Betogers maak amok buite Tuks

Twee vragte sand is Vrydag in strate naby die Universiteit van Pretoria gestort. Foto: Via Yusuf Abramjee / @Abramjee op Twitter.

Twee vragte sand is Vrydag in strate naby die Universiteit van Pretoria gestort. Foto: Via Yusuf Abramjee / @Abramjee op Twitter.

Die voortslepende staking by die Universiteit van Pretoria (Tuks) se hoofkampus in Hatfield het Vrydag kookpunt bereik toe stakers glo twee vragte sand in strate naby die kampus gestort het.

Lt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die vragte sand is omstreeks 08:00 deur twee konstruksievoertuie gestort.

“Ons stel tans ondersoek in of die twee vragmotors gekaap is voordat die sand gestort is en of die bestuurders moontlik deel van die betogers is,” het Makhubele gesê.

Hy het gesê die situasie was teen 11:00 weer kalm en die sand was opgeruim.

Kontrakwerkers betoog sedert Maandag teen die uitkontraktering van werk en vir hoër salarisse. Volgens die universiteit is die protesaksie deel van ʼn nasionale veldtog wat ook bedrywighede by ander tersiêre instellings in Gauteng beïnvloed. Die betoging het veroorsaak dat die universiteit vir registrasie moes sluit.

Volgens die African News Agency (ANA) staak werkers by Unisa, Tuks, al drie kampusse van TUT, Medunsa en die Tshwane-munisipaliteit.

Die werkers, wat na berig word skoonmaakdienste en veiligheidspersoneel insluit, dring daarop aan om onmiddellik deur die universiteite in diens geneem te word, asook ʼn minimum loon van R10 000 per maand. Sommige van die werkers beweer hulle verdien tans R2 500 per maand.

Die groep betoog onder die vaandel van #Outsourcingmustfall.

Mametlwe Sebei, die beweging se woordvoerder, het Woensdag gesê daar word met alle universiteite se bestuur onderhandel oor waar gesprekke gehou kan word. Dit is nog nie duidelik wanneer die betoging gaan eindig nie.

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat alle personeel op die hoofkampus veilig is. “Daar is geen betogers op die kampus self nie. Die universiteit het ʼn interdik in plek wat betogers verbied om enigiets onwettig te doen en die polisie is bewus van die huidige situasie,” het sy gesê.

Intussen het Tuks sy verwelkomingsdag, wat Saterdag vir eerstejaarstudente gehou sou word, afgestel weens die betogings.

Prof. Cheryl de la Ray, visekanselier, het gesê die betoging het ongelukkig ook ʼn invloed op hul reëlings vir die verwelkomingsdag.

Volgens De la Ray het die “universiteit besluit om ter wille van die veiligheid van personeel, ouers en studente” nie met dié dag voort te gaan nie. “Ons doen alles in ons vermoë om te verseker die akademiese program word nie deur die betoging ontwrig nie,” het sy gesê.  Aanlynregistrasie gaan voort soos beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

pieter ·

sluit die trok drywer toe hy is nalatig,poging tot moord,besoedeling so kan ek aangaan,of is hy maats met die gereg

Trots Afrikaans ·

Aanvaar die voorstel vir permanente aanstelling teen R10 000 per maand. Stop dan die huidige werkers se kontrakte en bied die nuwe permanente poste aan lede van ‘n minderheidsgroep wat nie werk by Standard Bank, Multi Choice of Woolworths kan kry nie.

Henri ·

Stem heelhartig saam. Gaan definitief ‘n besparing meebring. Net ‘n kwart van die huidige werkergetal is nodig vir dieselfde produktiwiteit en geen agent kostes nie. Wen Wen situasie

HEVW ·

Met al die papbroekigheid, tegemoedkomings en ter wille wees van het die staat sy gesag ingeboet en is nie meer instaat om dissipliene toe te pas nie. Die gevolge is ghaos wat die belastingbetaler baie geld uit sak jaag.

Frederiks ·

Siener het gesê hul sal ALLES verwoes. Dit sluit universiteite in.

Tommie ·

Chris Hart se kommentaar is korrek. “Entitlement” word elke dag ervaar! Die artkel bewys dit.

Louise ·

As hulle nie vir daai geld wil werk nie.
Betaal hulle af, daar is oor as genoeg mense met werk wat tog te dankbaar sal wees vir werk.
Maar dis omdat mense met werk en KOS op hulle tafels wil vraat skiet dis die wat daar soveel mense afbetaal moet word en sonder werk sit.
As n maatskappy se inkomste net soveel is kan n maatskappy net soveel betaal en as die werkers wil meer vereis moet daar mense afbetaal word om vir hul meer te kan gee.
Dis die wat ons land in die gemors sit want dit word toegelaat.

Louise ·

En ek is seker die Unie sal die saak verloor as die werkgewers daarheen gesleep word.
Want met beskadiging van eiendom en om mense se lewens in gevaar te stel word so werknemer dadelik ontneem van hul pos.

Takkie Takuuza ·

Hierdie is nou tipies een van daardie gevalle waar die dienste uitgekontrakteer word aan ‘n sogenaamde bemagtigings maatskappy en die voorheen benadeelde baas vat die geld en betaal die werkers peanuts. Plaas betoog hulle teen hulle base, maar nee dis mos die universiteit se skuld. Hoe kan jy iemand probeer dwing om mense in diens te neem, seker net in SA. Hierdie sirkus is lankal nie meer snaaks nie, dis hartverskeurend.

Hester ·

Ek stem Takkie. En hoekom moet als verwoes en beskadig word as mense nie hul sin kry nie. Besef hulle nie dat al die skade baie geld kos en wie moet vir die skade betaal? Daar is baie mense wat werk soek en bly sal wees vir die salaris.

chrisp ·

Byt net so bietjie vas .
Soos die rand nou val is R10,000.00 aan die einde van die jaar haalbaar en dit sal nog minder werd wees as die geld wat hulle tans kry.
Maar daar is nog beter nuus einde van volgende jaar kry julle R20,000.00 wat nog minder werd gaan wees as die jaar se R10,000.00.

Lekke man lekke.

Annatjie Bezuidenhout ·

Al die baklei en vernietiging en skade wat aangerig word! Ons bly op die Platteland, En daar moet jy werk vir R1500 tot R3000pm. Ons betaal net soveel vir kos en klere. Blyplek is baie duur. Hoe nou gemaak? Ons staak en baklei nie, want as ons,
ons werk verloor, sit ons sonder inkomste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.