Bethal in waterkrisis gedompel

Argieffoto: Pixabay

Inwoners van Bethal in Mpumalanga gaan al weke lank gebuk onder ’n enorme waterkrisis;  glo omdat die plaaslike munisipaliteit nie sy sowat R151 miljoen se agterstallige skuld aan die waterraad betaal nie.

Dié dorp se watertoevoer word tans met minstens 20% beperk nadat die Govan Mbeki-munisipaliteit glo versuim het om Rand Water, ’n skema wat water vanuit die Vaaldam aan dorpe in Mpumalanga verskaf, te betaal.

“Dit beteken eenvoudig dat die dorp se invloei stadiger as die uitvloei is,” verduidelik Marietjie Fourie, ’n DA-wyksraadslid in Bethal, aan Maroela Media. “Bethal maak staat op gravitasie-verspreiding. Dit beteken dat hoogliggende gebiede weens die beperking nie water het nie, terwyl die onderdorp en die informele nedersetting steeds water het,” sê Fourie.

Sekere gedeeltes in die dorp wat die hoogste geleë is, is al die afgelope 13 dae heeltemal sonder water gelaat, sê sy. “Gebiede in die dorp soos Uitbreidings 3, 8 en veral Bethal Rand word die ergste geraak.”

Om sake te vererger, is daar ook gerugte dat die dorp se elektrisisteit binnekort afgesny gaan word nadat dit ook in 2017 vir ’n ruk lank weens agterstallige rekeninge afgesit is, sê Fourie. “’n Mens kan dit wanbestuur noem. Die munisipaliteit betaal nie hulle rekeninge nie.”

Volgens Fourie het die munisipaliteit haar verseker dat hulle wel met onderhandelinge besig is vir ’n nuwe betalingsplan. “Die bedrag geld wat Rand Water wil hê, is net nie haalbaar nie.” Sy verduidelik dat daar maande is wat die munisipaliteit ’n klein gedeelte van hul skuld vereffen, maar dat daar ook maande is wat hulle glad nie daartoe in staat is om enige van hul skuld te betaal nie.

Fourie voorspel dat die dorp nie in die nabye toekoms water sal hê nie. Daar is gevolglik verlede week in samewerking met AfriForum ’n gemeenskapsvergadering gehou om ’n tydelike oplossing vir die situasie te vind.

Die gemeenskap het tydens dié vergadering besluit om tydelike waterbeperkings in te stel om die reeds lae reservoir-vlakke te beskerm. Drie van die vier reservoirs in die dorp werk tans, verseker Fourie. Die vierde is al jare lank buite werking, sê sy.

AfriForum het intussen ooreengekom om watertenks op te rig by diegene in die dorp wat van boorgatwater gebruik maak. Waterpunte sal gevolglik hier opgerig word sodat inwoners water by sekere punte kan afhaal.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, behoort mense in die dorp wat wel water het, water te bespaar sodat die waterdruk kan verbeter. “Verder moet ons politieke druk begin uitoefen sodat die munisipaliteit hul rekeninge begin betaal,” sê Bekker.

Nóg ’n moontlike oplossing wat tydens die vergadering bespreek is, is om die dorp se pyplyne na te gaan om te kyk of sekere krane tydens sekere tye in die dag toegedraai kan word sodat die bo-dorp ook soms water kan kry. “Dis soos beurtkrag, maar beurtwater,” verduidelik Bekker.

Dié oplossing word egter nog ondersoek.

“Dit is ’n moeilike situasie. Dit veroorsaak baie ongelukkigheid onder die inwoners. Hulle verstaan nie waarom mense in die onderdorp water kry en hulle nie.”

’n Inwoner van Bethal se bo-dorp wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê die waterkrisis is ‘n “groot gemors”.

“Die water kom en gaan. Een dag het jy water, vir die volgende vyf dae het jy weer niks nie.”  Sy is veral bekommerd aangesien die plaaslike skool asook die koshuis eerskomende Woensdag moet heropen. “Dit is 300 leerders wat water gaan nodig hê.”

Die inwoner sê sy is betrokke by ’n sakeonderneming op die dorp wat van water afhanklik is. Sy vertel dat hul besigheid elke dag water moet aanry. “Die munisipaliteit kom ons in sekere opsigte tegemoet, maar wat van al die ander mense? Die mense is woedend.”

Fourie waarsku inwoners dat die huidige situasie nie binnekort opgeklaar gaan word nie. “Dit gaan maar kom en gaan. Dis baie moeilik om te sê wanneer ons weer water gaan hê. Daar gaan beslis elke week iemand wees wat nié water gaan hê nie.”

