Bethulie-aanval: Dit gaan beter met bejaardes

Marcia en Kallie Kruger (Foto: Verskaf)

Dit gaan in die omstandighede goed met die bejaarde egpaar wat sowat twee weke gelede op hul plaas digby Bethulie in die Vrystaat oorval en beroof is.

Kallie (87) en Marcia (82) Kruger is die aand van 23 September op hul plaas deur twee mans oorrompel en aangerand. Die mans was met messe gewapen. Hulle het die bejaardes in hul slaapkamer ingewag, vasgebind en beveel om nie ʼn geluid te maak nie.

Barbara Kruger, die egpaar se skoondogter, sê hulle vermoed die aanvallers het geweet daar is skaapskeerkontant in die huis en het ingebreek om dié geld te eis.

“Daar was toe ook nie eens baie kontant in die huis nie. Hulle was beslis agter die geld aan eerder as wat hulle daarop gerig was om hulle aan te rand,” sê Barbara.

Die mans is die aand met twee vuurwapens, juwele en ʼn onbekende bedrag geld vort. Hulle het met die egpaar se Toyota Hilux-bakkie weggejaag en dit in die dorp gelos.

Die twee mans, Luyanda Velaphi (34) en Poto Morolwa (32), is verlede Maandag in hegtenis geneem nadat die polisie inligting van gemeenskapslede ontvang het. Die polisie het al die gesteelde goedere teruggekry.

Hulle het  vandag in die Bethulie-landdroshof verskyn en sal weer na verwagting die 12de Oktober in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen.

Barbara sê die egpaar sterk aan op die plaas. “Hulle boer weer voluit soos voorheen en dit gaan baie beter met hulle,” vertel sy.

ʼn Dokter het die egpaar ná die aanval ondersoek en hulle is nie in die hospitaal opgeneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Dank ons liewe Vader hulle leef! Regtig goeie nuus!

Juls

Borgtog die keer, moord die volgende keer

Tracey

So dankbaar dat dit beter gaan. Bid vir julle veiligheid

Jakes

Ek sal graag met die 2 perde wil gesels op my manier. N hofsaak is onnodig.