‘Betogers’ teiken Modimolle-burgemeester; skole sluit

Die polisie by 'n groep betogers in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA-verteenwoordiger)

Die polisie by ‘n groep betogers in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA-verteenwoordiger)

Die burgemeester van Modimolle (Nylstroom), Elizabeth Lekalakala, se huis is Dinsdag in die vroeë oggendure deur ʼn groep beweerde betogers beskadig te midde van spanning in die gebied oor ʼn gebrek aan water.

Die spanning het veroorsaak dat verskeie skole en ondernemings Dinsdag hul deure moes sluit. Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het gesê die aanval het tussen 24:00 en 02:00 plaasgevind.

“Die eiendom is deur ʼn verskeidenheid voorwerpe beskadig. Die hek se ligte is stukkend geslaan, elektriese kabels is afgesny en die hek is vol duike geslaan,” het Otto gesê. “Niemand is tydens dié voorval beseer nie en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Otto het gesê die hoofpad tussen Phagameng en Modimolle is met bande wat aan die brand gesteek is, boomtakke, vullis en klippe versper.

“Daar was ook pogings om die R101 tussen Modimolle en Naboomspruit te versper, maar die openbare-ordepolisie het dit reeds opgeruim en altesaam 14 mense is in hegtenis geneem.” Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Sy het gesê teen sonsopkoms het groepe mense steeds in Phagameng rondgestaan. “Die situasie is steeds gespanne.”

Maroela Media het verneem die polisie moes van rubberkoeëls en traangas gebruik maak om die skare in bedwang te kry.

Intussen het skole en ondernemings in Modimolle gesluit nadat gerugte versprei het dat betogers weer na die dorp gaan opruk.

“Die meerderheid leerders het vandag by die huis gebly nadat ons gister gehoor het van die betoging. Daar het ʼn paar leerders vandag opgedaag, maar ons het hul ouers versoek om hulle te kom haal. Net die personeel is tans by die skool,” het Violet Tredway, ʼn sekretaresse by Laerskool Eenheid, aan Maroela Media gesê.

ʼn Sekretaresse van Hoërskool Nylstroom het ook aan Maroela Media bevestig dat daar nie leerders by die skool is nie, net kernpersoneel. “Ons is met die ouers op ʼn SMS-stelsel in verbinding en hoop dat alle bedrywighede môre soos normaalweg sal voortgaan.”

Maroela Media het Vrydag berig inwoners van Phagameng, buite Modimolle, betoog onder meer oor ʼn tekort aan water. Betogers het toe tydens ʼn beskermde optog na die munisipaliteit opgeruk om ʼn memorandum te oorhandig. Die optog het egter handuit geruk en die polisie moes in ʼn stadium met rubberkoeëls op betogers skiet om hulle in bedwang te bring.

Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle-munisipaliteit, het Vrydag aan Maroela Media gesê die munisipaliteit is bewus van die waterprobleem in Phagameng. “Die Donkerpoortdam is slegs 32% vol en daar is al die afgelope twee maande probleme met die watertoevoer na veral uitbereiding agt en nege van Phagameng,” het Shika gesê. “Soms is die aanvraag na water meer as wat verskaf kan word en dan loop die reservoir gereeld leeg. Die munisipaliteit verskaf gereeld water met tenkwaens.”

Hy het gesê die munisipaliteit werk saam met Magalies Water om vier boorgate in die omgewing te boor om beter waterverspreiding te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Takkie Takuuza ·

En as die dam leeg is en die winkelrakke leeg, gaan ons seker die dam en die winkel brand. Soos ‘n hond wat sy stert byt oor die stert waai as gevolg van die vlieg wat op hom sit oor die hond reg langs sy hok getjorts het.

sannie ·

Hahaha Takkie baie goed gestel. Ek het so lekker gelag weer gelees en ja dankie ek voel sommer lus vir die dag!

Thinus Erasmus ·

Ons bly in die buurdorp Naboomspruit / Mookghopong, ons uitbreiding kry omtrent nooit water nie, net soms in die nag en soms vir dae niks. Meeste mense moes watertenks oprig sodat jy water in die nnag kan vang.
Ook die ou swart woongebied het dieselfde probleem, maar hul kon nie watertenks koop nie.
Die rede is die nuwe swart woonbuurt kry voorkeur op water (heeldag beskikbaar) want anders stop hul riool en dan gaan die hele dorp se riool staan. Die nuwes het die oues se water gekry, daar word mos al te lekker uitgebrei en beloftes gemaak ten koste van die huidige gebruiker. Dis net baie jammer dat die nuwes nie betaal soos die oues nie.

