Bethlehem-trustee helder oordag in museum aangerand

Maritha Swanepoel (72) van Bethlehem was soos gewoonlik op haar pos toe sy Saterdagoggend by die dorp se museum oorval is. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

ʼn Kranige trustee van die Bethlehem Museum Trust, wat ook bekend is vir haar passie vir kultuur- en erfenisbewaring, is helder oordag in dié museum deur ʼn man oorval en aangerand. Die vrou is ernstig beseer toe sy gestamp is en van die trappe afgetuimel het.

Maritha Swanepoel (72) van Bethlehem was soos gewoonlik op haar pos om vrywillig diens te doen as opsigter en toerleier vir mense wat die Bethlehem-museum graag op Saterdae van 10:00 tot 12:00 wil besoek. Sy het Saterdag vroeër by die museum opgedaag om spesifieke artefakte uit te soek en voorbereiding te doen vir ʼn video-opname. ʼn Plaaslike videograaf, Estivan Barnard, sou die opname vir die Bietjie Geskiedenis-program op die Facebook-kanaal Get to Know Channel kom doen.

Volgens wat sy later moeisaam aan haar seun, Conrad Swanepoel, kon vertel, het ʼn netjies geklede, jongerige man die veiligheidshek se klokkie in die museum se portaal gelui en gevra om in te gaan om die museum te besigtig.

“Sy het gesê toegang is R10 per persoon en hy het ʼn R50-noot deur die tralies aangegee. Sy het die veiligheidsdeur oopgesluit en hy het toe vir haar gesê hy soek geld. My ma het vir die man gesê daar is nie geld in die museum nie. Daarna het hy haar aggressief by die trappe aan die binnekant van die deur afgestamp. Sy het haar bewussyn verloor,” het Conrad gesê.

Barnard het kort nadat Maritha oorval is vir die videosessie opgedaag. Haar selfoon is waarskynlik gesteel toe sy vir ʼn rukkie haar bewussyn verloor het. Barnard het die veiligheidshek wat na die binnekant van die museum lei, oop aangetref en gesien Maritha lê op die vloer. Hy het dadelik die museum se noodplan geaktiveer waarna hulp blitsvinnig opgedaag het. Die beseerde Maritha is kort daarna per ambulans na die Mediclinic Bethlehem Hoogland geneem. Weens breinbloeding is sy later die dag na die Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas.

Volgens Conrad is sy nou onder die behandeling van ʼn neurochirurg. Haar dogter, Mariaan Grobler, wat in McCool, Nebraska, in Amerika woon, tref reëlings om dringend na Suid-Afrika te kom om haar ma by te staan. Covid-19-maatreëls bemoeilik egter haar reisplanne.

Tertius du Preez, voorsitter van die Bethlehem Museum Trust, sê hy en lede van die trust, asook al die Vriende van die Bethlehem Museum-vereniging veroordeel die voorval ten sterkste.

“Ons ergste vrese by die Bethlehem-museum is bewaarheid. Wat ʼn opwindende dag sou wees, het nou in ʼn nagmerrie ontaard. Ons kranige trustee Maritha was getrou op haar pos. Die afgelope twee jaar is daar drie keer in die nag by die museumterrein ingebreek waartydens waardevolle items gesteel is. Nog lede van die museum – Pieter Olivier, Pottie Potgieter en Palm Maree – het al drie helder oordag deurgeloop onder selfoondiewe wat hulle oorval het, gewoonlik wanneer hulle die perseel oop- of toesluit.

“Ek is oortuig dat die omgewing onveilig is, veral oorkant die straat in Landdrosstraat waar mense in bouvalle wegkruip en die museumterrein vermoedelik fyn dophou. Ook die tydelike werksoekers wat gewoonlik langs die Sassa-kantoor op ʼn sypaadjie naby die museum sit, is dalk van hierdie opportunistiese skelms wat hul kans afwag om weerlose mense aan te val en te beroof.

“Ons is in die omstandighede dankbaar dat ons op die polisie en verskeie van ons plaaslike veiligheidsinstellings vir spoedige optrede en bystand kon reken. Baie dankie aan hulle. Ons vertrou dat ons geliefde Maritha spoedig sal herstel.”

Eréne Olivier van die Vriende van die Museum-vereniging skryf op die sosialemediagroep van die museum die wetteloosheid en wanorde in die dorp is skrikwekkend.

“Daar is geen sigbare polisiëring in die museum se omgewing nie en skelms heers oor ons. Ons harte is baie seer oor Maritha. Sy het dit nie verdien nie en was nie onverskillig nie. Een groot probleem is dat eerlike mense nie weet hoe om hulle teen sulke skelms te verweer nie. Met ons volgende vergadering sal ons moet praat oor hoe ons die beveiligingsplanne by die museum wat reeds ingestel is nóg kan verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Bheki Cele – jammer mense soe mooi sonnige dag. Ek was op die strand in my Speedo. Toe ek daar aan kom toe begin mense braak en vlug!

Swerwer ·

Vader hou haar asseblief styf in u arms dat sy volkome sal herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.