Maroela Media wag op terugvoer van die munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

J van Rustenburg ·

Ek dink die groot ding bly maar as jou munisipale rekening op datum is hoekom jy benadeel moet word en wat jou te doen staan As die munisipaliteit hou geld vat en nie oor betaal nie is dit nie beter om Eskom en Randwater maar direk te betaal nie

marco polo ·

Hoe op aarde loop jy R151m se skuld op sonder dat daar opgetree word?

Ruiklont ·

Welkom in SA waar wet en orde hereg eng geregtigheid van min waarde is

Karel ·

Maar die ‘agbare raadslede’ se salarisse , wat eintlik toelaes behoort te wees, word steeds verhoog.

Johnna ·

Ag dit is nie meer nuus nie!stadig maar seker is als besig om plat te val.Wie sal omgee beslis nie die wat in beheer is nie!solank hulle salaris kry gee hulle nie n flenter om nie.

Julian ·

Ons in Phalaborwa sit al twee jaar met dieselfde probleem. Hulle betaal nie alhoewel ons doen. Elke dan en wat word water afgesny vir tot n week op n slag. Sterkte

Alida ·

Wat verwag mens van die ANC. Themp en toebroodjie op stemdag sorg dat hulle weer inkom.

zoom zoom ·

Julle moet met geduldig wees die ANC gaan nog met 107 jaar lank met ons wees. Sien berig elders op MM

PJC ·

Dan is daar nog steeds mense wat dreig om nie te stem nie omdat hulle vir iemand kwaad is so mense gaan nog baie lank met die ANC en hierdie tipe optrede opgeskeep sit.

Peet Schabort ·

Help my reg maar soverre my kennis strek was Bethal een vd dorpe wat in ANC-kloue beland het met ‘n neseier. ‘n ‘Neseier’ is om deur die jare geld te spaar vir onvoorsiene gebeure soos byv. herstelwerk wat nie in ‘n begroting opgeneem kon word en vir toekomstige uitbreiding vd dorp. Dit was te danke aan o.a. mnr. Pieter Kruger (burgemeester) en sy span raadslede en natuurlik ook die munisipale amptenare. Kom ons raai wat het vd surplus geld (neseier) geword . . . Ek sal maar nie uitwei oor die aftrekking van munisipale werkers se maandelikse mediese premies. Ek het met moeite geld uitgewurg gekry by hierdie munisipaliteit vir iemand. Sodra jy eiendom verkoop hou die munisipaliteit meer as genoeg geld van jou terug sodat hulle nie geldelik verneuk word. Nadat somme gemaak is en gelde verskuldig gedelg is word die res aan jou uitbetaal na ongeveer 3 maande na die registrasie vd eiendom op die nuwe eienaar se naam. Hierdie het nie gebeur en die prokureur vd verkooptransaksie kon ook nie help want derduisende word ook op hierdie manier geskuld. Ek was tweekeer na persoonlike besoek (Secunda) verseker van gee ons ‘two weeks’ en dan gebeur dadels. Heelwat hoër gesag het hulle gemaak betaal. Dis egter die prys wat betaal word vd samevoeging van ‘n klomp klein dorpies tot ‘n onbeheerbare logge munisipaliteit met ook politieke oogmerke vir eie gewin.

Peet Schabort ·

Ek hou vd argieffoto asook die opskrif wat direk verband hou van hoe dit nie behoort te wees. Dink net ‘Bethal in water gedompel’ en argieffoto van ‘n verdorde land. Die ANC het egter 107 jaar om dit reg te maak. Intussen verdien hierdie land om die regering te hê wat hy tans het. 60 jaar gelede met my matriekjaar was dit ‘n pragdorp met ‘n uitsonderlike landelike dorp- en boeregemeenskap. Dink net aan die jaarlikse ertappel (aartappel)fees wat ook onder ANC-hande verdwyn het. Met Trichardt se 100 jarige bestaan in 2006 is ek meegedeel deur die destydse munisipale bestuurder dat dit verkeerd is om individuele dorpe se bestaan te vier maar net korrek om die huidige munisipaliteite se bestaan te vier. Is ons nie dalk reg vir so ‘n makietie binnekort, daar behoort geld te wees . . . ?? Terloops is Bethal geproklameer as dorp op 12 Oktober 1880 en vernoem na (Eliza)beth (du Plooy) en Al(ida) Naudé vrouens vd oorspronklike eienaars wat die plaas Blesbokspruit (dist. Standerton) aangekoop het spesifiek vir dorpstigting.

Manie ·

Gooi nog stemme agter hierdie industriële terroriste met die volgende verkiesing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.