Bethal sonder water ná ANC oorneem

(Foto: pixabay)

Die inwoners van groot dele van die ANC-beheerde Bethal in Mpumalanga het reeds vir 26 opeenvolgende dae geen water nie en slegs sporadies krag. Nou wil die VF Plus ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) indien.

“Die probleme het begin skaars ʼn maand nadat die ANC die plaaslike tussenverkiesing op 9 Oktober vanjaar gewen het,” sê Deon de Vries, VF Plus-raadslid van die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit.

Die VF Plus het slegs ses stemme nodig gehad om te wen in die verkiesing wat plaasgevind het nadat die DA-wyksraadslid bedank het. Die VF Plus se steun het van 4,31% tot 35,4% gegroei, maar was steeds net-net te min om ʼn oorwinning te verseker.

De Vries sê die oorsaak van dié watertekort is nie bekend nie.

“Sommige bronne meen die grootmaatwaterverskaffer, Rand Water, het nie voldoende pompe geïnstalleer om genoeg water aan die dorp te voorsien nie, terwyl die moontlikheid ook bestaan dat Rand Water waterbeperkings ingestel het weens agterstallige waterskuld van R272 miljoen van die Govan Mbeki-munisipaliteit,” sê De Vries.

“Al die inwoners van Bethal en die Govan Mbeki-munisipaliteit word nou gyselaar gehou deur entiteite wat verantwoordelik is vir die lewering van dienste aan die dorp.”

Die VF Plus sal ’n klag by die MRK indien teen Rand Water Bulk Services en die Govan Mbeki-munisipaliteit vir die “ooglopende skending van die Grondwet wat bepaal dat almal in die land geregtig is op basiese menseregte soos die beskikbaarheid van water”, sê De Vries.

Hy sê VF Plus het alles in sy vermoë gedoen om die situasie tussen Rand Water en die Govan Mbeki-munisipaliteit te voorkom. “Dit is tyd om die betrokke entiteite tot verantwoording te roep”.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Keelvol ·

Hoog tyd. In Bethal skiet die dubbelverdieping-huise op soos paddastoele … wonder met watter fondse … maar die dienste is chaos … water, krag, paaie, rommel, stortingsterrein …

Johanna Botha ·

Kry maar net presies waarvoor julle gestem het ….kyk hoe gaan dit in die land …niks werk die land is op sy knee ….maar anc sal ons bly stem ….kry maar vir julle !

Oop oe ·

Ek wens daar is ‘n manier om die massas te laat verstaan wat hulle voor stem. Hulle verstaan dit nie.

Cherokee ·

…en èk wens 6 of meer DA-stemmers of selfs net mense wat alles vir ànder wil laat om te doen en wat te lui was om te stem, is bewus daarvan dat hul stemme die VF in die stoel kon plaas. Of die VF die water sou kon laat vloei is nie seker nie want dit blyk dat die probleme geskiedkundig is, maar kundiges sou dit kon verander. As jy ‘n inwoner is en nie gestem het nie, sluk die nuus.

Markus ·

Dit is hoe belangrik dit is om te stem en vir die regte party wat kan lei en regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.