Betogers met rubberkoeëls verjaag by Jhb-skool

Argieffoto

Argieffoto

Betogers buite Roodepoort Primary School in Johannesburg is Dinsdagoggend beseer toe polisie rubberkoeëls afgevuur het in ʼn poging om die skare uiteen te jaag.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê minstens vyf mense is na ʼn plaaslike hospitaal vervoer om behandel te word.

Kapt. Doniah Mothutsane, woordvoerder van die polisie, het gesê gemeenskapslede het van 06:30 voor die skool saamgedrom en probeer verhoed dat leerders op die busse klim wat hulle na Lufhereng Primary School sou vervoer.

Die Gautengse departement van onderwys het Maandag gesê dat Roodepoort Primary School tydelik gesluit sal wees weens die voortslepende onluste en onderbrekings by die skool. Die leerders en onderwysers is na Lufhereng Primary School verskuif en word elke oggend vanaf ses verskillende punte na die skool vervoer.

Ontstoke inwoners was Dinsdagoggend egter vasbeslote om hierdie reëling te ontwrig en geweld het tussen die betogers en die polisie uitgebreek. “Rubberkoeëls is afgevuur om die skare uitmekaar te jaag en die geweld stop te sit. Die betogers het die skoolperseel probeer betree en die leerders verhoed om op die busse te klim,” het Mothutsane gesê.

“Die polisie kon daarin slaag om die kalmte te herstel en die busse is deur polisiemotors na Lufhereng vergesel. Die situasie is in hierdie stadium stabiel en die polisie sal op die toneel bly om dit te monitor.” Sy het ook gesê daar het Dinsdagoggend nog ouers voor die skool saamgedrom nadat die leerders weg is.

ʼn Taakspan is oor die naweek aangestel wat bestaan uit godsdienstige en gemeenskapsleiers wat as bemiddelaar tussen die skool en die gemeenskap moet optree om ʼn volhoubare oplossing vir die inwoners se probleme te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marlene Markgraaff-Koekemoer ·

Hoe kan rubberkoeëls op ouers gebruik word?? Net so dodelik as lewendige amunisie.
Daar is sekerlik ander metodes wat gebruik kan word, eg. traangas vir starters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.