Betogers trek weer saam op Vredenburg

Wetstoepassers moes gister ’n wakende oog hou terwyl deelnemers aan ’n onwettige optog na Vredenburg se middedorp opgeruk het. Foto: Verskaf

Die situasie in ’n informele nedersetting en HOP-buurt op Vredenburg aan die Kaapse Weskus is steeds gespanne terwyl ʼn groot groep mense Woensdagoggend saamgedrom het om blykbaar met nog ʼn onwettige optog na die dorp te begin.

Die polisie, brandweer en Saldanhabaai-munisipaliteit se wetstoepassers is reeds gisteroggend ontplooi om ʼn onwettige optog na die munisipale kantoor in die middedorp te beheer nadat oproerige inwoners van die plakkerskamp George Kerridge en Hopland aan die buitewyke van die dorp daarheen wou opruk. Die betogers is in die dorp voorgekeer en gedwing om uiteen te gaan.

Die R45 vanaf die R27-Weskuspad na Vredenburg moes gesluit word toe die betogers daarlangs gestap en buitebande aan die brand gesteek het. Ook die Hoofstraat was in ʼn stadium Dinsdag toe vir verkeer terwyl sakeondernemings gesluit was om werknemers teen moontlike geweldpleging te beskerm.

Die voertuigregistrasiesentrum is Woensdag gesluit weens ʼn tekort aan personeel nadat diegene wat in George Kerridge woon, verhoed is om werk toe te kom.

Ethne Julius, Saldanhabaai-munisipaliteit se kommunikasiebeampte, het Woensdag gesê die voertuigregistrasiesentrum is gesluit weens ʼn tekort aan personeel nadat diegene wat in George Kerridge woon, verhoed is om werk toe te kom.

Die Hoërskool Louwville het besluit om alle eksamens wat vir Woensdag beplan was, tot Donderdag uit te stel, sê Julius.

Die munisipaliteit, wat ook dorpe soos Saldanha, Langebaan, Hopefield en St. Helenabaai insluit, vra inwoners en besoekers aan Vredenburg om steeds op hul hoede te wees. Diegene wat per SMS op die hoogte van gebeure gehou wil word, kan hul naam, adres en selfoonnommer aan [email protected] stuur.

Petra Mei, kommunikasiebeampte van die burgemeester, Marius Koen, het gister aan Maroela Media gesê die onwettige optogte handel grootliks oor behuising, maar die betogers is ook ontevrede oor ʼn beweerde gebrek aan dienslewering in die algemeen en dring aan op werkgeleenthede.

Sy het gesê Koen het sowat vier weke gelede ʼn vergadering met gemeenskapsleiers van die informele nedersetting gehou waartydens hy hulle verseker het die munisipaliteit doen alles in sy vermoë om goeie dienslewering aan alle inwoners te verseker.

Mei het gesê dit lyk asof sommige inwoners intussen ongeduldig geraak en gister se optog gereël het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

onwetiglike betogers, wat gaan aan hulle gedoen word, hulle is ONWETTIG daar
ON beteken nie
WETTIG beteken wetlik reg
ONWETTIG beteken daar is nie toestemming tot iets gegee nie
verstaan die polisie nie die woord ONWETTIG nie
hulle is wel gedwing om uiteen te gaan, wat van die skade aan die infra struktuur wat aangerig is

Pierre ·

Hulle nog steeds daar want die busse wat hulle ingebring het, het hulle nog nie weer kom haal nie. (Of die busse dalk erens uitgebrand nou.) Gaan kyk maar na die wat gearresteer is, se adresse.

D B ·

Mooi Pierre, lag ek nou lekker, net jammer dis waar.

Julle is by die see, waterkanon die goed, wat ons almal weet hoe lief hulle vir water is.

jan ·

NOG STEEDS BELOFTES WAT NIE NA GEKOM WORD NIE. MAAR AS DAAR GESTEM WORD,STEM DAARDIE MENSE VIR ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.