Bethallers hof toe oor kragkrisis

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die gemeenskap van Bethal in Mpumalanga se hofsaak teen die plaaslike munisipaliteit oor voortslepende kragprobleme op die dorp is vandeesweek virtueel in die hooggeregshof op Middelburg aangehoor.

Hoewel die Govan Mbeki-munisipaliteit vir uitstel gevra het, is sy aansoek van die hand gewys en het regter Lindiwe Vukeya beveel dat die saak voortgaan.

Die organisasie Bethal & eMzinoni Community for Services (BECS) het verlede jaar al met ʼn hofgeding teen die Gert Sibande‑distrikmunisipaliteit, Eskom, Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, asook die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Mpumalanga begin.

Ziyaad Dangor, voorsitter van die plaaslike sakeforum en woordvoerder vir die BECS, sê egter die plaaslike munisipaliteit het verlede week, sowat ʼn week voor die hofsaak aangehoor moes word, gevra om ʼn nuwe beëdigde verklaring in te dien.

“Die munisipaliteit wou die hof in kennis stel dat daar hangende arbitrasieverrigtinge tussen hom en Eskom is wat op 26 September aangehoor sal word. Dit is glo om tot ʼn vergelyk te kom oor die munisipaliteit se uitstaande skuld en om ʼn afbetalingsooreenkoms te sluit.

“Ons vermoed dat dit net as ʼn verskoning gebruik is met die hoop dat die saak uitgestel of heeltemal van die hofrol geskrap word,” voer Dangor aan.

Die saak het nietemin voortgegaan.

“Hoewel dit goeie nuus vir die inwoners van Bethal is dat die munisipaliteit en Eskom eindelik in gesprek tree oor die krisis, kan die twee staatsinstellings nie vertrou word om self die probleem op te los nie.”

Die BECS se regsverteenwoordiger, Waseem Gani van MacRobert Attorneys, het ook ʼn konsepbevel vir die hof opgestel sodat die betrokke partye tred kan hou met die hangende arbitrasieverrigtinge.

“Ons glo dat die hof toesig oor hierdie verrigtinge moet hou. Die BECS vereis dat die plaaslike munisipaliteit en die Gert Sibande-distrikmunisipaliteit verslag aan hom en die hof moet doen oor die vordering van die verrigtinge, asook die plan om die skuld by Eskom te vereffen en kragtoevoer na die betrokke gebiede te herstel,” sê Gani.

Gani het ook toestemming gevra dat die BECS weer die hof mag nader as daar niks van die arbitrasieverrigtinge kom nie.

Uitspraak is voorbehou.

BECS voer nou boonop aan die munisipaliteit se verteenwoordiger het die hof mislei oor die stand van sake op die dorp.

Dangor sê die munisipaliteit beweer hy is onskuldig en dat beurtkrag daagliks ingestel word omdat Eskom nie die dorp se kragaanbod wil verhoog nie.

Die munisipaliteit het glo ook tydens vandeesweek se hofverrigtinge gesê dat die dorp slegs een tot twee ure per dag beurtkrag het wat volgens ʼn skedule gereguleer word. Inwoners sê dit is ʼn leuen.

“Bethal is byna heeldag sonder krag. As die inwoners tussen twee tot drie ure krag per dag het, is dit baie,” het Deon de Vries, VF Plus-raadslid van die plaaslike munisipaliteit, vroeër gesê.

“Daar is geen manier om te weet of die verteenwoordiger bloot deur die munisipaliteit mislei is, en of dit doelbewus gedoen is om hul eie basse te red nie,” sê Dangor.

Voortslepende kragprobleme

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Bethal sukkel die afgelope jaar al met minstens 12 ure lange kragonderbrekings weens beurtkrag wat die plaaslike owerheid self in werking stel.

Dié sukkelende munisipaliteit is glo kniediep in die skuld by Eskom en hef na bewering uitermatige hoë bedrae vir min tot geen dienste wat gelewer word nie.

Volgens Dangor oorskry die vraag na elektrisiteit tans die aanbod, maar weens die munisipaliteit se hoë kragrekening kan die hoeveelheid krag na die gebied nie verhoog word om in die vraag te voldoen nie.

“Inwoners eis dat diegene verantwoordelik vir die kragkrisis aan die pen ry, maar bowenal wil hulle die dienste ontvang waarvoor hulle maandeliks duisende rande opdok.”

Die VF Plus het intussen sy volle steun aan die inwoners van die dorp gegee.

“Die party staan bankvas agter die inwoners en sal aanhou om druk op Refilwe Mtsweni-Tsipane, Mpumalanga se premier, te plaas om in te tree en ʼn oplossing vir die krisis te bemiddel,” het Aranda Nel-Buitendag, ʼn VF Plus-raadslid van die plaaslike munisipaliteit, gesê.

“Dit is ʼn skande dat inwoners hulle tot ʼn hof moet wend om ʼn munisipaliteit te dwing om sy verpligtinge teenoor belastingbetalers na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Meer gemeenskappe moet begin wakker skrik en hul onbevoegde munisipaliteite hof toe sleep.

JM ·

Omdat Eskom nie van Dag Een af belastingbetalers se betalings ontvang het nie! Daar is net een antwoord: inwoners se betalings is sakke toe, soos dit in talle munisipaliteite gebeur. Hoog tyd dat die korruptes aangekeer word.

Lara ·

Ek is woonagtig in Bethal en ons het ELKE DAG beurtkrag, soms tot agt ure per dag!! Dit is blatante leuens, hulle smeer hul bedrog en gemors toe!!!

Etienne ·

Wat soek jy nog daar????? Ek van Standerton af lankal pad gevat

Jandup ·

Hoeveel keer wil hulle nog met ESKOM in gesprek tree omtrent die rekening wat nie betaal word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.