Beter toesig moet gehou word oor gewasbesproeiingsoperasies op plase.
Só beveel die Burgerlugvaartowerheid (BLO) aan in ʼn voorlopige verslag na ʼn voorval waarin ʼn jong man deur die vlerk van ʼn bespuitingsvliegtuig getref is.
Tiaan Daffie (21) is ernstig beseer toe die vlerk van die Air Tractor hom verlede maand op die plaas Elandsfontein buite Fochville in Gauteng getref het. Luidens die BLO se verslag het die boer die dienste van ʼn bespuitingsvliegtuig bekom nadat sy lande weens swaar reën te nat wees om met trekkers en sproeiers in te kom.
Dié tipe vlugte word bestempel as hoërisiko vlugte wat oor groot dele van die land en met verskillende soorte vliegtuie gedoen word.
Die BLO sê daar was die afgelope ruk verskeie voorvalle wat met lugbespuiting of landboubedrywighede verband hou. Onvoldoende toesig rakende veiligheid tydens die operasies is geïdentifiseer as ʼn noemenswaardige bydraende faktor weens die afwesigheid van veiligheidsbeamptes of -bestuurders asook die afwesigheid van BLO-amptenare wat toesig oor die bedrywighede hou.
In die meeste gevalle is ʼn enkele vlieënier betrokke, ondersteun deur ʼn grondbemanningspan wat help met die volmaak van die vliegtuig en die onkruiddodervoorbereidingspan, met “veiligheidsoorsig in gebreke”.
Daffie is ernstig beseer toe die punt van die linkervlerk hom net onder die knie getref het. Sy linkerboarm is ook gekneus. Volgens die BLO-verslag het die boer hom na ʼn hospitaal op Potchefstroom geneem, waar hy dieselfde dag nog ʼn operasie ondergaan het.
Maroela Media het vroeër berig daar was aanvanklik vrese dat Daffie sy been sou kon verloor. Hy herstel intussen steeds op die plaas waar hy ook woon, en sal oor drie weke ʼn MRI-skandering ondergaan sodat ʼn geheelbeeld van die been se genesing gekry kan word.
Sy regsverteenwoordiger, Michael Ellis, sê dit gaan onder die omstandighede goed met Daffie, maar dat hy steeds heelwat pyn verduur. Dit lyk in hierdie stadium of die been goed genees.
Só gebeur ongeluk volgens voorlopige verslag
Luidens die verslag was die vlieënier besig met die bespuiting toe Daffie, ʼn familievriend van die boer, opgedaag en saam met een van die boer se dogters tussen 100 m en 130 m van die veld af gaan staan en kyk het na die vliegtuig wat in hulle rigting aangevlieg gekom het.
“Die persoon [Daffie] het besluit om ʼn video van die vlug met sy selfoon te neem. Hy het gesê terwyl die vlieënier gewasbesproeiing gedoen het, het hy regop gestaan terwyl die vliegtuig hom genader het; hy het daarna gebuk en toe op sy hurke gesak,” lui die verslag.
Toe die vliegtuig sowat 25 m weg was, het hy plat gaan lê met die selfoon tussen sy knieë vasgeknyp.
Volgens die vlieënier was hy net op pad om met sy volgende strook bespuiting te begin, toe hy ʼn voertuig sowat 100 m van die veld gesien het. Hy het ook gesien hoe mense na die voertuig hardloop. Volgens hom was die voertuig nie tydens die vroeëre bespuiting daar nie. Hy het verder bespuit en sig van die voertuig en die mense verloor.
Luidens die verslag was die vlieënier onder die indruk dat die mense steeds by die voertuig staan en uit sy pad is. Kort daarna het hy ʼn dowwe plofslag gehoor en gedink hy het ʼn voël getref. Hy het egter mense sien hardloop en die boer op sy selfoon daaroor gebel. Dié het hom ingelig dat hy iemand op die grond getref het, lui die verslag.
Volgens die ervare kommersiële vlieënier, ʼn man met meer as 13 300 vliegure agter die blad, moes hy weens die chemikalieë wat gebruik is, asook die heersende weerstoestande, op ʼn baie lae hoogte vlieg. Hy het teen sowat 250 km/h gevlieg en sigbaarheid uit die kajuit was weens die onkruiddodertenk en enjinkompartement beperk. Hy het ook nie enige mense in sy vlugpad gesien nadat hy die bespuitingstrook afgehandel het nie.
Afsonderlike ondersoek gedoen
Ellis sê hulle het kennis geneem van die BLO se voorlopige verslag, maar wag nou vir die uitslag van hul eie ondersoek na die voorval. Een van die doelwitte van dié afsonderlike verslag is om te konsentreer op kwessies waaroor hulle spesifieke vrae het. Dit behoort binne die volgende paar weke afgehandel te wees.
Wouter Botes, ʼn lugvaartkenner, sê dit is moeilik om enige afdoende gevolgtrekkings op grond van die voorlopige verslag te maak en dat die finale verslag na verwagting beter lig op die saak sal werp.
Mnr.Duffy se regsverteenwoordiger.Wil hulle siviele aksie instel.Nee Boetman jy was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.Net die vlieënier en die grondspan moet daar wees en nie nuuskierige agies soos jy nie.
Die man was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, die vlieenier het net sy werk profesioneel uitgevoer.