Beter weerdienste kan lewens, ekonomieë red

Dele van Mpumalanga het onlangs oorstroom. (Foto: Verskaf)

Derduisende menselewens en ekonomieë in Afrika kan gered word as die weerdienste van die vasteland inwoners betyds waarsku oor verwoestende weerstoestande.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) sê dié verbeteringe kan slegs aangebring word as weerdienste ʼn digitale transformasie ondergaan.

Gelukkig vir Suid-Afrika het sy weerdiens klaarblyklik reeds stappe gedoen om dit te bewerkstellig.

Plaaslike en internasionale kundiges in weer-, klimaat- en waterdienste het vandeesweek saam met besluitnemers in Afrika byeengekom in ʼn poging om die digitale transformasie van die hidrometeorologiese dienste van die vasteland te bewerkstellig.

Dié konferensie wat deur die WMO aangebied is, se oorhoofse doelwit was om ʼn strategie te ontwikkel om die vermoëns van meteorologiese dienste in Afrika ʼn hupstoot te gee deur toepaslike digitale tegnologieë te gebruik om vroeëwaarskuwingsdienste aan mense te verskaf.

“Die digitalisering van die meteorologiese dienste in Afrika sal die oordragspoed van data versnel en die vermoë verhoog om inligting uit te ruil soos dit plaasvind,” sê prof. Petteri Taalas, sekretaris-generaal van die WMO.

“Dit is ʼn kardinale stap om te verseker dat weervoorspellings en waarskuwings omtrent hidrometeorlogiese gevare uitgereik word voor en soos dit gebeur.”

Dr. Abraha Adugna, Ethiopië se minister van water en energie, het op die konferensie gesê dat digitalisering vir weerdienste veral belangrik is, gegewe die verwoestende uitwerking wat natuurrampe in Afrika het.

“Die frekwensie en intensiteit van weergevare is beduidend in Afrika en die impak plaas druk op die gebied se sosio-ekonomiese sektore.”

In April verlede jaar het verwoestende reën in KwaZulu-Natal tot oorstromings en grondverskuiwings gelei. Die oorstromings het tot die dood van byna 500 mense gelei en het die regering miljarde rand in infrastruktuurskade gekos. Duisende mense is dakloos gelaat.

Dit terwyl dele van Kenia, Ehtiopië, Soedan en Somalië tans ʼn erge droogte ervaar met meer as 13 miljoen mense wat deur hongersnood in die gesig gestaar word.

“Digitale transformasie kan toegang tot ernstige weerwaarskuwings maklik maak en die veiligheid van veel meer mense en hul eiendomme verseker,” sê Taalas.

SA reeds op die regte spoor

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se kantore in Gauteng. (Foto: Google)

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het reeds werk daarvan gemaak om hierdie soort weerwaarskuwings so akkuraat as moontlik en vroegtydig aan burgers uit te reik.

“Die SAWD funksioneer as ʼn openbare instelling in die departement van omgewingsake, en is volgens wet die enigste instansie in Suid-Afrika wat weerverwante waarskuwings mag uitreik,” sê hy.

“Maar om goeie voorspellings en waarskuwings te kan uitreik word ʼn goeie weerstasienetwerk benodig. Die SAWD beskik tans oor ongeveer 240 weerstasies wat die belangrikste weerveranderlikes meet, en oor meer as 1 100 reënmeters wat oor die hele Suid-Afrika versprei is. Hierdie stasies word nog goed onderhou, en bied ʼn goeie basis vir weermonitering.

“Die SAWD is boonop die enigste weerdiens in die suide van Afrika wat sy eie weervoorspellingsmodel op ʼn superrekenaar simuleer.”

Rautenbach, wat in die verlede gereeld by die SAWD se bedrywighede betrokke was, sê die weerdiens maak gebruik van die Unified-weervoorspellingsmodel van die Britse Weerdiens en die model word plaaslik daagliks gesimuleer om die mees akkurate weervoorspellings voor te berei.

“Die SAWD het baie in hierdie model en superrekenaarfasiliteite belê en dit verseker baie goeie weervoorspellings vir die land.”

Die weerdiens het onlangs sy weerwaarskuwings so gestruktureer dat impakvoorspellings boonop nou gemaak word. Hierdie voorspellings gee nie net weervooruitsigte nie, maar ook die impak wat hierdie weervooruitsigte op die publiek kan hê. Raad word ook verskaf oor hoe mense op die risiko’s kan reageer om skade en lewensverlies te beperk.

“Dié nuwe manier van waarskuwings rapporteer is ʼn reuseverbetering en is van groot waarde vir Suid-Afrikaners,” sê hy.

In ʼn poging om hierdie voorspellings maklik toeganklik te maak vir die publiek het die weerdiens die WeatherSmart-app van stapel gestuur, wat mense in staat stel om weervoorspellings vinnig in die hande te kry.

Rautenbach erken dat die weerdiens finansiële verliese gelei het tydens die Covid-19-pandemie, aangesien die lugvaartbedryf – wat een van die SAWD se grootste inkomstebronne is – feitelik tot stilstand gedwing is.

“Die weerdiens is wel weer besig om op die been te kom en is steeds een van grootse weerdienste in die suide van Afrika. Die weerdiens stel ook kundiges direk van die Universiteit van Pretoria aan wat voordelig is vir die land,” sê hy.

“Ek is daarvan oortuig dat, onder die omstandighede, ons steeds een van die beste weerdienste in Afrika het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Gelukkig… Klaarblyklik… So ons Weerdiens sal dan gelukkig die enigste diens in SA wees wat wel werk? En dit met vooruitskouing nogal? In watter jaar?

Piet parys ·

Watter weerdiens . Die laaste jare kan ek beter raai . App s werk nie eers nie . As dit reen dan sê my app dit reen nie en anders om . Het 3 apps nie een reg nie . Nee wat kyk maar na die natuur dis meer akkuraat .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.