʼn selfoon of tablet uitgevoer kan word. Beter Afrikaans is op dié mark gerig.”

Die webdiens werk op ʼn eenvoudige, doeltreffende manier. As ʼn persoon geregistreer het op die webwerf, kan die persoon elke weeksdag ʼn e-pos met ʼn skakel ontvang (of die persoon kan elke dag self na die webwerf gaan). Dit neem minder as twee minute om die speltoets te voltooi – hetsy op ʼn rekenaar, tablet of selfoon. Die speltoets bestaan uit vier veelkeusevrae en sodra die vrae beantwoord is, ontvang die gebruiker onmiddellik ʼn eensinbespreking oor die korrekte antwoorde.

Indien die gebruiker meer wil leer oor die korrekte antwoord, is daar meer omvattende verduidelikings op die webwerf beskikbaar. Onderwerpe soos los of vas skryf, hoofletters, homonieme, idiome, intensiewe vorme en nog baie meer word gedek.

Die veelkeusevrae is op drie moeilikheidsvlakke ingedeel: maklik, gemiddeld of moeilik. Vrae soos die volgende help mense om nie net hulle spelvermoë te verbeter nie, maar ook hulle algemene kennis:
1. Wat is die naam van die hoofstad van die Oos-Kaap? (1) Bisho; (2) Bhisho; (3) Mthatha; of (4) Umtata
2. Voltooi die idioom: Die … het in die as geval. (1) vleis; (2) koek; (3) tert; (4) pap

Die gebruiker se uitslae word gestoor, sodat die gebruikers hulle uitslae met mekaar kan vergelyk. Gebruikers kan ook hulle uitslae op Twitter met ander gebruikers deel.

“Spelling en taal word dikwels deur (jong) mense gesien as muf en stowwerig. Met Beter Afrikaans wil ons probeer om spelling deel van ʼn mens se daaglikse roetine te maak: terwyl jy ontbyt eet, op pad skool toe is, of in die Gautrain ry,” het Van Huyssteen verduidelik.

Onderwysers kan Beter Afrikaans maklik in die klaskamer gebruik, veral in situasies waar leerders hulle eie selfone of tablette het. Skop elke dag af met ʼn Beter Afrikaans-sessie waar leerders teen mekaar meeding. Tipiese foute kan dien as ʼn aanknopingspunt vir ʼn klasbespreking.

ʼn App word vir die toekoms beplan, terwyl die ontwikkeling van ʼn soortgelyke diens vir wiskunde (Beter Wiskunde en Better Maths) ʼn aanvang sal neem. As alles glad verloop is Engels (Now Better English) ook in die pyplyn, en selfs ander Suid-Afrikaanse tale sou oorweeg kon word.

Beter Afrikaans is ontwikkel in samewerking met ʼn soortgelyke webdiens vir Nederlands, Beter Spellen (www.beterspellen.nl). Beter Spellen is rasend suksesvol in Nederland en België, met meer as 90 000 aktiewe gebruikers. Dié veelbekroonde diens is onder andere tot webwerf van die jaar verkies in Nederland en daarmee mededingers soos YouTube, Groupon, Facebook en Buienradar uitgestof.

Besoek gerus Beter Afrikaans se webwerf, Facebookblad of op Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anet ·

Baie dankie Gerhard, ek geniet dit om die toetse te skryf, en dink Beter Afrikaans gee aan almal
die geleetheid (vir al die van ons wat nou nie meer nat agter die ore is nie),om weer te leer spel, los of vas skryf van ‘n woord, asook idiome ens.Ons is so bederf met tegnologie dat jy net op die “spelling check” kliek en siedaar alles reg. Baie opgewonde oor hierdie webdiens vir Afrikaanssprekendes

Elizabeth ·

Uitstekende nuus, hoop baie mense gaan gebruik maak hiervan!

Hanno Visagie ·

Hoekom in Afrikaans app(lication) – “ep” – in plaas van toep(assing)? Moedswillige polities korrekte verengelsing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.