Griki ·

Ja, die broodnodige geld wat in die staatskas moes wees vir krisistye soos hierdie is vermors en gesteel deur die ANC-regering. Hulle moet nou maar die slae vat. Hoop hulle stemvee besef dit.

Johan ·

Griki. Die ANC gaan nie die gevolge dra en ‘die pakslae moet vat’ soos jy redeneer nie. In Afrika vat geen regering die ‘pakslae’ vir sy swak regering nie. Dink bietjie wie dra die gevolge van ‘n swak regering? Die gewone mense… ek en jy en die volgende burger! Ek wens mense soos jy wil uit jou ‘veilige’ huis uit stap… jou oë oopmaak en besef jy is nie veilig nie… dis nie ‘n fliek wat voor jou afspeel nie!

Wat-ek-lees ·

Kom stemdag dan stem ons wéér dieselfde want hulle moét regmaak wat hulle verbrou (het).
Stem ons téén hulle en hulle is nie meer aan bewind dan kan hulle mos nie regmaak wat hulle opfoeter.
Dis so eenvoudig soos dit is.

Hein ·

Ek verstaan ook nie die kiesers nie. Hoekom stem hulle nie die beherende party uit in die verkiesing nie. Dieselfde geld vir die universiteite. Die meerderheid is in beheer en waarom het hulle nie die universiteite laankal omskep nie? Dit is beslis nie die minderhede wat in hulle pad staan nie. Mieskien is dit hoe standaarde wat in hulle pad staan…

EUGENE ·

Ek kan net eenvoudig geensins verstaan hoe ‘n regering kan terugsit en kyk hoe ‘n lot vernielsugtige kriminele alles en almal deig en eiendom vernietig en onskuldiges intimideer nie….en niks maar NIKS word gedoen nie?!

Het ons ALMAL nie ook ‘n reg om vry en veilig te kan en mag rondbeweeg in ons land nie?!
Het ons ALMAL nie die reg om te mag studeer nie…veral nadat ons of ons ouers lenings moes aangaan om wel die voorreg te kan smaak om te studeer nie?!

Johan ·

Eugene. REGTE is geen waarborg as iemand dit nie waarborg nie. Geen grondwet waarborg REGTE nie. Net ‘n regering wat die grondwet toepas kan so ‘n waarborg wees. In SA gee die regering niks om vir die grondwet nie. JOU REGTE BESTAAN NIE. Dis ‘n illusie van valse vrede. Op die oomblik leef ons almal weens VOORREGTE, want geen REG word meer gewaarborg nie. Tel al jou seëninge om jou…

Eugene ·

Eina Johan!
Maar dog hartseer-waar….

Net uiters verwarrend en teleurstellend dat sekeres se “regte” wel om elke hoek en draai beskerm [en selfs “gewaarborg”] word….en ander word oorgelaat aan hulle eie genade of so iets….

Daan ·

Ek het regtig simpatie met die mense. Water is lewe. Nylstroom se water kom uit Leshotho. Dit moet net versprei word. Ongelukkig help praat nie. Net geweld lok reaksie uit.

Flintstone ·

Maroela media-wat van Sabie?Enige nuus rakende die totale aneksering van daardie dorp?Die goyim is in opstand en deur die media se stilswye word die werklike intensiteit van stedelike en landelike terrorisme gesmoor.

Rudolph van Wyk ·

Die inwoners van Phagameng het nie maar net een oggend wakker geword en besluit kom ons gaan brand die dorp af nie. Hulle optrede is die gevolg van maande se frustrasies met water wat oor kook en dan ook uitgebuit word deur kriminele elemente. As die regering sy werk doen, sy beloftes nakom en in voeling bly met die gemeenskap sal hierdie dinge nie gebeur nie. Hulle word net soos ons in die steek gelaat. Hulle het egter minder insig, opsies en middele as ons om iets daaraan te doen. Hoe magteloos en gefrustreerd moet ‘n mens voel om tot sulke dade oor te gaan! Nou word daar van ons oorwerkte, onderbetaalde polisie verwag om op te tree teen die betogers wat in die eerste plek nie nodig sou gewees het as die regering sy werk gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.