Betogers maak amok by Bronkhorstspruit-hof

Die polisie buite die hof in Bronkhorstspruit. Foto: Rorisang Kgosana, @therealrorisang op Twitter

Die polisie moes Dinsdag van skokgranate en rubberkoeëls in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, gebruik maak om ʼn groep ontstoke inwoners uit mekaar te dryf wat amok by die plaaslike landdroshof gemaak het.

Die groep het buite die hof betoog waar Jacobus Potgieter (34), ʼn boer, en Heinrich Dumas (48), ʼn plaasbestuurder, verskyn het op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen.

Potgieter en Dumas is op 10 September vanjaar in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ʼn dag tevore ʼn negejarige meisie aangerand het. Volgens plaaslike EFF- en ANC-ondersteuners het die meisie en drie vriende die Saterdag met hul honde gaan stap toe die honde glo in die beskuldigde se plaas ingehardloop het. Die vier het die honde agternagesit, waarna die beskuldigdes hulle glo gejaag het.

Daar word beweer die negejarige meisie is gevang, aan ʼn boom vasgemaak, aangerand en ʼn geweer is op haar gerig voor sy vrygelaat is. Die ander drie kon daarin slaag om weg te hardloop.

Tydens Potgieter en Dumas se borgtogaansoek het dit aan die lig gekom dat daar glo gereeld op die plaas, wat omhein is, onwettig gejag word. Skote is geskiet om die honde te verjaag, die meisie is gevang en die ander kinders het weggehardloop. Die meisie het glo aan die beskuldigdes erken hulle het springbokke gejag en sy is gewaarsku om dit nie weer te doen nie, waarna sy laat gaan is.

Potgieter en Dumas is aanvanklik in September borgtog geweier, waarna die saak tot Dinsdag uitgestel is. Hul regsverteenwoordiger, Antonie Venter, het egter intussen teen die borgtoguitspraak geappelleer en borgtog van R3 000 elk is in Oktober in die hooggeregshof in Pretoria aan Potgieter en Dumas toegestaan.

Die betogers het Dinsdag oproerig geraak toe hulle uitgevind het dat Dumas en Potgieter reeds op borgtog vrygelaat is en het aangedring dat die twee weer in hegtenis geneem word.

“Die betogers het gewelddadig geraak en die openbare orde polisie moes ingryp,” het kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Masondo het gesê aanvanklik is ses mense in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld. “Daar is later vasgestel dat een van hulle nie met die geweld verbind kon word nie en die persoon is vrygelaat. Aanklagte teen drie van die oorblywende vyf is voorlopig laat vaar en twee mense is op borgtog van R200 vrygelaat op waarskuwing om Woensdag in die landdroshof te verskyn,” het hy gesê.

Masondo het gesê teen Woensdag was die situasie in die dorp kalm. Die polisie is egter op hoë gereedheid en monitor die situasie.

Potgieter en Dumas se saak is tot 13 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannetjie Harvie ·

Hoekom betoog hulle, wie se skuld is dit dat die boere so optree? Ek se weer, was ek n boer en ek vang jou op my plaas sonder toestemming, sal jy nie weer my plaas verlaat nie, maak nie saak wie jy is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.