Die inhoud en foto in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.
’n Perd is dood en nog perde beseer nadat betogers van ’n plaaslike informele nedersetting Donderdagoggend op die Fairview-renbaan in Port Elizabeth toegesak en die perde op die perseel losgelaat en leed aangedoen het.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het aan Maroela Media gesê ’n groep van tussen 150 en 200 betogers het vroegoggend die slotte van die perdestalle oopgebreek en 28 perde met geweld uitgejaag.
“Die perde het in alle rigtings gehardloop terwyl hulle met stokke en klippe geteister is. Een perd is ongeveer ’n kilometer verder in ’n opening naby die huise dood aangetref. Daar word beweer dat die dier met skerp voorwerpe gesteek en aangerand is.”
Al die perde kon intussen opgespoor word nadat van dié diere aanvanklik vermis was. Die perde wat in die voorval beseer is, word tans deur die plaaslike Bond teen Wreedheid teenoor Diere in Port Elizabeth versorg.
Volgens Naidu is die presiese rede vir die betoging nie in dié stadium aan die polisie duidelik nie.
’n Saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom is intussen aanhangig gemaak.
Meg Wilson, ʼn woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), het aan Maroela Media bevestig dat dié organisasie ook strafregtelike klagtes gaan indien.
Volgens Wilson is die NDBV uiters geskok deur die voorval. “Die diere is nie net seergemaak nie, maar ook rondgejaag en verwilder. Dit is alles oortredings van die Dierebeskermingswet.
“Dit is onaanvaarbaar dat diere moet boet vir ’n [dispuut] tussen mense.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Hoekom is niemand in hegtenis geneem nie? Watter verskoning vir ‘n mens maak onskuldige diere dood of seer? Skokkend!
Die onskuldige perde moet nou seerkry omdat die klomp geen liefde vir diere het nie en net maak soos hulle wil.Arme dier.Wens ek kon daar wees om die diere na veiligheid te kry.Wat het die diere aan die mense gemaak ??
Siek siek siek
Regtig belaglik, wat wil hulle daardeur bereik?
Dis so onnodig! Geen mens maak ‘n dier seer nie! My hart is stukkend ek kan nie glo mense doen dit nie… Betoog vir wat? Dit regverdig nie die gedrag nie
Maroela hou ons op hoogte asb!