Betogers in Khayelitsha bestook brandweerwa met klippe

Die beskadigde brandweerwa (Foto: CoCT, ANA)

Betogers wat vanaf Maandag oor behuising in Khayelitsha in Kaapstad betoog, het Dinsdag ’n brandweerwa aangeval en met klippe bestook. Dit volg na betogers Maandag ’n Eskom-voertuig uitgebrand het en ook ’n bus en motoriste met klippe bygedam het.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het in ’n verklaring gesê vyf brandbestryders van die brandweerstasie in Lansdowneweg in Kaapstad is deur betogers oorval onderweg na informele strukture wat in die omgewing in vlamme gehul was.

Betogers het die brandweerwa in Mew-weg omsingel en met klippe bestook.

Smith sê nie een van die brandweermanne in die brandweerwa is beseer nie, maar hulle is egter erg getraumatiseer. Die brandweerwa se ruite, voorruit en deure is beskadig en die voertuig sal buite werking wees terwyl herstelwerk gedoen word.

Volgens Smith het inwoners van die Gugulethu-nedersetting ook glo brandweermanne by die brandweerstasie gedreig.

“Ek is ingelig dat betogers in Gugulethu voor die brandweerstasie byeengekom het. Blykbaar wou hulle verhoed dat die brandweermanne die perseel verlaat voordat hulle [die betogers] nie uiting aan hul griewe gegee het nie,” sê Smith.

Smith sê hierdie protesoptrede is betreurenswaardig. Hy sê die Stad se infrastruktuur en werknemers is die afgelope weke veral geteiken.

Onwettige grondbesetters het sedert verlede week hul strukture by Khayelitsha begin oprig. ʼn Splinternuwe Covid-19-fasiliteit in Khayelitsha is ook Saterdag deur grondbesetters aan die brand gesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AndréS ·

Bly dan uit die woonbuurt uit en laat hulle self die brande blus

Sarel ·

Hierdie mense, oral in SA, moet as Misdadigers beskou word en daarvolgens behandel word.

Yolandie ·

Laat die shacks dan maar een vir een afbrand as hulle dan die brandweerwaens beskadig. Sommer nonsense om die mense te prober help as hulle die selfvernietigende maniere uitstal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.