Betoger in Mookgophong doodgeskiet

'n Nyala-pantservoertuig is met petrolbomme bestook tydens betogings in Mookgophong, Limpopo op 14 Maart 2016 (Foto verskaf deur die SAPD)

‘n Njala-pantservoertuig is met petrolbomme bestook tydens betogings in Mookgophong, Limpopo op 14 Maart 2016 (Maroela Media vra om verskoning vir die gehalte van die foto. Foto verskaf deur die SAPD)

ʼn Betoger is tydens ʼn diensleweringsbetoging in Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo doodgeskiet.

Die polisie het Dinsdag bevestig ʼn persoon is doodgeskiet, maar ontken dat hulle enigiets daarmee te doen gehad het. Volgens die polisie het hulle nie Maandagaand skerp ammunisie gebruik om die gewelddadige betogings in die gebied te beheer nie.

Volgens plaaslike inwoners was die 50-jarige man een van die betogers, wat hul weg na burgemeester Sara Monyamane se huis probeer baan het, toe hy geskiet is.

Die polisie het gesê hulle probeer bepaal wie die skoot afgevuur het wat die man getref het.

“Ons is nie seker wie van skerp ammunisie gebruik gemaak het nie,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê. “Ons het nie skerp ammunisie gebruik nie. Die saak is wel na die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) verwys.”

Inwoners eis dat Monyamane moet bedank. Die betogers het oor die naweek die strate ingevaar, paaie versper en ʼn huis aan die brand gesteek.

Die betogings het Maandag hervat. Die paaie is weer versper en vier huise is aan die brand gesteek. Die huise behoort na bewering aan Monyamane en ander raadslede.

Otto het gesê die polisie se Njala-pantservoertuig is met petrolbomme bestook. “Dit het aan die brand geslaan, maar die polisiebeamptes is gered en die brand is geblus voor te veel skade aangerig is.”

Volgens die polisie het hulle eers later uitgevind iemand wat tydens die betogings geskiet is, het by ʼn plaaslike kliniek aan sy wond beswyk. “Lede van die gemeenskap het hom weggeneem, so dit is nie duidelik waar die skietery plaasgevind het nie. Dis ook nie duidelik wie die skote gevuur het nie. Opod ondersoek die voorval,” het sy gesê.

Minstens 22 persone is in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. “Ons het ook berigte ontvang dat winkels van uitlanders geplunder is,” het Otto bygevoeg.

Volgens die polisie is die situasie onder beheer, maar dit bly gespanne. Slegs ʼn paar paaie binne die informele nedersetting word tans versper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johannes Meintjes ·

Die ANC en ander, – ook Afrikaner “leiers”, – moet seker baie trots wees oor die afgelope 21 jaar as hulle so oor die landskap tuur … ?

Michael ·

Die klomp moet vasgevat word nou brand hulle al polisie voertuie binnekort brand hulle ons huise soos hulle makker word kyk hoe arrogant word hulle met die pretoria wes oproer van laas week

Karma ·

Ek verstaan dié mense se mentaliteit en denkwyse regtig nie. As jy nou ontevrede is omdat jy nie behuising, water, elektrisiteit, munisipale dienste, gesondheidsorg of watookal kry nie, gaan jy en jou troppie eenders-denkendes en begin infrastruktuur (waarvoor jy in elk geval nie gewerk of betaal het nie) af te breek en af te brand. Ja-nee kyk, afbrand, baie beslis! Met klippe gooi, baie beslis!

En wie kla dan volgende jaar dat hulle nie skole, biblioteke, universiteite, huise, hospitale, veiligheidsdienste (polisie, weermag) het nie???

Huidiglikdisadvantaged ·

Maroela,
Waarom word my opinie nie geplaas nie. Dit is net my opinie oor die gebrek aan regte van die Polisie.

Landi Slatter ·

Dagsê Huidiglikdisadvantaged

Kommentaar wat geweld aanwakker voldoen ongelukkig nie aan ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname nie. Vergewis jouself gerus van dié maatreëls om seker te maak dat jou kommentaar nie verwyder word nie.

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.