Beter as verwag, maar verskerpte regulasies steeds gekap

(Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Hoewel die gewysigde afsonderingsregulasies oor die Paasnaweek minder streng is as wat aanvanklik vermoed is, het die DA die besluit om alkoholverkope vir tuisgebruik vier dae lank te verbied steeds as “heeltemal onwetenskaplik” bestempel.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand aangekondig drankverkope word van Vrydag tot Maandag opgeskort, hoewel kuierplekke steeds alkohol mag bedien.

DA-leier John Steenhuisen het in reaksie op die besluit gesê dit gaan verdere druk op die inkomste plaas van diegene wat in die drankbedryf werk. “Dit is die optrede van ʼn regering wat nie meer idees het nie en uit voeling is met die lot van sy burgers.

“Dit is ʼn regering wie se vrygewige salarisse nie geraak word deur arbitrêre afkondigings nie.”

Steenhuisen sê die eerste twee verbodsbepalings op alkohol het tot 165 000 werksverliese gelei. Volgens ʼn opname van Kaapstad-toerisme moes meer as tweederdes van sakeondernemings van hul werkers aflê en meer as 80% moes mense se salarisse verminder.

“Ons land ondervind ʼn ongekende werkskrisis. Dit is bykans ondenkbaar dat die regering hom blind sal hou hiervoor en met ʼn penstreep ʼn arbitrêre, onwetenskaplike beperking instel wat niks met die bekamping van Covid-19 te doen het nie en dreig om selfs meer lewens en inkomste te verwoes,” sê Steenhuisen.

Hy sê hoewel vier dae dalk soos min klink, is dit sinlose dae. “Die enigste rede waarom ons hierdie sinlose verbod sien, is omdat die dinge wat werklik ʼn verskil kan maak, oënskynlik buite die vermoë van die regering is.

“Dit is bloot die ANC wat desperaat probeer om besig te lyk. Hy is onbekwaam om die een ding te doen wat saak maak – die verkryging en verspreiding van miljoene dosisse entstof – en voel nou hy moet iets voor Paasfees doen, selfs al doen dit meer kwaad as goed.”

Steenhuisen sê die regering het geen entstofplan nie, verhoog nie meer hospitale se kapasiteit nie en het nie die politieke spierkrag om belangegroepe soos kerke te oortuig om strenger bepalings te aanvaar nie.

Hy sê die regering val dus terug op ʼn drankverbod.

Steenhuisen sê toe die drankverbod verlede jaar ingestel is, het die regering aangevoer dit is om te verseker genoeg hospitaalbeddens is beskikbaar. Sedertdien is die kapasiteit by agt van die nege provinsies nie juis verhoog nie.

Die vakbond Uasa het intussen gesê die verbod op drankverkope gaan druk op die gesondheidstelsel oor die Paastyd verminder en het die besluit verwelkom om Suid-Afrika op afsonderingsvlak 1 te hou.

Abigail Moyo, woordvoerder, sê die meeste mense kon verlede jaar oor Paastyd glad nie by hul geliefdes wees nie en sal waaksaam wees wanneer hulle vanjaar reis.

“Ons verwelkom die besluit om ontspanningsgebiede oop te hou, omdat dit die ontspanning- en toerismebedryf van die ekonomiese verwoesting vanweë die pandemie gaan help herstel.”

Moyo sê Uasa glo die besluit om drankverkope op te skort gaan padongelukke beperk en druk op die gesondheidstelsel verlig wanneer mense tussen provinsies reis.

“Suid-Afrika is nog nie gereed om na die lewe voor die pandemie terug te keer nie en terwyl ons wag vir ʼn entstofverspreidingsplan, doen ons ʼn beroep op ons lede en Suid-Afrikaners in die algemeen om waaksaam te wees en reis sover moontlik te vermy.

“Ons kan nie ʼn derde vlaag bekostig nie,” sê Moyo.

Die drankbedryf sê hy het ook die regering se besluit aanvaar.

Die Suid-Afrikaanse Drankhandelsnaamvereniging (Salba) sê tydens die vorige verbodsbepalings is alle drankverkope opgeskort en dit het tot ʼn enorme geldelike verlies gelei.

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê die besluit om drankverkope steeds by plekke soos tavernes, kroeë en restaurante toe te laat, word veral verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Abraham

Ag jinne DA tog! Moet altyd ‘n eier te le he. Leer julle dan nie dat julle nerens gaan kom nie..

Sarel

Vroër tyd was alles oor Paasnaweek toe . Dit behoort weer i stelling te word vir Paas / Kersfees

henndrik

Ek stem saam, dit is glad nie ‘n logiese besluit nie, hoe kan mens shebeens toelaat om drank te verkoop aan klante maar ‘n drankwinkel kan nie.

johan

Dit is juis by die tavernes en drinkplekke waar die moeilikheid kom ,maar die word oop gelos. Maak nie sin dat drankwikels nie mag oopmaak nie want dit gaan nie keer dat mense dronk bestuur nie. Almal gaan nou net eenvoudig genoeg koop vir die paasnnaweek. Maar nou ja so lyk dit as jy mense aan die stuur het wat nie kan dink nie.

Casper

Wel Johan,as jy wil drink gaan niks jou keer nie,as jy wil dronkbestuur gaan niks jou keer nie,as jy roekeloos bestuur en iemand se lewe van hom of haar gevat is jou gewete elke dag saam met jou maar my uitgamgspunt is,as ek by my huis drink pla ek niemand nie.My gevoel is dat bottelstore en ander drankplekke moet toe wees op Christelike vakansie dae.Die beheptheid oor geld het morele waardes laat verdwyn.