Betogers vas wat paaie versper

Die N3 tussen Harrismith in die Vrystaat en Montrose in Pietermaritzburg was Dinsdag steeds deur ʼn groep van sowat 30 vragmotorbestuurders versper. (Foto: Facebook / Long distance truckers)

Die polisie het Dinsdag agt betogers in hegtenis geneem wat paaie op die N3 buite Harrismith in die Vrystaat met vragmotors versper het.

Die inhegtenisnemings volg nadat die betogers, vermoedelik vragmotorbestuurders, geweier het om die betrokke vragmotors te skuif sodat ander motoriste die pad kan gebruik.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte dat hulle die nasionale verkeerswet oortree het. Hulle word ook van openbare geweld aangekla.

Maroela Media het vroeër berig dat gegriefde vragmotorbestuurders tussen Sondag en Dinsdag verskeie hoofpaaie in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap versper het weens hul ontevredenheid oor die aanstel van buitelandse vragmotorbestuurders. Die betogers meen Suid-Afrikaners word sodoende van werksgeleenthede ontneem.

Die betogings het grootskaalse verkeersopeenhopings veroorsaak.

Die polisie is Dinsdag na die toneel in Harrismith ontbied waar hulle tevergeefs probeer het om met sowat 30 betogers te onderhandel. Die betogers is gevolglik beveel om die vragmotors te skuif sodat motoriste die pad kan gebruik.

“Hulle het ongelukkig nie geluister nie en met die sleutels van die vragmotors weggestap,” sê brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder.

Volgens Makhele moes insleepdienste die polisie help om die vragmotors uit die pad te verwyder.

Die situasie in die Oos-Kaap is egter Maandag ná suksesvolle onderhandelings tussen onder andere Fikile Mbalula, minister van vervoer, en die vragmotorbestuurders ontlont.

Die minister en ander rolspelers het ook ʼn memorandum van die betogers aanvaar en ʼn ooreenkoms geteken.

As deel van dié ooreenkoms het die betogers die vragmotors, wat die N9 en M10 versper het, teen 06:00 Dinsdagoggend verwyder.

Betogers naby Harrismith het ook daarop aangedring om die minister te spreek, maar dit het nie gebeur nie.

Intussen was ʼn vragmotor Dinsdagaand op die N12 in Johannesburg in vlamme gehul. Dit is egter in dié stadium onduidelik of dit met enige betogings verband hou. Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag nog op terugvoer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

AW ·

Enige mens in SA kan Gearresteer word!

Die Vraag is, sal daar n Sukses volle Verhoor wees??

Want Onthou, Die oor meerderheid mense wat deur die Polisie gearresteer is of word, is ALTYD Onskukdig !!

Bitter selde, dat n persoon sal erken en beken dat hy of sy deel is of was van sulke onluste !!

Misky ·

Daai vragmotors wat gebruik is om die paaie te versper, moes geskut word. Daai drywer sal baie vinnig boete betaal of 2x dink voor hy dit weer doen as sy baas hom vra waar is sy trok en die vrag

Kokerboom ·

Kan ons tog ons land terugkry sonder betogers, boewe, skelms, kaders, verkragters, rassiste, onwettige immigrante, vernielsugtiges, bendes, gierigaards en politici ASB ? Bly maar ‘n ” pipe dream” maar ons mag maar droom!!!

Andre ·

Jy vergeet van hoofstroom media wat sê waarvoor mens moet bang wees en die land verarm.

Mariana ·

Dan vra hulle hoekom SA trokdrywers nie werk kry nie, want dit is wat hulle doen. Wie wil iemand in diens neem wat sy voertuig en vrag so hanteer. Trokdrywers is reeds skaars en mens sou dink hulle wil net hul werk doen en inkomste verdien.

jzjz05 ·

Beslis jy is reg, wie wil sy voertuig aan iemand toevertrou wat dit vir betoogings wil gebruik wie se skade is dit as daardie voertuig iets oorkom.

Jakes ·

Die eienaars van die vragmotors moet summier hul drywers afdank wat gestaak het en hul werk gee aan buitelanders wat wil werk.

SjN ·

Kry net opgeleide polisiemanne met honde, sal sien hoe vinnig verwyder hul die trokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.