Betogers gooi klippe in Pta-middestad

Verkeer naby die Nasionale Dieretuin is Woensdagoggend ontwrig. Foto: Via Twitter

Verkeer naby die Nasionale Dieretuin is Woensdagoggend ontwrig. Foto: Via Twitter

Vier mense is Woensdagoggend in hegtenis geneem te midde van twee verskillende optogte deur die DA en EFF in Pretoria se middestad.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die inhegtenisnemings volg nadat betogers amok in Paul Krugerweg, langs die Nasionale Dieretuin, gemaak het.

ʼn Gedeelte van die pad moes vir verkeer gesluit word nadat betogers die pad versper het en klippe na verbygaande voertuie geslinger het.

“Vier mense wat glo klippe na voertuie gegooi het, is in hegtenis geneem. Die polisie het die situasie onder beheer,” het Mahamba gesê.

Hy het gesê nagenoeg 1 000 beamptes van die polisie en metropolisie is in die middestad ontplooi om die situasie dop te hou. “Ons verwag dat die optogte vreedsaam sal voortduur, maar hou ʼn wakende oog, veral in die strate wat deur die optogte geraak word.”

Volgens Mahamba sal die optogte deur WF Nkomostraat in ʼn westelike rigting beweeg, verby Bosmanstraat, links in Sophie de Bruynstraat, verby Pretoriusstraat en links in Francis Baardstraat.

Madibastraat, tussen Bosman- en Paul Krugerstraat, en Francis Baardstraat, tussen Bosman- en Sophie de Bruynstraat, is vir verkeer gesluit.

Motoriste word aangeraai om die omgewing te vermy en van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Die EFF het Maandag in ʼn verklaring gesê die party se optog hou onder meer verband met die #FeesMustFall-veldtog. Die party eis dat adv. Shaun Abrahams, hoof van die NVG, bedank, dat pres. Jacob Zuma bedank omdat hy sy ampseed oortree het én dat die verslag oor staatskaping bekendgemaak word.

Die DA betoog ter verdediging van Suid-Afrika se demokratiese instansies en versoek burgers om saam te staan om die Grondwet te beskerm.

Nog ʼn organisasie, Save South Africa, betoog ook buite die Pretoria-landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

charmaine ·

Hulle doen werskepping nou moet hulle eie mense agter hulle gaan skoon maak.

Fluffie ·

Ironies is dit die algemene publiek wat aan die kortste ent trek – die wat niks te doen het met staatskaping se verslag nie. Ek sou reken dat die EFF se metode anargie aanmoedig. Dat daar betoog moet word is reg maar om die arme onskuldige mense daaronder te laat ly is onaanvaarbaar.
Studentebetogings het dieselfde paadjie geloop. Watter regdenkende buitelandse land sal beleggings in SA wil maak?

Susan ·

….ja maar is dit nou nodig om klippe na bestuurders te gooi?

Johann ·

Al wat ek kan dink om soort van sin te maak hoekom n “persoon” n kar met n klip wil gooi is dat die “persoon” nog nooit n kar gesien het nie en instiktief; getrou aan sy inhirente oorlewings instink; n geskiedkundige kulturele wapen (klip) gebruik om die vreemde bedreiging van karre wat saam trop om die “persoon” af te weer? Want enige ander rede sou eenvoudig WETTELOOS en VERVOLGBAAR met n gepasde STRAF wees? Selfs in Suid Afrika…

Jean ·

Wat werk die klippe na onskludige bestuurders? Beteken dit Abrahams gaan nou bedank en die Guptas gaan die pad vat EN hulle gaan verniet studeer? ‘n Onskuldige persoon is oppad werk toe waar hy eerlik sy salaris gaan probeer verdien om vir sy gesin te sorg en JY dink dis reg om hom met klippe te bestook? Agv die ekonomiese klimaat het BAIE mense nie eers versekering nie .. wie gaan die skade betaal, en as daar versekering is, wie gaan die bybetaling betaal? Wie dink die spul is hulle? DA of EFF, dit is SKANDELIK!

Varkie ·

Ai ek voel nou vir die karre wat getref is deur voertuie maar hulle het al weke terug gewarsku hulle gaan die strate beset, hoekom die besighede nou nie maar vir een dag gesluit nie, dan sou die arme mense wat daar moet deur dit ook kon vermy het

Thea Gerber ·

Besighede wat toegemaak is, maak nie geld nie. Die optog gaan in 30 min verby n winkel of besigheid en jy is toe vir nog 7.5 uur. Hoekom is dit nodig dat ons altyd moet wegkruip? Dit is die polisie se plig om motoriste te beskerm. Ek glo ook dat die versekeringsmaatskappye die polisie kan verantwoordelik hou vir skade. (dan betaal ons dit weer) Sasria versekering gaan so die hoogte inskiet, want hulle moes al miljoene betaal aan die Universiteite vir die skade aan geboue. En daar wag nog eise.

Theresa ·

200 – 300 rig reuse skade aan. Wat gaan bly staan met 10 000 wat aandag soek doen?

charmaine ·

Theresa, ja lag ek ook nou seker hulle ontsnappings roete gewees(hahaha).
Ek dink hulle bring klippe met kruiwaens aan of hierdie selfgemaakte karretjies waarmee hulle die asblik vullis oplaai.

Tong innie kies ·

Kry bussse en ry hulle aan Nkandla toe.Daar is baie wat hulle daar kan stukkend gooi!

Nel ·

Ja en aan die brandsteek ook, dan sal ons sommer ook kan sien of die ‘fire pool’ as noodmaatreël werk.

Anna ·

Was daar. My karretjie is nogal op die foto. Dit was regtig nie snaaks nie. Skade aan my kar se onderstel ook nie!

bakoor ·

Hoekom word die spul weermag lede wat ledig in kantore rondsit of in die winkels rondloop nie gebruik om die SAPD te help. Hulle doen niks produktiefs nie so laat hulle help

Piet ·

Bakoor, hulle loop saam in die straat met hulle rooi pette op. M.a.w, hulle dink hulle is reeds ontplooi!

bakoor ·

Piet
Sorry het vergeet dit is deel van die sanw se sport parade met soldy

Karen van Zyl ·

Almal was vroegtydig gewaarsku en almal wat ek ken het die nodige reëlings getref om te sorg dat hulle veilig bly al kos dit hulle nou ‘n dag se verlof en al is dit nou hoe onregvertig, ‘n mens se veiligheid kom eerste.

Basson ·

En die kinders wie besig is met matriek eksamens vanmiddag Karen???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.