Die saak teen sewe studente van die Universiteit van die Witwatersrand is nie op die hofrol geplaas nie weens ’n gebrek aan bewyse.
Die studente is Woensdag tydens betogings by die universiteit se kampus in Braamfontein in hegtenis geneem. Paaie is tydens die betoging met brandende buitebande en rommel versper. ’n 35-jarige man is in die betoging glo deur polisiebeamptes doodgeskiet.
Vyf van die sewe studente is aanvanklik op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem terwyl twee ander onderskeidelik aangekla is van openbare geweld en kwaadwillige skade aan eiendom.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die dossier van die student wat vir kwaadwillige skade aan eiendom in hegtenis geneem is, is na die polisie verwys vir verdere ondersoek.
Sodra die ondersoek afgehandel is, sal dit terug na die NVG gestuur word wat dan sal besluit of vervolging ingestel gaan word.
Maroela Media het vroeër berig Mthokozisi Ntumba was nie deel van die betoging nie en het pas ʼn dokterspreekkamer verlaat toe hy na bewering in die kruisvuur beland het en deur polisiebeamptes geskiet is. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.
Wits-studente wat ontevrede is dat hulle weens agterstallige studieskuld nie verder kan studeer nie, betoog sedert eergister voor die universiteit in Johannesburg.
Kovsies
Altesaam 24 studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is intussen in hegtenis geneem ná studentebetogings in Bloemfontein.
Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê die polisie se eenheid vir openbare orde is Donderdag omstreeks 11:00 na die UV ontbied nadat betogende studente die universiteit se ingang versper het.
Sowat 50 studente het omstreeks 11:30 by die polisie se aankoms die kruising by die universiteit se hoofingang in Nelson Mandelaweg versper.
“Hulle is gewaarsku en tyd gegee om die pad oop te stel. Die studente het nie gehoor gegee aan die waarskuwing nie en in die middel van die pad gaan sit om die vloei van die verkeer te versteur. Die polisie het daarna skokgranate gebruik om die studente uiteen te jaag.”
Altesaam 24 studente sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van die oortreding van die Verkeerswet sowel as oortreding van Wet op Openbare Byeenkomste.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Is daar nog wette in die verkeerswet wat punte tel?
Duidelik ander standaarde as vir die manne van Senekal. Gee kans, die ” rewolusie ” gaan sy kinders nog opeet.
Disgusting!!
Ag shame hulle maar net bietjie kwaad oor hulle niks wil betaal nie en net hul sin wil hê. Hulle mag maar maak en breek net soos hulle wil sonder enige gevolge, jammer hulle is nie wit nie, dan was hulle toegesluit en aangekl
Gggmmmfff hoe gerieflik vir hulle! Brand en breek en wat dan? Sweet blow 0 maak my naar