Beterskap vir Centurion-matriekseun

Antonio Hechter. Foto: Facebook

Dit gaan aansienlik beter met Antonio Hechter, die matriekleerder van Hoërskool Zwartkop wat net minder as twee weke gelede ernstige beserings in ʼn motorfietsongeluk opgedoen het. Antonio is vandeesweek uit verdowing gebring en van die ventilator afgehaal.

Volgens Berna Seddon, ʼn Hoërskool Zwartkop-ouer wat as woordvoerder vir Antonio se familie optree, is Antonio onlangs uit die waakeenheid van die Kalafong-staatshospitaal in Atteridgeville na die hoësorgeenheid oorgeplaas.

“Dit gaan beter. Hy is helder en vra en vertel oor wat tydens die ongeluk gebeur het,” sê Seddon.

Die voedingsbuis in Antonio se neus tot in sy maag is ook vandeesweek uitgehaal en hy kan reeds sagte kosse inneem. Hy word egter steeds deur hospitaalpersoneel gevoer aangesien sy arms in die motorongeluk gebreek en gevolglik gespalk is.

Dit is sowaar ʼn ommeswaai in gesondheid sedert Antonio verlede week onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel is nadat sy regterlong begin platval het.

Maroela Media het vroeër berig dat Antonio se operasie uitgestel is omdat sy bloeddruk te laag was. X-strale en skanderings van sy longe het die skade aan die regterlong getoon en hy is aanvanklik met ʼn stoommasjien behandel. Dokters het later besluit om Antonio aan ʼn asemhalingsmasjien te koppel aangesien hy te vinnig asemgehaal en dit sy spiere moeg gemaak het.

Seddon sê Antonio sal waarskynlik vandeesweek nog die operasie ondergaan wat verlede week noodgedwonge uitgestel moes word. Tot dan ontvang hy suurstof asook fisioterapie vir sy longe.

Maroela Media het vroeër berig Antonio is ernstig beseer tydens ’n ongeluk op die Ou-Johannesburgpad. Van sy ribbebene is in die botsing gebreek en hy het erge beserings aan een been opgedoen. Hy het ook ʼn haarlynfraktuur in sy bekken.

Antonio het egter nie ʼn mediese fonds nie en is dus in die Kalafong-staatshospitaal opgeneem.

Seddon het kort ná die ongeluk ʼn geldinsameling van stapel gestuur om Antonio se ouers te ondersteun en Antonio se mediese onkoste, veral nasorgkoste, te dek.

Enigiemand wat tot die fonds kan bydra, word versoek om Seddon te bel by 079 492 2916 of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

legens ·

Lee ,
daar was en word tans nog daagliks gebid vir die beskerming van die kinders . Dit het nie gehelp nie .

Patrys ·

Ons sal nooit ophou bid vir ons en alle ander kinders nie. Bid is nie ‘n pleister of ‘n kuur nie, dis ‘n lewenswyse. Jou verhouding met die Here en jou geloof is wat saak maak. Die Here se wil geskied, nie joune nie. Ons hou aan bid en ek is ontsettend bly vir hierdie Zwarrie se beterskap.

legens ·

Patrys ,
as dit die Here se wil is , gaan geen gebed , gesmeek of gehuil dit verander nie , stem jy saam?

Jaco ·

Geloof is soms al wat n mens oorhet wanneer als aan n draad hang…

Elsa ·

Ek stem saam dat God se wil geskied en nie ons mense s’n nie Patrys en daarom stem ek ook saam met Iegens dat geen gebed, gesmeek of gebid dit gaan verander nie. Vir wat bid ons mense dan? Probeer ons deur gebede om God se arm te draai om ons tog maar ons sin te gee? Ek glo in God en ek glo in Sy wil en ek weet Hy is Almagtig, maar ek weet nie meer of bid help nie.

elna ·

Antonio. jy kom gereeld by ons aan huis, bid vir jou vir spoedige herstel! Sien jou hopenlik een van die dae weer!

At Dippenaar ·

Wonderlike nuus! Sterkte verder Antonio. MAROELA, wat is die toestand van sy vriendin wat ook in die ongeluk betrokke was?

Pean ·

Mense, almal se omstandighede is anders, maar mens kan nie sonder n mediese fonds wees nie… dis jammer

Mellie ·

Was daar nie n meisiekind saam met hom op die motorfiets nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.